“Wie was hierdie Danie Theron?” vra die jong joernalis aan my. Ek skat haar nog nie 25 nie. Sy voer met my ’n onderhoud vir ’n artikel oor hoe die Afrikaner sy verlede sien.

Sy het haarself voorgestel as “’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wat nie meer ’n Afrikaner is nie”. Haar aanslag is hard en aggressief en sy is blykbaar baie haastig.

“Vir 350 jaar lank was almal in die wêreld vyandig gesind teenoor Afrikaners en teenoor hulle onregverdige beleidsrigtings,” begin sy haar onderhoud. Daarna spreek sy ongevraag haar irritasie met Bok van Blerk se De la Rey-lied uit.

Sy is ’n tipiese produk van die “nuwe politiek” waar hierdie soort stellings gereeld in die parlement en in die media herhaal word. Al haar vrae daarna word op hierdie stelling gebaseer.

“Daardie aanvanklike stelling van jou — is net nie waar nie,” reageer ek versigtig. “Daar was lang tydperke in ons geskiedenis waar groot dele van die wêreld baie simpatie met Afrikaners gehad het, tye waar ons die morele hoë grond gehad het,” voeg ek by.

Ek vertel haar van die buitelanders wat die Boere in die Anglo-Boereoorlog kom help het en die Rus wat ’n lofrede by Danie Theron se graf gehou het, terwyl die trane oor sy wange geloop het.

Dit is na aanleiding hiervan dat sy vra: “Wie was hierdie Danie Theron?” 

Ek verwys haar na Danie Theron se 25-meter hoë monument wat prominent langs die N12-nasionale pad staan waarlangs sy vanoggend vanaf Johannesburg na Potchefstroom gery het. Soos die joernalis weet meeste jongmense nie wie Danie Theron was nie. Ek kan hulle ook nie kwalik neem nie want in die skole word nou ’n ander geskiedenis geleer. ANC-toesprake en mediaberigte skep verder die indruk dat Afrikanergeskiedenis net sleg en negatief was.

“Wat het hy gemaak dat ’n monument vir hom opgerig is?” vra sy — nou opreg belangstellend.

“Die monument is opgerig op die plek waar hy in die Anglo-Boereoorlog dood is,” begin ek verduidelik.

Hoe vertel ’n mens ’n geskiedenis-storie aan ’n jong, moderne dame, sonder om haar te verveel? wonder ek.  Hierdie geslag wat nie graag lees nie en net met televisie grootgeword het.

 “Danie Theron was ’n yuppie en celebrity,” probeer ek in haar wêreld inkom.

Soos ’n moderne celebrity was hy in die media bekend en deur die mense van sy tyd bewonder. Sy tyd was die Transvaalse Republiek van Paul Kruger — kort voor die Anglo-Boereoorlog.

Hoe lyk die stereotipe prentjie wat sy van ’n Boer uit daardie tyd sal hê? Iemand met ’n baard wat sy lewe van boerdery maak — ietwat onverfynd. Hy is nie geleerd nie en stel nie in sake buite sy wêreld belang nie. Vir ontspanning speel hy jukskei en dans Oujaarsaand op konsertinamusiek.

Danie Theron was heeltemal anders. Hy was aantreklik, afgerond, intelligent en geleerd — ’n jong dinamiese Afrikaner prokureur van Krugersdorp wat Engels vloeiend sonder ’n aksent gepraat het. Hy het gereeld die Engelse koerant The Star gelees omdat hy in die wêreldpolitiek belanggestel het. Met sy gladgeskeerde voorkoms het hy vir ontspanning tennis gespeel op Christiaan Neethling se plaas Eikenhof, net buite Johannesburg.

Danie Theron, boereheld en “celebrity” van sy tyd. Hy het bekend geraak nadat hy in die emosionele tyd voor die Anglo-Boereoorlog ’n Engelse koerantredakteur, wat negatiewe berigte oor die Afrikaners geskryf het, ’n vuishou gegee het.

