Naamsverandering in Suid-Afrika
Dr. Pieter Mulder, voormalige parlementslid
November 2018
“Hierdie man was ’n verraaier. Daarom is sy kop afgekap,” verduidelik die gids. As ’n afvaardiging van Suid-Afrikaanse parlementslede besoek ons die Britse parlement. Ons staan voor ’n skildery wat in een van die gange van die parlementsgebou hang.
Ek is berekend moedswillig en vra die gids: “As hy dan ’n verraaier was, waarom is die skildery nie verwyder nie?”
Die gids kyk my verbaas aan en antwoord: “Because it’s part of our history”.
My vraag en die antwoord was eintlik vir die ANC parlementslede bedoel. Al die skilderye van vorige speakers en staatsmanne in die Suid-Afrikaanse parlement is enkele maande voor hierdie besoek in opdrag van die ANC verwyder en na die Parlement se kelder geneem.
Voor die Britse parlement is ’n groot standbeeld van Oliver Cromwell. Cromwell het Charles I, die Britse koning laat onthoof, ’n republiek uitgeroep en op ’n tydstip selfs die parlement ontbind. Nogtans staan sy standbeeld voor die parlement wat hy ontbind het. Reg oorkant sy standbeeld is ’n borsbeeld van Charles I, wat hy laat onthoof het. Albei daar “because it’s part of our history”.
Toe die Nasionale Party in 1948 aan die bewind kom, was daar sterk aandrang dat die skilderye van die Britse konings uit die parlement verwyder moet word asook Afrikaner “volksvyande” soos Rhodes, Jameson en Jan Smuts. Gelukkig het politieke volwassenheid geseëvier. Die skilderye het bly hang tot hulle in 1994 saam met al die ander skilderye deur die ANC verwyder is.
Dieselfde debatte woed steeds in Suid-Afrika.
Is dit nie moontlik om, soos Brittanje, ’n balans tussen die verlede en die hede te kry nie?
Na onafhanklikheid is Leopoldville en Salisbury in Afrika se name verander na Kinshasa en Harare. Die riglyn was dat die mense na wie dit vernoem is, geen verbintenis met Afrika het nie en terug is na hulle oorspronklike lande in Europa.
Met dit as argument kon jy verwag dat plekname soos Durban, wat na Sir Benjamin D’Urban, en Kimberley, wat na Lord Kimberley van Brittanje vernoem is, eerste na 1994 verander sou word. As kolonialiste is hulle lankal terug na Brittanje met geen verdere verbintenis met Suid-Afrika nie. Dieselfde geld vir Victoria-Wes, King Williamstown, Queenstown en talle ander. Tog is daar nog nie aan hierdie name geraak nie terwyl hoofsaaklik Afrikaanse name verander is.
Daar is ’n groot verskil tussen die verandering van die naam Pampoenfontein en die naam Pretoria. Name soos Pretoria, Lydenburg en Pietersburg is gelaai met Afrikaner-geskiedenis en emosie. So is dit ook moeilik om te sien hoe name soos Warmbad en Nylstroom aanstoot kan gee. Die meeste Afrikaners sien hierdie naamsveranderings as ’n berekende klap in die gesig van die Afrikaner en sy geskiedenis.
In ’n veranderende land is dit onvermydelik dat sommige name uit die verlede vir ’n deel van die bevolking mag aanstoot gee. Waar so ’n naam wel sterk emosionele betekenis vir ’n ander deel van die bevolking het, behoort baie groter sensitiwiteit te geld en behoort die groep wat geraak word ’n groot mate van seggenskap oor die besluite te hê.
Suid-Afrikaners het weens vele redes ʼn verdeelde verlede. Suid-Afrika, soos ons hom vandag ken, het eers in 1910 tot stand gekom toe die Afrikaner deur die Anglo-Boereoorlog gedwing is om deel van Britse Suid-Afrika te word. Dit het daartoe gelei dat ons verskillende helde het. Ons moet ook aanvaar dat alle historiese figure omstrede is. Ek kan goeie en slegte argumente noem vir die meeste historiese Afrikanerfigure en figure van alle ander groepe in Suid-Afrika.
Voorbeeld: Durban lughawe is nou na Koning Shaka vernoem.
Koning Shaka sal vanweë sy wrede oorlogsverlede nie vandag met ʼn Nobel-vredesprys of ʼn menseregte-toekenning vereer word nie. Hy was egter die stigter van die Zoeloenasie en het so ʼn groot rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel. Ek respekteer dit en daarom is daar nie beswaar gemaak toe die lughawe na hom vernoem is nie.
Ek beskou President Steyn as een van die stigters van die Afrikanervolk. Hy is een van my helde as ʼn vryheidsvegter teen kolonialisme en teen Britse heerskappy oor sy mense. Ek verwag dat dieselfde respek wat Koning Shaka gekry het, ook President Steyn en sy standbeeld toekom. Tog besluit die Vrystaatse Universiteit om die standbeeld te verskuif.
