Dr. Pieter W. A. Mulder

Hy het sy hoërskoolopleiding aan die Riebeeck Hoërskool Randfontein voltooi. Hy was onder andere hoofseun, het vir die eerste span rugby gespeel en was in atletiek Victor Ludorum.
Na skool verrig hy sy militêre diensplig. Aan die einde van die jaar is die eresabel aan hom toegeken as die beste offisier van die jaar.
Hy het aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O. gestudeer. Daar het hy die B.A. Kommunikasiekundegraad en die M.A. in Kommunikasiekunde albei met onderskeiding verwerf.
Hierna, op 26-jarige ouderdom, verwerf hy ’n Doktorsgraad in Kommunikasiekunde.
As student was hy onder andere voorsitter van die Studenteraad, het hy vir die Universiteit se o/20-rugbyspan gespeel en was hy voorsitter van die sanggroep die Alabama-studentegeselskap.
Daarna studeer hy vir ’n jaar aan die Universiteit van Wisconsin, Madison, in die Verenigde State van Amerika. Sy na-doktorale studie daar het oor internasionale kommunikasie gehandel. (Kyk Akademiese CV).
Hy was vir 15 jaar lank ’n dosent in Kommunikasiekunde aan die P.U. vir C.H.O. waar hy tot professor en departementshoof van die Departement Kommunikasiekunde bevorder is.
As dosent is hy verkies tot onder-president van die Suider Afrikaanse Kommunikasiekundedosente Vereniging en was ook lid van die Openbare Skakelinstituut.
In hierdie tyd is hy as stadsraadslid in Potchefstroom verkies.
In 1988 is hy as Parlementslid verkies en was vir 29 jaar lid van die Parlement. Met sy uittrede was hy op daardie tydstip die parlementslid in die Raad met die langste ononderbroke diens.
Hy was ’n stigterslid van die Vryheidsfront en was vir 15 jaar van 2001 tot 2016 leier van die Vryheidsfront Plus.
In 1993 tot 1996 was hy deel van sy party se grondwetlike onderhandelingspan by Kodesa en daarna ook lid van die span in die Grondwetskrywende Vergadering wat die finale 1996 grondwet onderhandel het. In hierdie tyd is hy gekies as deel van ’n veelparty-parlementêre groep wat namens die Suid-Afrikaanse Parlement verskillende lande besoek het ten einde hulle grondwette te bestudeer. So was hy regstreeks betrokke by die bewoordings van artikels 31, 185 en 235 van die grondwet.
In 2009 is hy as adjunkminister vir Landbou, Bosbou en Visserye aangewys – een van die min parlementslede wat as ’n nie-ANC lid, tot so ’n pos benoem is.
In 2010 is hy in Rome tot die dagbestuur van die internasionale organisasie, UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) verkies met die steun van die Afrika-afgevaardigdes. Hierdie organisasie kyk na die beskerming van minderhede en selfbeskikking oral in die wêreld.
In 2008 verskyn sy boek, Kan Afrikaners toyi-toyi?, waarin hy ’n humoristiese binneblik op gebeure en interpersoonlike verhoudings in die parlement en Suid-Afrikaanse politiek bied.
Hy het verskeie kere as kerkraadslid in sy gemeente gedien en is deurlopend aktief betrokke in Afrikanerkultuurorganisasies.
Hy lees graag en stel in geskiedenis en astronomie (sterrekunde) belang. Hy begelei gereeld groepe na bekende plekke van historiese belang en het ook al verskeie kursusse in sterrekunde aangebied.
Dr. Pieter Mulder is met mev. Triena Roestorf getroud. Triena het haar B.Sc. Honneurs in Wiskunde aan die P.U. vir C.H.O. voltooi en het vir 42 jaar Wiskunde aan verskeie hoërskole gegee. Hulle het vyf kinders wat almal in eie reg presteer het.
Die hoogste studentetoekenning van die Potchefstroomse Universiteit is die raadsmedalje wat elke jaar aan een man en een dame toegeken word. Hierdie medalje is vir uitsonderlike leierskap asook vir veelsydigheid deur besondere akademiese-, kultuur- en sportprestasies. Dr. Pieter Mulder en sy vrou Triena is die afgelope 70 jaar een van slegs enkele egpare wat in hulle studentedae albei hierdie Raadsmedalje verower het.