Danie se tennis speel was nie so onskuldig nie. Christiaan Neethling se dogter Hannie, ’n brunet met donker oë en blosende wange, het ook tennis gespeel. Sy was nie net mooi nie, maar ook begaaf. Anders as meeste meisies van haar tyd, het sy musiek en sang gestudeer aan die Rynse Instituut van Stellenbosch. Saterdagaande na tennis het die jongmense Duitse, Engelse en Afrikaanse liedjies gesing terwyl Hannie hulle op die klavier begelei het. Dit was voor iPods, radio’s of CD-spelers.

Onder die groot Eikeboom voor die huis het Danie en Hannie verloof geraak. Danie se romantiese geaardheid blyk uit die tennisraket wat hy aan Hannie as geskenk gegee het. Tergend het hy op die raket geskryf: “Hierdie raket is deur die gewer getoor.”

Na ’n tenniswedstryd het Hannie nie lekker gevoel nie. Die naweek het sy so pap gevoel dat gevra is dat Danie nie moet kom kuier nie. Maandag 29 Augustus 1898 is Hannie onverwags dood. Dubbele longontsteking was die dokter se bevinding. Danie was verpletter en ontroosbaar. Die toekoms was leeg en sonder hoop.

Die begrafnisgangers het vertel hoe Danie na afloop van die begrafnis net omgedraai en die veld ingestap het. Later het hy as laaste liefdesdaad eiehandig ’n paar boompies om haar graf geplant waar hy baie keer net stil kom sit het. Hy onderneem teenoor homself dat hy elke jaar rondom 29 Augustus haar graf sou besoek.

“Hoe het Danie Theron dan ’n bekende in die media van daardie tyd geword? Om jou verloofde te verloor, maak nie van jou ’n celebrity nie,” sê-vra die joernalis.

Dit was net enkele maande voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Die Johannesburgse Engelse koerant The Star het begin om die politieke klimaat voor te berei vir oorlog teen die Boere en ten gunste van Britse kolonialisme. Daarvoor word mnr. Moneypenny, ’n nuwe giftige anti-Boere redakteur, spesiaal uit Brittanje ingevoer.

Skaars nege maande na Hannie se dood, skryf Moneypenny  oor die vuil, onhigiëniese, onopgevoede en agterlike boerevrouens van Paul Kruger se republiek. Moneypenny is maar twee maande in die land. Die berigte maak Danie woedend. Sy Hannie was ook ’n vrou van die republiek!

Toe The Star weer ’n negatiewe berig oor die Boere skryf[1], kan Danie dit nie meer hou nie. Hy neem die trein van Krugersdorp na Johannesburg en konfronteer vir Moneypenny. Toe Moneypenny nie om verskoning vir die berig wil vra nie, verloor Danie sy humeur en slaan hom met die vuis op sy oog.

In die hofsaak wat daarop volg, verdedig Danie Theron homself. Die hof sit vol Afrikaners wat Theron ondersteun.

“Hoe lank duur die treinreis van Krugersdorp na Johannesburg?” vra landdros van den Berg aan Theron.

“’n Uur en ’n kwart,” antwoord hy.

“Het jy nie afgekoel in daardie tyd nie?” vra die landdros.

“Afgekoel? Nee, Edelagbare, hoe nader ek aan Johannesburg gekom het, hoe warmer en kwater het ek geword.”

Landdros Van den Berg moet tydens die hofsaak die mense in die hof berispe wat “bravo” skreeu terwyl Theron vir Moneypenny ondervra.

Theron word skuldig bevind en met 20 pond beboet. Vandag is dit ’n paar duisend rand. Die opgesweepte teenwoordiges samel binne tellings 25 pond in. Die surplus is aan die hospitaal geskenk. Die Suid-Afrikaanse koerante en selfs die London Times skryf oor die gebeure. Theron is skielik bekend en ’n held in baie se oë.

Tydens die Anglo-Boereoorlog voer Danie Theron verskeie roekelose heldedade uit. Mense lees en praat graag oor hom. Hy tree doodsveragtend op – so amper asof hy na Hannie se dood nie omgee as hy self iets oorkom nie. Aan sy manne het hy gesê dat hy asseblief langs Hannie begrawe wil word  — as die ergste sou gebeur.

