Hoekom was Generaal De la Rey nie by Magersfontein nie?

“Hoe ver is dit nog na die plek waar generaal De la Rey die Britte so ver gewen het,” vra die damesstudent voor in die bus aan my.

“Ongeveer 70 km,” skreeu ek aan haar. Met “De la Rey se plek” bedoel sy waarskynlik Magersfontein. Ek skreeu omdat dit al manier is om bokant die lawaai van die dieselenjin en die harde musiek in die bus, gehoor te kan word.

“De la Rey het beroemd geword vir sy rol by Magersfontein maar hy was nie tydens die geveg daar nie,” probeer ek bo die lawaai aan haar verduidelik.

“Hoe kan hy beroemd word vir ’n geveg waar hy nie teenwoordig was nie,” vra sy nou.

Ek beduie na die raserige enjin en die harde musiek en wys dat ek dit liewer later oor die mikrofoon sal verduidelik.

Ek is saam met ongeveer sestig studente op pad vanaf Hopetown na Kimberley.[1] As deel van ons jeugaktiwiteite neem ons studente na bekende geskiedkundige plekke. Vandag se studentegroep is hoofsaaklik Tukkies, Pukke en Kovsies. Ons het gisteraand op Orania geslaap en is nou oppad na die slagveld by Magersfontein.

Voor ons in die bus geklim het, het die studente luidrugtig die nuwe trefferlied[2] van Bok van Blerk oor generaal Koos De la Rey gesing. Die koorgedeelte “De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei? De la Rey, De la Rey” is ’n regte oorwurm wat aanhou deur jou kop maal. Die studente sing dit uitbundig en met oorgawe terwyl hulle die biere in hulle hande heen en weer swaai.

In die bus speel hulle klipharde Punk-Rock-musiek oor die luidsprekers. Die swart teerpad lê pylreguit voor ons uit. Links en regs van die pad lê die Karoowêreld plat, geel en winter droog tot op die horison. Jy kan so ver vooruit sien dat die wit stippellyne in die verte ’n vaste wit lyn word daar waar dit lyk of die twee skouers van die pad bymekaar kom.

Ek het gisteraand aan een van die studente gevra wat hy van generaal De la Rey weet.

“De la Rey was ’n dapper en goeie generaal wat – so dink ek – in een van die wêreldoorloë vir ons teen die Duitsers geveg het!” antwoord hy.

Die “dapper en goeie generaal”-gedeelte kry hy waarskynlik uit Bok van Blerk se liedjie en die “veg teen die Duitsers” kom beslis van te veel televisie en oorlogsfilms kyk.

Ek kan hom sy gebrek aan kennis nie kwalik neem nie. Al hierdie studente het begin skoolgaan in die tyd na 1994. Dit is die tyd waar die Afrikaner berekend uit die geskiedenisboeke geskryf is. In die Turning Point reeks, wat nou vir geskiedenis in skole gebruik word, is daar net ses reëls oor die aard van die Anglo-Boereoorlog met geen vermelding van enige Boereleier of -held nie.

Dit is om hierdie rede wat ons die jeugaksies loods. Die studente het my gevra om saam te ry en dan oor die bus se luidsprekerstelsel die verskillende Anglo-Boereoorlog-veldslae langs die pad uit te wys. Ek beplan om my kommentaar kort te hou want uit ervaring weet ek dat jongmense nie noodwendig in die geskiedenis belangstel nie.

Die bordjie, “Kimberley 90 km”, flits van voor verby. Regs van ons kan jy nou vir die eerste keer ’n paar plat koppies sien. Dit is Belmont[3] waar van die eerste gevegte tussen Boer en Brit in 1899 plaasgevind het. Ek verduidelik oor die mikrofoon dat die Boere hier verloor het.

Toe ek weer die musiek wil aanskakel, stop hulle my.

“Waarom het die Boere hier verloor?” wil hulle weet.