Die boodskap wat ek en baie Afrikaners die afgelope weke gekry het, is: “Ons wil julle bydrae en belasting hê, maar julle erfenis, helde en kultuur is nie aanvaarbaar nie”. Watter ander boodskap stuur die verwydering van Steyn se standbeeld as dat wit en Afrikaanse studente nie by die Universiteit van die Vrystaat welkom is nie?
In Limpopo en Mpumalanga is meeste groot dorpe se name na 1994 verander. Daarteenoor het geen dorp in die Wes- of Noordkaap nog ʼn naamsverandering ondergaan nie.
’n Wes-Kaapse vriend vra my onlangs hoe ’n mens vanaf Pretoria na Messina ry. Hy moet ’n familietroue daar bywoon.
Ek verduidelik: “As jy Noord op die N1 ry kom jy eerste by Bela-Bela wat eers Warmbad was, daarna by Modimolle wat Nylstroom was en Potgietersrus wat nou Mokopane is. Na Mokopane kry jy Polokwane wat Pietersburg was en daarna Makhado. Verby Makhado kry jy Musina wat eers Messina was.”
“Waar is dié Makhado?” vra hy.
“Tussen Polokwane en Musina” probeer ek hulpvaardig wees.
“Wat het van Louis Trichardt geword?” vra hy.
“Makhado is Louis Trichardt,” antwoord ek.
“Huh,” reageer hy en vra: “Kan ek dalk na Messina vlieg?”
So ’n gesprek mag humoristies wees maar die implikasies vir die inwoners van dorpe wat so geraak word, is ingrypend.
Navorsing het bevind dat ’n naamsverandering ’n klein sake-onderneming ’n minimum van R60 000 sal kos. So ’n onderneming moet alle promosiemateriaal, briefhoofde, naamborde, advertensies op voertuie, drukwerk, ens verander. Die koste van kennisgewings aan alle kliente, aan alle verskaffers en die verandering van rekeninge is nie eens bereken nie. Vir ’n groot onderneming word hierdie bedrag op meer as R500 000 beraam.
Voeg hierby die koste om duisende padtekens, stadskaarte, atlasse, rekenaarnavigasieprogramme, ens. te moet verander.
In talle van hierdie dorpe is die hoofstrate se name skaars ’n jaar later ook verander wat beteken dat dieselfde kostes weer aangegaan moes word.
Tussen 1996 en 2010 is meer as 850 sulke geografiese plekname verander.
In meeste van hierdie gevalle was dit ANC raadslede wat skielik voor ’n verkiesing met kosmetiese naamsveranderinge hulle ongelukkige ondersteuners probeer paai sodat hulle weer herkies kan word.
’n Internasionale riglyn is dat verandering net terwille van verandering nie aanvaarbaar is nie.
Met ’n verkiesing op pad is Grahamstad se naam skielik vanjaar na Makhanda verander. Dit is die eerste prominente Engelse naam wat 24 jaar na 1994 verander word. Port Elizabeth is blykbaar volgende aan die beurt.
Dat dit duidelik verkiesingstyd is, blyk uit Ismail Vadi, LUR vir Vervoer in Gauteng, se aankondiging voor verlede week dat William Nicol rylaan na Winnie Mandela verander gaan word.
Die prys vir hierdie politiekery is baie duur in terme van geld en duur in terme van gesindhede en toekomstige verhoudinge in Suid-Afrika.
Hoe lank na 1994 gaan steeds name verander word met groot kostes vir nuwe padtekens en kaarte? Soos met grondeise behoort daar ’n afsnydatum vir naamsveranderinge bepaal te word.
In ’n ingewikkelde land soos Suid-Afrika behoort daar as riglyn eerder na kompromieë gesoek te word as wat een groep sy wil op die ander afforseer.
In die gees van versoening na 1994 is byvoorbeeld ooreengekom om nie lughawens na politici of prominente persone van enige kant te vernoem nie. So is Jan Smuts lughawe na Johannesburg Internasionaal en JBM Hertzog na Bloemfontein verander.
Hierdie ooreenkomste is die laaste tien jaar blatant verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici en prominente persone, maar eensydig net na die ANC kant toe. Die PAC het reeds gekla dat hulle helde geïgnoreer word. Johannesburg het OR Tambo geword en Bloemfontein Braam Fischer.
In Brussel gaan hulle sover dat strate twee name het ten einde die Franse en Vlaamse bevolking te akkommodeer. Een van Brussel se hoofstrate is Wetstraat in Vlaams en Rûe de la Loi in Frans.
Vir goeie verhoudinge is aanvaarbare riglyne soos hierbo genoem nodig by die verandering van name. Dit is die enigste manier waardeur jy ’n situasie kan skep waar almal soos wenners voel en daar geen verloorders is nie. Onthou — daar is geen manier hoe jy nasiebou op mense kan afdwing nie. As dit nie ’n vrywillige proses van alle deelnemers is nie, slaag dit nie.