BLY OF GLY-DEBAT
DR PIETER MULDER
LEIER VRYHEIDSFRONT PLUS
“Mense wat weghardloop na die buiteland is sissies, onpatrioties en verraaiers wat nie die druk kan vat nie. Ons is beter af sonder hulle.”
“Mense wat in Suid-Afrika bly is taai, patrioties en hulle veg vir hulle reg. Dit is die gesonde kern waarmee ons die land gaan red ”
In die dae van die “totale aanslag” voor 1994 was bogenoemde twee stellings min of meer hoe die bly- of gly-debat, veral in Afrikanergeledere, opgesom en afgehandel is. Dit is ongelukkig vandag beslis nie so eenvoudig nie. Om sommer iemand te veroordeel omdat hy bly of gly, is verkeerd. Elke geval moet volgens sy eie omstandighede beoordeel word. Ek bly — terwyl goeie vriende reeds gegly het.
Ek veroordeel wel mense wat om verkeerde redes emigreer. Dit is soos Pieter Dirk Uys se twee humor-redes waarom mense uit die ou Suid-Afrika ge-emigreer het. “Eerstens omdat hulle heftig gekant was teen die rassisme van Apartheid en tweedens omdat hulle die Swartes nie langer kon verduur nie!”
Onlangs het ‘n man ongevraag aan my kom verduidelik waarom hy emigreer—ek behoort te verstaan, reken hy. “Hier in Suid-Afrika is daar nie meer genoeg Afrikaans op die televisie nie en godsdiens word al meer afgewater in ons skole.” Nou gaan hy en sy gesin na die VSA — waar daar geen Afrikaans op die TV is nie en nog minder godsdiens in die skole is! As hy aan my verduidelik het dat hy in sy beroepsrigting nie werk in Suid-Afrika kan kry nie; of dat hy na twee motorskakings sy familie se veiligheid eerste stel, sou ek hom anders beoordeel het.
Dieselfde geld vir mense wat oneerlik met hulleself is en onrealisties is oor emigrasie.
As jy besef dat jy as eerste geslag emigrant nooit werklik ten volle deel van die nuwe samelewing sal word nie, maar dat jou kinders wel sal inskakel, is jy realisties. As jy verder besef dat dit onbillik is om van jou kinders te verwag om as ware Afrikanertjies in die buiteland groot te word, is jy ook realisties. Leer hulle gerus Afrikaans — vir oupa en ouma se onthalwe en vir die geringe kans dat hulle dalk eendag sal terugkeer. Maar onthou— die kinders se wêreld is Engels, hulle skole, hulle maats en TV is Engels. Natuurlik mag hulle nog Afrikaans met die ouers by die huis praat — maar dit is meestal net uit hoflikheid. Luister na hulle as hulle alleen is en verkies om met mekaar Engels te praat. Dit is ‘n onreg teen so ‘n kind om hom in die buiteland vreemd as ‘n Afrikanertjie te wil groot maak. Ek is lief vir Afrikaans en hierdie is vir my ‘n groot hekkie wat ek moeilik sal kan oorkom. Dit is een van die redes waarom ek gaan bly sonder om die wat om goeie redes gly, te veroordeel.
Hoe meer ek in die buiteland kom, hoe meer besef ek dat my hart in Afrika is. Wat ‘n snaakse verlange na ‘n pragtige maar ruwe, droewe en dikwels hartseer land. Ek kan dit nie altyd verklaar nie. Is dit die uitdagings of is dit net die natuur? Ek stap graag in die somer — veral met sonsondergang. Ek het met my gesin in die VSA gewoon vir ‘n jaar tydens my na-doktorale studie. Ek het etlike maande in Brittanje gebly met ‘n beursskema. Ek het reeds China, Australië en elke kontinent besoek. Wonderlike lande, maar nie een het ‘n skemertyd en sonsondergange wat met ons s’n kan meeding nie; met ons blou lug, ons rooi sonsondergangkleure en wolkepatrone. Wat kan daarmee meeding om in die Karoo na die sterre te kyk en oor die wonder van God te wonder? In my jaar in die VSA kon ek dit nie nadoen nie.
Maar die Afrika uitdagings speel by my ook ‘n rol. Ek het in die stamland Nederland en in Australië TV-nuus gekyk. Hulle uitdagings en krisisse verveel my. Dit wissel van ’n vermindering van skaapgetalle in Australië en of ‘n gekloonde koei geslag mag word — tot tulpe wat as gevolg van swak verpakking verlep het. Die Hollanders sal uitasem wees en skielik weet waar kom die “M” van “Moeg” vandaan na ‘n week van Mugabe, Mbeki, MIV en Mpumalanga! ‘n Australiër het aan my verduidelik hoe stimulerend hy al die uitdagings in Suid-Afrika vind — maar na ‘n jaar moet hy eers weer terug na Australië se rustigheid om sy geestelike batterye te laat laai! Ons voltooi met dieselfde geestelike batterye ‘n leeftyd.
Maar laat ons wat bly ook met onsself eerlik wees. Ek haat die misdaad en die geweld. Ek verafsku korrupsie en swak administrasie. Ek is uiters gefrustreerd om elke dag te sien hoe die regering foute maak wat tot ons almal se nadeel is. Ek treur as ek sien hoe die geleentheid vir internasionale sukses en oplossings tussen kultuurgroepe deur die vingers glip.
My hart is vas aan Afrika terwyl my verstand die voorwaarde stel dat ek in Afrika myself wil wees as Afrikaner. Is dit te veel gevra? Slaag ons daarin, sal meer mense bly. Dit is die groot politieke uitdaging soos ek dit sien. As Afrika plek het in die Noorde vir Arabiere met hulle godsdiens en “vreemde” kultuur dan is daar ook plek vir my in die Suide. Al noem die Swart onverdraagsames my dan ‘n Euro-Afrikaan.
Roeping is ‘n cliché wat sommiges maklik soos ‘n godsdienssousie oor alles wil gooi. Tog speel dit ‘n rol by my besluit om te bly. Waarom sou Jan van Riebeeck ons juis hier gelos het? Waarom sou ons die Groot Trek, Bloedrivier en die Engelse oorlog in 1902 oorleef het? Sou ons dit alles oorleef het net om nou hier in die 21ste eeu tragies tot niet te gaan? Ek weier om dit te glo. Sê dan maar dat ek nog van die ou soort is wat glo daar is ‘n plan en ‘n doel met alles, ook met my lewe. Dalk is deel daarvan om hier ‘n rol te speel en ‘n verskil te maak. Die teoloë noem dit roeping.
Jy kan sê ek is aanmatigend — maar ek voel ‘n snaakse verantwoordelikheid teenoor duisende wat nooit die land sal kan verlaat nie, al wil hulle ook. Arm mense, onderdruktes en Afrikaners teen wie gediskrimineer word. Meer as 80% van alle Afrikaners sal altyd hier bly. Ek is geleer dat een persoon op die regte tyd op die regte plek, ‘n verskil kan maak. Ek wil dit graag glo. Elkeen wat emigreer is ’n groot verlies. Maar mense wat besluit om te bly en dan net kla en kerm sonder om betrokke te raak, raak ’n las. As jy bly, raak betrokke. Sluit aan by ‘n politieke party of ‘n kultuurorganisasie of gee geld. Moenie net vra: “Wat doen julle om my posisie te verbeter?” nie. Doen iets self. Anders kon jy maar gegly het.