Drie geslagte Afrikaners en die De la Rey-lied.
Dr Pieter Mulder, VF Plus leier.
Die De la Rey-debat het weer bewys hoe moeilik dit is om die huidige Afrikaner en sy denke te verstaan. Afrikaners het totaal verskillend gereageer en was selfs bereid om mekaar daaroor te gryp – vra maar vir Niekie van Sê Wie faam.
Kan dit wees dat die verskillende tydperke waarin ons politieke denke gevorm is, ons huidige reaksies verklaar? Ek glo dit speel ’n rol. Daarom onderskei ek drie geslagte Afrikaners met drie soorte reaksies op die De la Rey lied.
1. Verwoerd en Vorster se kinders. Hulle is ouer as 55 jaar. Die FA Venter Bedoelde land-geslag. Hulle was deel van Republiekwording. Deel van die sestigerjare toe die inflasie laag, die groeikoers hoog en die toekoms veilig en uitgedink was. Elkeen het ’n plek in die son in sy eie tuisland gehad. “Ons was op pad na die bedoelde land, waarom is ons skielik terug in die geknelde land?” wonder hulle.
Ek ervaar hulle ook as die www-geslag. Die www het niks met die internet te doen nie. Meeste van hulle gebruik nie die internet nie. Vandag is hulle die ontworteldes wat vra: “what went wrong” – www?
Hulle stem moeilik DA omdat hulle deel was van die ou Prog-gevegte teen Helen Suzman. Meeste van hulle het tot onlangs nog NP gestem maar is nou sonder ’n party Baie stem nou skelm VF Plus.
Nadat leiers soos Verwoerd die toekoms uitgedink het, het hulle minder in die politiek belanggestel en hard gewerk vir die oudag en hulle kinders se opvoeding. Vertrou die leiers, hulle weet wat hulle doen, was die uitgangspunt. Toe gebeure na 1994 hulle dwing om weer in die politiek te begin belangstel, was alles anders as wat hulle geglo het dit sal wees.
Hulle hou van die De la Rey liedjie maar om heeltemal ander redes as die jeug. Hulle borg Bok van Blerk en moedig hom aan om nog sulke liedjies te skryf. Dalk is dit die begin van die Afrikaner se herlewing en ’n terugwen van dinge soos dit was. Hulle gun almal ’n plek in die son, maar dan moet dit net nie my lewensstandaard of manier van doen, verander nie.
2. PW en FW se kinders. Hulle is tussen 30 en 55 jaar oud. Die Boetman geslag. Hulle is kwaad en voel gebruik.
Daar is nooit mooi aan hulle verduidelik waarom hulle diensplig gedoen het en waarom al die opstande in die land was nie. Die ANC verduidelik tans daardie tydperk se geskiedenis aan hulle op TV en in toesprake sonder dat die ander kant gehoor word. Daarom voel hulle terugskouend dat al hulle opoffering verniet was. Dit maak hulle kwaad. Alles dui daarop dat “laer- trek” die fout was. Daarom is hulle baie versigtig vir De la Rey se liedjie. As jy daarvan hou gaan dit eerder oor die wysie as die woorde. Ons moet uitreik na die ander in die land. Ons moet nie weer die fout maak om alleen alles te wil doen nie. Pasop vir enigiets wat lyk of dit net wit of net Afrikaans is. Dit is nie billik dat daar ’n Black Lawyers Association of ’n Native-club is nie, maar ons durf nie dieselfde foute aan die wit kant maak nie. Vergeet van “ons” en “hulle” – net jammer dat al die uitreik nog nie grootskaalse aanvaarding by “hulle” verkry het nie!
Die grondwet is baie goed – dit is die manier waarop die ANC dit uitvoer wat sleg is. Van die ou Afrikaans-Engels, NP-Prog gevegte weet hulle niks. Daarom stem hulle maklik as Afrikaners DA of Patricia. Nie soseer omdat hulle die beleide verstaan of ken nie, maar dit is sterk opposisie teen die ANC sonder dat daar enige “laer-trek” of rasse vingers na jou gewys kan word.
3. Mandela en Mbeki se kinders. Hulle is jonger as 30 jaar. Die De la Rey-geslag.
Van “laer-trek” verstaan hulle niks want van skooldae af was hulle tussen mense van alle tale en rasse. Hulle wit-wees en Afrikanerwees was egter hoofsaaklik die rede waarom teen hulle gediskrimineer is.
In die laerskool het hy van die hoogste punte vir sy Expo-projek gekry maar die beoordelaars het mooi kom verduidelik dat hulle hom nie na die landswye finaal kan stuur nie omdat die swart kind, wat baie minder punte as hy gekry het, moet gaan om aan die borge se kwotas te kan voldoen. Op hoërskool het hy die Craven-week rugbyspan gehaal wat die moontlikheid van ’n sportbeurs na Universiteit moontlik gemaak het. Omdat daar 11 “agtergeblewe” lede in die span moet wees, is hy en ses ander wit outjies agtergelaat en was die sportbeurs nie meer moontlik nie. Sy ses onderskeidings in matriek was nie genoeg om vir medies gekeur te word nie. Nie omdat hy hoër punte moes hê nie, maar omdat die regering sekere kwota vereistes aan die mediese skole stel.
Volgens sy geskiedenishandboek en die televisie weergawes van die verlede het die Afrikaners nie helde opgelewer nie en het hulle die land net skade aangedoen. Hy soek na Afrikanerhelde en wil trots wees op wat hy is. Daarom hou hy baie van die De la Rey liedjie en staan op aandag in die studente drinkplek as dit speel. Dit het niks met rassisme of “laer-trek” te doen nie want hy hou ook van die laaste liedjie op Bok se CD. Dit is die een wat oor Habana die springbokvleuel gaan. Of Habana wit of bruin is, maak nie vir hom saak nie – solank hy drieë druk!
Hy glo Afrikaners moet mekaar help en saamstaan op universiteit anders is al die klasse later in Engels en verloor ons die laaste tradisies van die koshuis. As jy dit wil “laer-trek” noem, doen dit gerus. Maar dit is die regering en die owerhede wat ons in die laer in druk met hulle rassistiese maatreëls. Hulle stem maklik VF Plus op die kampus wat verklaar waarom die VF Plus al die studenteverkiesings wen maar stem nie noodwendig in die landsverkiesings nie, want hy glo nie sy stem gaan daar ’n verskil maak nie.
Natuurlik is bogenoemde ’n oorvereenvoudiging en sal talle Afrikaners nie in een spesifieke groep val nie. Tog glo ek dat dit kan help om die huidige Afrikaner denke en debat beter te verstaan.