Van sy roekelose heldedade sluit in ’n ete saam met Britse offisiere in hulle kamp waar hy hom as ’n Britse offisier – Captain James — voordoen. Aan tafel word die gevaarlike Theron bespreek. Met sy vertrek laat hy, soos ’n wafferse Arsene Lupin, ’n briefie agter waarin hy spog dat hy die gevaarlike Theron is.

Met die slag van Paardeberg kruip hy tien tree van die Britse wagte verby om ’n boodskap aan die omsingelde genl. Piet Cronjé  te gee.

By ’n geleentheid ry hy en ’n paar vriende tussen die Britse wagte deur om by sy oom in die besette Roodepoort te gaan kuier. Deur twee-twee met hulle perde in gelid deur die strate te ry en Engels met mekaar te praat, stop die Engelse hulle nie. Terwyl hulle in Roodepoort is blaas hulle sommer die treinspore by die stasie op en ry daarna doodluiters twee-twee langs mekaar die dorp uit.

“Dit is die Danie Theron waarvan ek praat,” verduidelik ek aan die joernalis.

Omdat ek bang is dat ek haar tyd mors met ’n te lang storie sê ek: “Jy kan nou maar jou ander vrae vra”.

Sy lyk nie meer so aggressief nie en is ook blykbaar nie so haastig nie. Sy sit die bandmasjien af.

“Hoe is Danie Theron dood en waar pas die huilende Rus dan in?” vra sy.

“Dit was 5 September 1900, kort na die herdenking van Hannie se dood. ’n Mooi lentedag,” vertel ek verder.

Die Boeregeneraals was so beïndruk met Danie Theron dat hulle hom in bevel geplaas het van sy eie korps uitgesoekte manne. Vandag sal hulle as spesiale magte bekend staan.

Danie het die manne vir sy spesiale korps self uitgekies. Behalwe vir die Afrikaners en Engelse wat hy gekies het, weet min mense van die uitlanders wat deel daarvan was. Die uitlander-element het bestaan uit vier Russe, ‘n Ier, ‘n Bulgaar, ’n Griek, ’n Turk, ’n Algerynse Arabier, Duitsers en verskeie Hollanders – waaronder ’n Mulder.[2]

Hulle was almal blindelings lojaal aan hom en het sy vermoëns aanbid. Met deernis het hulle hom Cappy genoem. Die uitlanders was almal vrywilligers wat simpatie met die Afrikaner-Boere gehad het. Hulle het kom help om Brittanje, die wêreld se supermoondheid en boelie van daardie tyd, op sy plek te probeer sit.

In Augustus 1900 was die Theron Verkennerskorps, soos hulle bekend was, baie suksesvol in die Vrystaat en ’n erge kopseer vir die Britte. Kort voor die herdenking van Hannie se dood neem Danie Theron sy manne in die rigting van Johannesburg. Alleen glip hy tussen die Britse soldate deur om by haar graf in ’n besette Eikenhof uit te kom soos hy elke jaar gedoen het. Hy neem ’n kransie saam en vra haar ma om dit op haar graf te sit as hy dalk nie die dag self daar kan uitkom nie.

In die omgewing merk Danie ’n Engelse konvooi op. Hulle is op pad van Johannesburg na Potchefstroom. Hy beplan ’n lokval vir hulle naby Fochville saam met die manne van genl. Liebenberg.

Die lokval word beplan vir die oggend van 5 September 1900. Theron se manne moet aan die een kant van die pad stelling inneem en genl. Liebenberg s’n in die koppies aan die ander kant.

Met die Engelse reeds naby is genl. Liebenberg se manne nog nie daar nie. Danie gaan by die Pienaars se plaashuis daar naby aan om te vra of hulle dalk weet waar genl. Liebenberg is. Niemand weet nie.