Ek verduidelik hoe die Boere altyd verkies het om hulleself in koppies in te grawe sodat hulle die vyand van ver kan sien. By Belmont het die Britte eers die koppies met hulle nuwe kanonne voos gebombardeer. Daarna het hulle vir die donker gewag om tot onder die koppies te marsjeer. Die Boere kon hulle hoor aankom maar kon nie sien waar om te skiet nie. Die oggend met skemerlig bestorm die Britte die koppies. Die Boere, wat nie van stormlope met bajonette hou nie en baie minder as die Britte was, moes terugval. Dieselfde patroon is by Graspan[4] gevolg teen generaal Koos de la Rey se burgers.

Nou reën die vrae. Hulle stel werklik belang.

Waar het generaal De la Rey orals geveg? Was generaal De la Rey getroud? Het hy kinders gehad? Hoe is hy dood?

Terwyl ek van die vrae beantwoord, begin groen bome op die horison sigbaar word. Dit beteken ons kom nader aan die Modderrivier waar die slag van Tweeriviere plaasgevind het.[5]

“Kimberley 38 km”, lees die bordjie as ons die brug oor die rivier nader.

Die Boere het hierdie slag gewen danksy generaal De la Rey se nuwe taktiek. Omdat hier nie koppies is nie, het hy die Boere in die rivier laat stelling inneem. Die styl rivierwal het ’n natuurlike loopgraaf gevorm en hulle kon net oor die rand van die wal sien hoe die Britte oor die gelyk vlakte na hulle aangemarsjeer kom. Omdat jy gelyk met die grond skiet, is jou kans beter om iemand in die marsjerende massa te tref terwyl die rivierwal jou beskerm teen die Britse kanonvuur.[6] Vanaf Modderrivier het die Boere teruggeval na Magersfontein.

Ons draai nou regs van die teerpad af. Dit is omtrent 10 km grondpad na Magersfontein toe. Die bus skop ’n wit stofwolk agter op. In die verte begin Magersfontein se koppies sigbaar word. Soos ons nader kom, kan die reuse Keltiese Kruis bo-op die kop gesien word. Die kruis is na die oorlog opgerig ter nagedagtenis aan die groot aantal Skotte wat hier gesneuwel het. Die Highland regimente is amper heeltemal uitgewis. Die opskrif op die monument lui: “Scotland is poorer in men, but richer in heroes.”

Die bus stop by Magersfontein en almal klim uit. By die uitkykplatvorm verduidelik ek hoe die slag verloop het.

Saam met ’n studentegroep by die Magersfontein slagveld waar die Boere ’n reuse oorwinning vroeg in die Anglo-Boereoorlog behaal het. Ek verduidelik De la Rey se nuwe strategie en wys die loopgrawe uit wat tot die oorwinning gelei het.

Generaal De la Rey het voorgestel dat die Boere nie hulleself in die koppies ingrawe nie. By Belmont het hulle geleer hoe die Britte die kanonne op die koppies rig en dan in die donker tot onder die koppies marsjeer. Hy stel voor dat hulle die Modderrivierslag naboots deur voor die koppies slote te grawe waarin hulle beskerm is teen die kanonkoeëls. As die Britte in die nag op die koppies afmarsjeer, soos by Belmont, loop hulle hulle in die loopgrawe vas.

Generaal Piet Cronjé, as die senior offisier, verskil hiervan. Hy wil in die koppies ingrawe. De la Rey stuur ’n boodskap aan president Steyn om die probleem te kom help oplos. Steyn verstaan De la Rey se plan en gee hom gelyk.

Omdat die Britse generaal Methuen by Modderrivier in die boud gewond is, kan hy moeilik perdry en moet hy wag dat dit beter word. In die Britse bronne oor die geveg word daar natuurlik nooit geskryf waar presies die arme generaal gewond is nie! Dit maak dat die Boere amper twaalf dae tyd kry om De la Rey se loopgrawe te grawe.

Sondagmiddag 10 Desember begin die Britse kanonne die Magersfontein koppies, waar hulle aanvaar die Boere is, vir ure onder die bomme te steek. Soos De la Rey voorspel het, is die Boere veilig voor die koppies in hulle loopgrawe. Die bombardement is ’n duidelike waarskuwing dat die aanval daardie nag sal plaasvind.

