Dr Pieter Mulder; voormalige parlementslid en seun van dr. Connie Mulder.

Januarie 2019

Die Zondo-kommissie na staatskaping het weer met sy ondersoek begin. Die eerste skokke en allerlei nuwe ongerymdhede borrel reeds uit die getuienis uit.

Gaan die Zondo-kommissie vreesloos al die feite oor staatskaping en korrupsie tydens die Zuma-bewind oopkrap? Ons hoop so.

Daar is ’n besliste moontlikheid dat as die kommissie sy werk reg doen dat prominente ANC leiers soos oud-president Zuma, ANC sekretaris generaal Ace Magashule en selfs die adjunk president David Mabuza in sy visier kan kom. Gaan Ramaphosa bereid wees om teen hierdie prominente leiers op te tree?

Kommissies word deur ’n regering gebruik om by die waarheid uit te kom. Daar is egter ook voorbeelde waar die regering ’n kommissie gebruik om sekere politieke doelwitte te bereik ongeag die waarheid. Die Seriti-kommissie het na vyf jaar se ondersoek bevind Zuma is skoon en daar was geen omkopery of korrupsie by die regering se wapenaankope nie. Die Erasmus-kommissie van die vorige NP-regering was ook so ’n kommissie.

Vanjaar, een en veertig jaar gelede, het PW Botha Eerste Minister geword en van John Vorster en Connie Mulder ontslae geraak ongeag die waarheid. Hiervoor het hy die Erasmus-kommissie en die Inligtingskandaal gebruik. Ouer lesers sal hierdie gebeure onthou.

Hoe het die Erasmus-kommissie dit gedoen en kan ons daaruit leer om seker te maak die Zondo-kommissie word nie so misbruik nie?

Kommissievoorsitters

Die enigste twee kommissies in ons geskiedenis wat die presidente van die land moes ondersoek was die Zondo-kommissie vir president Zuma en die Erasmus-kommissie vir president Vorster.

Omdat topleiers soos president Zuma betrokke is, is die adjunkhoofregter, Raymond Zondo, aangestel. Met ’n senior grondwethofregter as voorsitter lyk dit of daar erns is om by die waarheid uit te kom.

By die Inligtingsdebakel was die land se topleiers ook betrokke: John Vorster as president; PW Botha nuwe Eerste Minister; die minister van Finansies Owen Horwood; Connie Mulder,die minister van Inligting, die kabinet en talle ander ministers.

Omdat die topleiers geïmpliseer is, het Mulder gevra dat die destydse hoofregter Rumpf as voorsitter saam met ’n paneel appèlregters die ondersoek doen.

P.W. Botha ignoreer die versoek. Hy stel Rudolf Erasmus aan. Erasmus is nie ’n appèlhofregter nie maar ’n junior omstrede regter van die Vrystaatse provinsiale afdeling.

Met sy aanstelling as regter was daar ernstige kritiek. Daar is beweer dat Erasmus slegs ’n regter geword het omdat hy die regsadviseur van die Nasionale Party in die Vrystaat was.

Sy omstredenheid blyk uit die feit dat sy juridiese vermoëns deur twee appelregters ernstig gekritiseer is. Hulle berispe hom dat hy in sekere uitsprake “sy oë vir die feite gesluit het” en nie die regsfeite enigsins in ag geneem het nie.

Met Erasmus se aanstelling was dit reeds duidelik dat die Nasionale Party bang was vir die volle waarheid. Die volle waarheid sou gevaarlik wees vir PW Botha, Horwood en ander ministers. Daarom is ’n “veilige” regter wat beheer kon word, gekies.

In hierdie opsig was die Erasmus-kommissie soos die Seriti-kommissie wat die wapenskandaal moes ondersoek. Die Seriti-kommissie het verkies om sekere feite en dokumente te ignoreer ten einde te bevind dat die ANC en Zuma, wat die kommissie aangestel het, skoon en onskuldig is.

Kruisondervraging.

Regter Zondo se ondersoek is oop vir almal. Waar ’n getuie negatief na ’n persoon verwys, het die regter toestemming gegee dat die getuie gekruisondervra mag word. Dit bly die enigste metode om onwaarhede te ontbloot en feite te verifieer. Tot Duduzane Zuma, Zuma se seun, wat van ernstige korrupsie beskuldig word, kry geleentheid om Mcebisi Jonas, wat dit beweer het, te kruisondervra.

In teenstelling hiermee was regter Erasmus se ondersoek in die geheim. Geen media of toeskouers is toegelaat nie. Waar ’n getuie byvoorbeeld negatief na Vorster verwys het, het Vorster nie daarvan geweet nie, kon hy nie daarop reageer nie en lees hy dit vir die eerste keer in die verslag.

Volgens amptelike dokumente wat ingehandig is, was Louis le Grange, die Adjunk-Minister van Inligting, verantwoordelik vir verskeie geheime projekte wat ondersoek is.

Die Erasmus-kommissie beskerm hom deur hom nooit te roep om te getuig nie. Per ongeluk? Nee. Le Grange het intussen ’n PW Botha ondersteuner en ’n minister geword. Soos die Seriti-kommissie het die Erasmus-kommissie verkies om sekere feite en dokumente te ignoreer ten einde te kon bevind dit wat PW Botha wou hê.

Die gevolg is dat 95% van die Erasmus-kommissie se bevindings op ongetoetse getuienis gemaak is.

Enkele voorbeelde:

Kabinetskomitee.