Die Pienaar-meisies bewonder die aantreklike Danie en is waarskynlik in die geheim op hom verlief. Die oudste steek ’n roset wat sy gemaak het vir Danie aan. Die roset is in die kleure van die twee Boere Republieke – oranje, groen, rooi, wit en blou.

Danie besluit om bo-op die koppie te klim ten einde te kyk hoe ver die Engelse nog is. Bo-op die koppie loop hy hom vas in vier Britse verkenners. Die verassingselement van die lokval is nou daarmee heen. Hy besluit om die Engelse te probeer vertraag met die hoop dat genl. Liebenberg en sy manne sal aankom.

Man alleen hardloop hy van klip tot klip en skiet 48 skote in die rigting van die Engelse. Dit skep die indruk dat die koppie vol Boere is. Die Engelse kom tot stilstand soos Danie gehoop het. Hulle rig egter nou hulle kanonne op die koppie. Volgens verslae het hulle die koppie so voos geskiet dat niemand dit sou kon oorleef nie. Danie Theron se lyk is bo-op die koppie gekry waar ’n gedeelte van sy gesig weggeskiet is deur ’n kanonkoeël.

Die Pienaar-meisies onder die koppie het hom uitgeken, nie aan sy aantreklike gesig nie, maar aan die roset op sy bors.

Dit is hier, by Danie Theron se begrafnis, waar die groot Rus met ’n bewende stem ’n huldeblyk gebring het terwyl die trane in sy ruwe baard in geloop het. Hoewel niemand sy Russies kon verstaan nie, was die betekenis van sy woorde duidelik en sigbaar vir almal.

Van tyd tot tyd probeer ons ’n krans op Danie Theron se graf lê ongeveer dieselfde tyd as wat hy jaarliks ’n krans op sy verloofde Hannie se graf gelê het. Die jeug ken nie meer hierdie geskiedenis nie. Hulle kan egter nie daaroor kwalik geneem word nie omdat dit nie meer in die skole geleer word nie.

“Waar is hy toe begrawe?” vra sy.

Omdat Eikenhof op daardie tydstip deur die Britte beset was, was dit nie moontlik om hom langs Hannie te begrawe nie. Na die oorlog in 1904, het sy manne hulle belofte aan Danie nagekom en hom langs Hannie in Eikenhof herbegrawe. Die twee grafstene is vandag nog daar — Danie en Hannie so langs mekaar. Ek het dit al ’n paar keer besoek.

Die joernalis is sowaar aangedaan. Dit was nie my doel nie.

Ek wou maar net aantoon dat die hele wêreld nie vir 350 jaar teen die Afrikaner gekant was nie en dat Afrikanergeskiedenis nie vervelig hoef te wees nie.

En wat van Bok van Blerk se De la Rey-treffer?

Leopold Scholtz, verduidelik dit as: “…die versugting van verreweg die meeste Afrikaners om emosioneel oor hul herkoms te wees, om te voel dat hulle deel is van iets groters as hulle. Eenvoudig gestel, hulle wil graag Afrikaners wees, maar dan sonder die verstikkende politieke bagasie wat vorige geslagte daaraan gekoppel het. En in hemelsnaam, waarom nie?”[3]


Hannie Neethling, Danie Theron se verloofde, se graf soos dit vandag daar uitsien in die ou Eikenhof begraafplaas. Danie se graf is langs haar graf, soos hy versoek het.  Op die grafsteen word aangedui dat Hannie op 29 Augustus dood is van “inflamatie in de longen”.

[1] The Star, 21 April 1899.

[2] Danie Theron se uitlander-element het bestaan uit vier Russe (Strolman, Nelborski, Soljenko en Goutshoff), ‘n Ier, ‘n Bulgaar (Kolaroff), ’n Griek (Laveridis), ’n Turk (Marco Sava), ’n Algerynse Arabier (Haman Nasseur), Duitsers en verskeie Hollanders – waaronder ’n Mulder

[3] Leopoldt Scholz, De la Rey dui op iets groters; Waarom altyd “Afrikaner” net koppel aan “rassisme”? Beeld 5/12/2006, p14.