Kort na middernag begin die Britte in die donker na Magersfonteinkoppies marsjeer. Die beroemde Skotse Black Watch regiment, onder aanvoering van generaal Andy Wauchope, marsjeer voor. Toe dit vier uur die oggend skemer lig begin word, loop die Britte hulle onverwags vas in meer as 8 000 Boere[7] se gelyktydige geweervuur uit die loopgrawe. Omdat dit so naby en so reg voor die Britte is, is die gevolge vir hulle verskriklik. Generaal Wauchope, die Skotse bevelvoerder, is binne die eerste paar minute dood. Van die 25 Skotse offisiere is 18 vroeg dood. Die Britse verliese is baie groot. Die geveg duur die hele dag en die Britte lei ’n verpletterende nederlaag.

Vanaf die uitkykplatvorm kan gedeeltes van De la Rey se 19 km lange loopgrawe nog steeds gesien word. Ek wys aan die studente waar generaal Wauchope dood is en waar die Skandinawiërs, wat aan die Boerekant geveg het, dood is.

Die studente dame wat voor in die bus gesit het, wil meer weet. Sy herhaal die vraag wat sy vroeër in die bus gevra het: “Hoekom word De la Rey as die held van Magersfontein beskou as hy nie hier was tydens die veldslag nie?”

“De la Rey word as die held beskou omdat sy briljante plan van loopgrawe voor die koppies, gesorg het dat die Boere wen. Hoewel hy nie die dag met die geveg hier was nie, het hy die Britte se taktiek perfek reg voorspel,” verduidelik ek.

Sy is nie tevrede nie.

“Waar was generaal De la Rey dan toe die geveg by Magersfontein plaasgevind het?” vra sy nou.

“Die generaal was by sy vrou Nonnie,” antwoord ek haar.

Nonnie De la Rey beskryf in haar boek hoe hartverskeurend dit was om met die uitbreek van die oorlog afskeid te neem van haar man Koos en haar twee seuns, Adriaan en Jacobus wat toe 18 en 16 jaar oud was. Sy beskryf Adriaan as ’n sagte, tere, mooi en liewe kind wat die familie liefdevol Adaan genoem het. Sy het nie gedink hy is vir oorlog bedoel nie.

Agt kinders van Generaal Koos en Nonnie de la Rey. Links agter staan Jacobus en regs Adriaan. Hulle was 16 en 18 toe hulle saam met hulle pa oorlog toe is. Die familie het Adriaan liefdevol Adaan genoem.

Sondag 26 November word Adaan 19 jaar oud. Sy pa is militêr so besig dat Adaan hom daaraan moet herinner dat hy verjaar.  Op Lichtenburg by die kerk wonder Nonnie hoe dit met haar liewe Adaan op sy verjaarsdag in die veld gaan.

Twee dae later vind die slag by Tweeriviere plaas waar die Boere in die rivieroewer stelling ingeneem het. Van vroeg die oggend af beweeg generaal De la Rey op en af langs die linie om sy manne aan te moedig. Adaan wil by sy pa bly. Hy beweeg orals saam. Dit is gevaarlik om so binne en buite die rivieroewer te beweeg.

Met sononder val daar ’n bom baie naby aan hulle. Adaan is baie bekommerd oor sy pa en vra of sy pa getref is. Die generaal is nie getref nie maar ’n bomskerf het Adaan se regtersy ingedring. Dit is moeilik om te bepaal hoe ernstig dit is.

Sy pa lê hom neer op ’n stil plek. Na die kanonne en die kommando onttrek is, gaan De la Rey sy seun haal. Daar is geen ambulans of rytuig beskikbaar nie. Die generaal draai sy seun toe in ’n kombers en neem hom na die naaste hospitaal op Jacobsdal.[8] Hulle kom vier uur die oggend daar aan. Die dokter sê dat hy na ontbyt sal probeer om die bomskerf te verwyder.

