Reaksie op Nico Smith se artikel “Wittes pas aan of pasop” Die prys vir aanpas kan te hoog word.
Dr. Pieter Mulder, Leier VF Plus
Is daar ’n plek in Suid-Afrika vir wittes en/of Afrikaners?
Twee standpunte is die afgelope dekade uit regeringsgeledere hieroor gehoor. Dr. Nico Smith se standpunt (Beeld 11 Sept 2009) stem grootliks ooreen met die van Thabo Mbeki en sy groep intellektuele.
Hierdie standpunt is opsommend die volgende: Wittes het van Europa gekom om Afrika te kolonialiseer. Toe hulle begin weerstand kry van die plaaslike bevolking, gaan die Franse, die Belge, die Portugese en die Engelse terug na Europa. Die dom Afrikaners besef nie die krisis nie, mis die trein en is nou vasgevang in Suid-Afrika. Daarom moet hulle verduur word as “Settlers of a special kind”. Hulle moet egter net nie golwe maak of enige eise stel nie. “Be reasonable, see it our way”, het ’n slim ANC onderhandelaar my probeer wysmaak.
Hierdie standpunt is vir my totaal onaanvaarbaar, dit is histories verkeerd en skep meer probleme as wat dit oplos.
Die ander regeringstandpunt is die Jacob Zuma en Mathews Phosa standpunt. In gesprekke het mnr. Zuma Afrikaners die enigste wit stam van Afrika genoem, ware Suid-Afrikaners wie se taal nêrens anders gepraat word nie en wat geen ander paspoort het nie en wat hier tot hulle reg moet kom (Beeld 3/4/2009).
Natuurlik het hierdie standpunt ook reaksie uitgelok. Die toekoms sal wys tot watter mate die standpunt slegs verkiesingspraatjies was en hoe dit in die praktyk toegepas word. Hierdie standpunt is egter baie meer realisties en aanvaarbaar.
Anders as die Franse in Algerië het Afrikaners nie ’n moederland wat na hulle sal omsien of waarheen hulle kan vlug nie. Ons is nie kolonialiste nie maar burgers met regte. Ons eise rondom regstellende aksie, minderheidsregte, ons taal, selfbeskikking, ens. is billik en in lyn met die nuutste wêreldtendense.
Daar is wittes wat as individue goed leef in Afrikalande soos Kenia en die Ivoorkus. Hulle plaas egter hulle geld in ’n Switserse bank, hou vakansie in Spanje en stuur hulle kinders na skole in Brittanje. Dit is kolonialisme en voldoen aan die kritiek van dr. Nico Smith.
Afrikaners se posisie is anders. Ons het ’n reuse bydrae gemaak om Suid-Afrika die sterkste land in Afrika te help maak. As gevolg daarvan word mnr Zuma genooi om die G8 beraad by te woon. Die meerderheid wittes maak steeds ’n bydrae omdat hulle weet as die Suid-Afrikaanse skip sink, sink ons almal saam. Maar ons eis ook meer as die individue in Kenia en die Ivoorkus. Ons wil as ’n gemeenskap in Afrika oorleef. ’n Gemeenskap het ’n eie gemeenskapslewe; het skole en universiteite waar hulle taal en kultuur aan die volgende geslag oorgedra word sonder enige diskriminasie teen hulle.
Is dit te veel gevra om jouself in Afrika te mag wees? As jy jouself moet opoffer om aanvaar te word en te mag oorleef in Afrika, dan is die prys te hoog. Onthou om na ’n ramp aan ’n stomp in die see te hang, is ook ’n baie primitiewe vorm van oorlewing.
Alles hierbo gesê beteken egter nie dat ons soos altyd kan voortgaan nie. ’n Debat oor hoe ons moet aanpas, is ’n meer sinvolle debat as ’n eis dat ons alles moet prysgee vir oorlewing.
Vier riglyne vir so ’n debat:
1. In die soeke na antwoorde moet ons ons verwagtinge afskaal en realistiese eise stel.
Sommige Afrikaners hoop vir ‘n kitsoplossing waar byvoorbeeld die ANC skeur of by die volgende verkiesing by die stembus verslaan word. Diep onderliggend is dit ’n poging om op ’n maklike manier iets van die ou orde te herstel. Dit gaan nie so werk nie.
Ander Afrikaners hoop weer op die ineenstorting van die land — hoe gouer hoe beter. Die fout in hulle denke is om te glo dat na so ‘n ineenstorting die ou orde weer herstel sal word. Die teendeel sal gebeur. Na so ‘n ineenstorting sit Suid-Afrika waarskynlik met ‘n militêre diktatuur deur een van die nuwe generaals en geen grondwet of ander beskerming nie.
Die les wat meeste Afrikaners nog moet leer is dat die Afrikaner na die gebeure van 1994 sy verwagtinge en eise in ooreenstemming moet bring met sy getalle, met sy werklike ekonomiese krag en met sy vermoë om dit wat hy het, te kan behou.
2. In die soeke na oplossings vir voortbestaan in Afrika moet die oplossing modern en regverdig teenoor ander — maar ook regverdig teenoor die Afrikaner wees.
Ons situasie is nie so uniek soos baie wil maak nie. Internasionaal is daar talle moderne voorbeelde van hoe minderheidsgroepe se taal, kultuur en ander behoeftes sinvol geakkommodeer kan word. Politieke korrektheid maak dat ons tans debatte daaroor vermy.
3. Die Afrikaner moet vrede maak met Afrika en die feit dat hy van Afrika is.
Die toekoms van Afrikaans en die Afrikaner sal nie in Europa, Kanada of Australië beslis word nie, maar in Afrika. Die Afrikaner is gou om te sê dat hy van Afrika is, maar sy optrede dui dikwels op die teenoorgestelde. Daar is geen manier hoe die Afrikaner van die werklikhede van Afrika, ook dit waarvan hy nie hou nie, kan wegvlug nie. Deur Afrika te verlaat is ‘n oplossing vir individue maar nie vir die hele gemeenskap nie. Om met Afrika vrede te maak, beteken nie om afstand te doen van ons Westerse kultuurwortels nie. Dit beteken wel dat die Afrikaner met Afrika se probleme identifiseer en met sy kundigheid ’n unieke rol in Afrika kan speel.
4. Die Afrikaner sal sy eie toekoms moet skep en nie sy hoop op die regering of ander groepe plaas om hom te red nie.
Aan die eenkant is dit onverantwoordelik om passief te wag dat die regering die probleme moet oplos. Aan die ander kant hoef ‘n regering nie ‘n struikelblok te wees nie. ‘n Wyse regering kan deur samewerking en onderhandeling dit makliker maak vir homself en vir so ’n minderheidsgroep om sinvol te leef en ’n bydrae in almal se belang te kan maak. Soos baie Afrikaners nog moet aanpas, moet baie van mnr Zuma se volgelinge ook aanpas. Te veel kabinetslede en ANC volgelinge verkies nog die Mbeki standpunt. Dit is ’n lekkerder standpunt in toesprake en kan makliker gebruik word om probleme te verduidelik en wittes as sondebokke uit te wys.