Maart 1974 neem die NP-Kabinet ’n besluit dat die Departement van Inligting verskillende geheime projekte moet loods om Suid-Afrika se beeld uit te dra. Die kabinet stel ’n komitee aan om toesig oor die projekte te hou. Die komitee bestaan uit Vorster as Eerste Minister, Horwood Minister van Finansies en Mulder Minister van Inligting.

Die datum van die kabinetbesluit asook die datums waarop die kabinetskomitee hulle gereelde toesigvergaderings oor al die projekte gehou het, word aan die Erasmus-kommissie gegee.

Die Erasmus-kommissie stel nie daarin belang om die dagboeke van die ministers te vra waarin die verslagvergaderingdatums aangeteken is nie – ook nie die kabinetsnotule wat toeganklik was nie.

Erasmus-kommissie: Die Erasmus-kommissie bevind dat daar nooit so ’n kabinetskomitee was nie en dat daar nie sulke verslagvergaderings gehou is nie. Hulle bevind Mulder en Rhoodie, die Departementshoof van die Inligtingsdepartement, het op hulle eie besluit om die projekte te loods.

Toe dr. Daan Prinsloo jare later as navorser deur die kabinetsnotules gaan, is die besluit in Maart 1974 duidelik genotuleer – presies soos Rhoodie en Mulder getuig het. (Vergelyk p.90 Stem uit die Wildernis.)

Zondo-kommissie: Daar is beweer dat minister Nene op sekere datums met die Guptas geskakel het. Hy ontken dit. Daarna is daar moeite gedoen om die datums te bevestig en minister Nene het bedank.

Minister van Finansies

Rhoodie oorhandig dokumente aan die Erasmus-kommissie waar Horwood as Minister van Finansies die begroting van die geheime projekte met sy handtekening goedkeur. Elkeen van die ses bladsye waarop al die projekte gelys was, Citizen-koerant ingesluit, is met sy handtekening geparafeer.

Toe Horwood met hierdie dokument gekonfronteer is, het hy verduidelik dat hy elke bladsy met ’n stuk papier toegehou het toe hy geteken het – sodat hy nie kon sien wat hy teken nie!

Erasmus-kommissie: Die Erasmus-kommissie aanvaar sy verduideliking as die verantwoordelike optrede van ’n Minister van Finansies. Hulle bevind dus dat hy van niks geweet het nie.

Zondo-kommissie: Daar is getuig hoe Zuma druk op Nene geplaas het om die Russiese kernooreenkomsdokument te teken.

Anders as Horwood bestudeer Nene die detail van die dokument en as verantwoordelike minister van Finansies weier hy om te teken.

Finansiering.

PW Botha het die geld vir die Inligtingsprojekte as deel van sy geheime verdedigingsrekening deur die Parlement geneem (Foto A). Hy het jaarliks ’n sertifikaat geteken dat die geld korrek spandeer is.

Een van die geheime projekte was om The Washington Star in Amerika te probeer koop om so Amerikaanse politici te beïnvloed. Daar is getuig hoe die geld hiervoor direk uit Botha se verdedigingsrekening na die reserwebank en van daar na Switserland oorgeplaas is na ’n kabinetsbesluit. Dit kon nooit sonder die goedkeuring en handtekening van Botha gedoen gewees het nie.

Erasmus-kommissie: Hierdie feite maak geen indruk op die Erasmus-kommissie nie en hulle bevind dat Botha niks van die geheime projekte geweet het nie.

Op ’n wonderbaarlike “Houdini-manier” het Mulder en Rhoodie dus die geld vir die Inligtingsprojekte uit Botha se rekening gekry sonder dat hy dit geweet het of daarvoor geteken het. Geen departement werk so nie.

Uit die Erasmus-Kommissie se bevindings is dit duidelik dat hulle nie in die waarheid oor die geheime projekte belanggestel het nie. Die Erasmus-Kommissie is eerder gebruik om sekere individue in die NP te beskerm en van ander ontslae te raak.

“Ons is of almal duiwels of almal engele. Dit is ’n klug as die kommissie bevind dat party van ons spierwit onskuldige engele is en die ander duiwels,” was Mulder se reaksie op die Erasmus-kommissie se verslae.

Staatskaping gaan oor selfverryking terwyl niemand by Inligting aan selfverryking skuldig bevind is nie. Rhoodie is aangekla vir ’n bedrag van R62 000. Die appèlhof het hom onskuldig bevind op alle aanklagte. By die Zondo-kommissie is miljarde rand betrokke.

Zondo-kommissie: Dit is ironies dat die ANC se Zondo-kommissie tans aan ons wys hoe ’n ondersoek na topleiers, gedoen moet word. Die toets en vraag is of die Zondo-kommissie onbevrees hiermee sal voortgaan selfs as prominente ANC leiers soos Ace Magashule en selfs die adjunk-president in die gedrang kom. Hierdie jaar 2019 sal hopelik hierop ’n antwoord bring.

(1405 woorde)

Foto A: Briefie van PW Botha, minister van Verdediging waarin hy aan Connie Mulder, Minister van Inligting vra of hy weer op sy begroting vir die geheime Inligtingsprojekte moet voorsiening maak. Die Erasmus-kommissie bevind Botha het niks van die geheime projekte geweet nie.

Foto B: Dr Connie Mulder in gesprek met president Houphet Boigny van die Ivoorkus as deel van die Inligtingsprojekte om uit te reik na Afrikaleiers. Dit het tot suksesvolle bande in die sewentigerjare tussen Suid-Afrika en die Ivoorkus gelei.

Foto C: Connie Mulder in gesprek met Ronald Reagan president van VSA toe hy goewerneur was.