Nonnie skryf dat sy om een of ander rede daardie nag so onrustig is dat sy nie kan slaap nie. In ’n poging om rustig te word, bid sy vir krag wat ook al gebeur. Die laaste telegram wat sy gekry het, het gelukkig vertel dat alles nog goed gaan.

Adaan het die hele nag net ’n bietjie water oor sy lippe gehad. Hy is waarskynlik van bloedverlies baie dors. Die verpleegster gee hom die oggend in die hospitaal koffie. Adaan vra sy pa om hom regop te tel en te help om die koffie te drink want hy het nie meer baie krag nie. “Vader, lê my maar neer,” is Adaan se laaste woorde. Daarna sterf hy terwyl hy in sy pa se arms lê.

De la Rey is verslae. Hy het in die Volksraad geargumenteer dat hulle eers nog moet probeer onderhandel en die oorlog moet probeer vermy. Toe van die ander Volksraadslede daarop sinspeel dat hy bang is, het hy geantwoord: “Ek sal my plig doen soos die Volksraad verlang, en u sal my nog in die veld aantref lank nadat u en die spul wat met hul monde oorlog voer, die land uitgevlug het.”

Nou, in een van die eerste veldslae, moet hy sy seun opoffer. De la Rey se woorde in die Volksraad sou bewaarheid word toe hy een van die min was wat tot aan die einde nog geveg het toe baie ander al oorgegee of land uit was.

Die oggend kry Nonnie op die plaas weer ’n telegram van haar man: “Vanoggend het ons dierbare en geliefde seun Adriaan in my arms gesterf van ’n wond wat hy gister in ’n hewige geveg opgedoen het en hy sal vandag te Jacobsdal ter aarde bestel word.”

Die Sondag na Adaan se dood betuig almal simpatie by Lichtenburg se kerk. Vir die preek kies ds. Du Toit Openbaring 21 vers 7 wat lui: “Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees.” Hy gebruik die teks om vir Nonnie te troos met die boodskap dat die Here Adaan meer nodig het as ons hier op aarde.

Nonnie kan nie langer op die plaas stilsit nie. Sy brand om by haar man en seun uit te kom en vertrek nog daardie week na Kimberley.

By Magersfontein is De la Rey se beplanning uitgevoer en is die Boere se loopgrawe gereed. Die Britte roer egter nie vanweë hulle generaal se lastige boudwond. Toe De la Rey hoor sy vrou is op pad en die Britte val nie aan nie, ry hy in Kimberley se rigting haar tegemoet. Dit moes ’n hartseer ontmoeting gewees het.

Nonnie vertel hoe sy en De la Rey die swaar kanonvuur vanaf Magersfontein kon hoor. Die veldslag het begin en De la Rey is nie daar nie.

Nonnie wil nou die graf van Adaan sien. Hulle ry na Jacobsdal. Sy is teleurgesteld toe sy daar net ’n hoop grond sien. Daarvandaan is hulle na die hospitaal. Sy hoop om van sy klere te kry wat hy gedra het voor hy dood is. By die hospitaal word hulle na ’n groot kamer geneem waar die klere van al die gesneuweldes is. Generaal De la Rey kry Adaan se broek. Hy herken dit aan die plek waar die bomskerf in is. Die verpleegster wat na Adaan omgesien het, probeer Nonnie troos deur aan haar te vertel hoe geduldig en tevrede Adaan tot aan die einde was.[9]

Ek kyk na die jong studente gesigte voor my. Jy kan ’n speld hoor val. Die studente sit doodstil en luister na my verduideliking oor waar die generaal was.

Vanaf Magersfontein ry ons na die Boeregedenkteken wat ’n paar kilometer verder opgerig is vir die Boere wat hier gesterf het.

