Wen-wen oplossings vir Afrikaner moedeloosheid.
Dr Pieter Mulder, Leier Vryheidsfront.
Wat gesels Afrikaners by die braaivleisvure? Daar waar hulle alleen is en nie polities korrek hoef te wees nie? Hulle gesels oor hoe hulle vreemdelinge begin voel in Suid-Afrika —oor magteloosheid en toekomsloosheid. Elkeen het ‘n storie van hoe hy by die werk benadeel word (omdat hy Afrikaans is) — of ‘n storie van frustrasies met onbekwame staatsamptenare. Sy kinders kry nie beurse nie en ook nie werk nie. Hoekom is die Afrikanerjeug dan so stil, vra jy. Omdat hulle in Londen is, kom die antwoord! Dan word die frustrasies verlig met ‘n rassistiese grap — vertel deur iemand wat voor 1994 bekend was vir sy liberale standpunte.
Wat praat swartmense as hulle dink hulle is alleen. Hulle vergeet mos dat baie Afrikaners swart tale goed verstaan. Hulle sê witmense is ondankbaar. Wittes moes ‘n Neurenbergverhoor gekry het. Mbeki is te sag op die uitbuiters. Waarheidskommissie bevindings en rassevoorvalle versterk hulle sienings. Interessant is dit dat swart kritiek nie minder skerp teen Indiërs en bruinmense is nie.
Was dit in 1994 anders by die Afrikaner braaivleisvure? Ja beslis. Pres Mandela se uitsprake oor Afrikaans en sy Springbokrugbytrui het ‘n gees van goedgesindheid en versigtige optimisme geskep.
Wat het verander? Die gebrek aan “delivery” maak President Mbeki se regering onnodig arrogant. Kabinetslede se voorspelbare antwoord op kritiek is “ou rassisme”. Ons het hierdie jaar al drie spesiale parlementêre debatte oor rassisme gehad; daar kom nog ‘n internasionale konferensie oor rassisme en die Parlement het onlangs hierdie dekade aangewys as die dekade teen rassisme. Sulke debatte mag goed wees om ANC interne spanninge en barste vir ‘n tydjie toe te smeer, maar dit verbeter nie verhoudinge tussen wit en swart nie. Inteendeel. Rassisme debatte lei altyd tot wedersydse beskuldigings en stereotipering.
President Mbeki word kwaad as witmense hom stereotipeer en hom gelyk stel aan pres Mugabe. Alle swartes is nie dieselfde nie, kap hy terug.
Ek word kwaad as ANC lede vir my en alle Afrikaners stereotipeer en rassiste noem. Daarvolgens is Afrikaners vir 300 jaar in Suid-Afrika net om swart mense uit te buit. Snert. Dit maak my de-boetman in. As ek oor die Afrikaanse taal praat, hoor ek ek is rassisties want ek wil ander tale onderdruk. As ek oor selfbeskikking praat, hoor hulle rassisme en apartheid. Gaan vertel dit vir die Kurde, die Palestyne en die mense van Quebec wat selfbeskikking wil hê. Kyk hoe hulle daarop reageer.
Swart mense moet leer dat alle Afrikaners nie dieselfde is nie. Maar Afrikaners moet ook leer dat alle swartmense nie dieselfde is nie. Mense en die politiek is net nie so eenvoudig nie.
Alle groepe in Suid-Afrika smag na vrede en harmonie. Om dit te bereik moet daar ‘n oplossing kom tussen die Afrikaners van Afrika en die Afrikane of dan swartmense van Afrika. Dit moet ‘n wen-wen oplossing wees wat vir jare vrede en voorspoed kan bring. In ons geskiedenis het ons tot nou toe nog nie hierin geslaag nie. Elke oplossing het in ‘n doodloopstraat geëindig. Afrikaners is nou moeg vir doodloopstrate.
Die ou NP het in die 80er jare afstand gedoen van tuislande maar geweier dat swartes in die driekamerparlement mag kom. Dit was permanente blanke minderheidsregering – ‘n vorm van kolonialisme. Wittes wen, swartes verloor — ‘n doodloopstraat.
Daarna magsdeling. Magsdeling waar die minderheid permanent die meerderheid met ‘n vetoreg frustreer. Geen wen-wen nie. ‘n Doodloopstraat.
Maar ook die sogenaamde regse oplossings van die verlede was doodloopstrate. Die HNP wat sê van Tafelberg tot Soutpansberg is ons s’n. Daaroor sal ons alleen regeer. Dan jaag hulle ‘n bruin joernalis by hulle kongres weg en glo hulle is nader aan ‘n wen-wen skikking met die swart mense. ‘n Doodloopstraat.
Nou stel die ANC vir Afrikaners assimilasie voor as oplossing. Word deel van die meerderheid. Engels is ‘n wêreldtaal. Vergeet van hierdie gevegte vir taal- en minderheidsregte en selfbeskikking. Weer ‘n wen-verloor oplossing. As ek kyk hoe die ANC tot nou sulke Afrikaners gebruik het — om hulle daarna soos uitgesuigde lemoene weg te gooi, dan sê ek nee dankie. Vir my is Afrikaans te belangrik en hierdie prys te hoog. Weer ‘n doodloopstraat.
Dan die DA wat verkondig hulle gaan binnekort die ANC by die stembus verslaan. Ons wen, julle verloor. Ongelukkig is die kanse nul om die 12 miljoen swart stemme te kry wat daarvoor nodig is. ‘n Party met 12 miljoen swart stemme gaan buitendien geen plek vir Afrikaner belange hê nie. Praat nie eers van die ANC se reaksie as hulle sou verloor nie — bomme en rewolusie soos hulle in Kuba geleer het! ‘n Wen-verloor doodloopstraat.
Wat is ‘n positiewe antwoord? Selfbeskikking en minderheidsregte wat wêreldwyd gebruik word om probleme soos die in Suid-Afrika op te los. Behalwe dat dit ‘n wen-wen oplossing is, is dit modern en reeds deurdink. Die wiel hoef nie weer uitgevind te word nie.
Dit laat genoeg ruimte vir die ANC om te transformeer, te herverdeel en reg te stel. Maar ook genoeg ruimte dat ek as Afrikaner in Afrika myself kan wees, my kultuur kan beoefen en veilig tussen my eie kan voel.
Tot mnr FW De Klerk het op sy reise die belangrikheid van groepregte, minderheidsregte en selfbeskikking as oplossing vir diverse gemeenskappe uitgevind. Dit bly jammer hy het nie daardie insigte in 1993 voor die Kemptonparkse onderhandelinge gehad nie.
Die ANC moet nou sy keuses maak. Is Afrikaners deel van die probleem of deel van die oplossing? Hulle kan ons nie wegwens nie. As die ANC die probleme van die Afrikaanse taal, -skole en -universiteite asook territoriale selfbeskikking aanspreek, sal die ANC verbaas wees oor hoeveel Afrikaner-energie daarmee na vore sal kom om te help om die land se probleme op te los.
Maar hulle moet nie Afrikanervriendelikheid verwar met swakheid nie. Hulle moet nie Afrikaner bereidheid om saam te werk verwar met afstand doen van ideale nie. Ons geskiedenis bewys dit.
April 2001.