By die ingang is Adaan se grafsteen. Die studente steek almal daar vas en lees dit aandagtig. “Ter gedachten aan Adriaan Johanes Gysbertus de la Rey: zoon van Generaal de la Reij. Geboren 26ste November 1880. Gesneuweld te Tweerivier op 29ste November 1899. God zegt dat zoon behoort aan mij: Openbaring 21 vs 7”

Die grafsteen vertel skielik ’n hele storie. Dit vertel van ’n sagte en geliefde seun; van sy verjaarsdag drie dae voor sy dood; van sy ma Nonnie wat die teks waarmee ds. Du Toit in Lichtenburg haar getroos het, op die grafsteen laat aanbring het; van 1880 tot 1899 wat 19 jaar is. Meeste van die studente is dieselfde ouderdom.

By Adaan, generaal Koos de la Rey se oudste seun, se grafsteen by die Boeregedenkteken naby Magersfontein. Die grafsteen vertel ’n hele storie. Adaan het by Tweeriviere gesneuwel toe hy 19 jaar oud was.

Almal wil ’n foto hê by Adaan se grafsteen. Daar is niks van die uitbundige luidrugtigheid oor nie. Daarna beweeg hulle in stilte, amper gewyd na die ander grafstene. Ek moet hulle aanjaag na die bus. Ons moet nog ver ry.

Hulle vra of hulle net weer De la Rey kan sing voor ons in die bus klim. Hulle vorm ’n sirkel en sing dit saam. Hoewel dit dieselfde studente as vanoggend is, klink die De la Rey lied skielik baie anders

Ek weet nie hoekom ek ’n knop in my keel kry nie. Ek kyk na al die pragtige jong mense en wonder wat die toekoms vir hulle in Suid-Afrika inhou. Hulle sing uit volle bors maar tog is dit gedemp. Asof hulle elke woord weeg. Daar is nou geen biere meer wat vrolik rondgeswaai word nie.

Toe president Paul Kruger dood is het die Franse hulde aan hom gebring met die boodskap: “Aan die leier van ’n klein volk, wat staan vir ’n groot idee.”

Baie het met die Afrikaners gebeur vanaf Adaan se dood tot vandag. Gaan die Franse boodskap weer waar word vir hierdie jongmense?

Die Boeregedenkteken is ’n paar kilometer vanaf Magersfontein opgerig vir die Boere wat by Magersfontein en die veldslae in die omgewing gesterf het. By die ingang van die gedenkteken is ook Adaan de la Rey, genl. Koos de la Rey se seun, se grafsteen.


[1] Dit is op die N12 van Kaapstad na Johannesburg oor Kimberley.

[2] Bok van Blerk het meer as 100 000 CD’s verkoop binne die eerste weke na die verskyning daarvan. Dit het alle vorige rekords oortref.

[3] Slag van Belmont het plaasgevind op Donderdag 23 November 1899

[4] Slag van Graspan het plaasgevind op Saterdag 25 November 1899

[5] Omdat die Modderrivier en die Rietrivier hier saamvloei, is dit bekend as die slag van Tweeriviere. Die slag het op Dinsdag 28 November 1899 plaasgevind.

[6] Militêr onderskei hulle tussen boorvuur en  skeervuur. Boorvuur is van byvoorbeeld bo-op die koppie na op een punt onder op die grond. Skeervuur trek gelyk met die grond en kan meer as een persoon tref.

[7] Die Britte het ongeveer 12 500 man gehad met ’n verdere  2 500 ondersteuningstroepe. Die Britte het ongeveer 35 kanonne gehad teenoor die Boere se vyf kanonne plus nog vyf “pom-poms”.

[8] Daar was ’n Duitse Rooikruisveldhospitaal op Jacobsdal. Die Britse Rooikruis het tydens die Anglo-Boereoorlog nie by die Rooikruis beleid gehou deur almal te versorg nie. Hulle het net die Britte versorg. Hulle het selfs die ongehoorde ding gedoen om van die Boere se ambulanse, wat geskenke uit die buiteland was, af te vat. Twee van hierdie ambulanse was van Rusland.

[9] Nonnie het nog baie ontberinge tydens die oorlog gehad wat sy in ’n dagboek aangeteken het. “Myne omswervingen en beproevingen gedurende den oorlog” deur J.E. (Nonnie) de la Rey is in 1903 in Amsterdam uitgegee.