Die Covid-Entstofprogram, logika en die EFF.

Pieter Mulder

3 Julie 2021

Logika is nie die EFF se sterkste punt nie. Kyk maar na hulle protesoptog verlede Vrydag.

Die EFF noem die optog “March to save lives”. In die optog doen hulle alles wat lewens in gevaar stel. Meeste optoggangers dra nie maskers nie en hulle loop styf teen mekaar. Net 100 mense word op vlak drie by ’n optog toegelaat. Die EFF het 2000 optoggangers.

In plaas van lewens spaar, word hulle supersverspreiders van die virus.

Soos alle populistiese partye stel die EFF eenvoudige oplossings voor vir ingewikkelde probleme. Daarom is hulle sterk met propaganda en swak met logika en werklike oplossings.

Hulle marsjeer na die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) se kantore. Sahpro is die Suid-Afrikaanse instelling wat entstowwe goed of afkeur. Die EFF eis dat hulle binne sewe dae die Russiese en Chinese entstowwe goedkeur.

SAPHR maak nie entstowwe nie. Hulle is ook nie verantwoordelik vir die aankoop van entstowwe nie. Hulle keur slegs aansoeke vir entstowwe goed of af. Die EFF is dus by die verkeerde adres.

Verder is alle aanduidings dat die Russiese en Chinese entstowwe wat die EFF vra, nie so suksesvol is teen die Suid-Afrikaanse B-variant of die nuwe D-variant nie. Dit is egter nie deel van EFF logika nie.

Die versoeking is groot om ’n koerantleser van Bettysbaai te ondersteun toe hy in reaksie hierop in die koerant skryf: “Keur die entstowwe goed, maar met die voorwaarde dat dit net vir EFF-lede is.”

Nog regeringsinperkings gaan nie keer dat ons nog baie Covid-golwe gaan kry nie. Die enigste manier om verdere golwe te keer, is ’n suksesvolle inentingsprogram.

’n Britse studie in Mei bewys dat die Pfeizer-entstof na ’n tweede inenting 88% effektief is teen simptomatiese gevalle van die Delta-variant en 93% teen die Alfa-variant.

Ek het hierdie week my tweede Pfeizer inspuiting gekry.

Die VSA met ’n bevolking van 330 miljoen, het reeds 54% van hulle bevolking ingeënt. In verskillende state is alle inperkingsmaatreëls reeds opgeskort en keer die lewe na normaal terug. Israel met 65% en Brittanje met 66% persone ingeënt, bewys soos die VSA die doeltreffendheid van sekere entstowwe.

Die nuutste VSA syfers wys dat 99% van die mense wat as gevolg van ernstige Covid komplikasies in die hospitaal opgeneem is en 99% van die wat aan Covid dood is, nie ingeënt was nie.

Die enigste punt waar ek met die EFF-optog saamgestem het, was dat die regering se inentingsprogram besig is om klaaglik te misluk.

Eerstens het hulle te laat begin met die aankoop van inentingstowwe. Tans is die bottelnek die regering se pogings om alles alleen te wil beheer. Daarom keer hulle die privaatsektor wat ook bereid is om entstowwe so vinnig moontlik in die hande te probeer kry en te versprei. Die rede is die ANC se ou sosialistiese en SAKP instinkte.

Hierdie instinkte het tot op datum meeste sake wat hulle aangepak het, laat misluk. Waarom sal dit nou anders wees?

Syfers van ander lande wys dat ekonomiese herstel regstreeks verband hou met hoe suksesvol jou inentingsprogram is. Die ANC se volharding om die entstofprogram alleen te wil beheer, maak dat Suid-Afrika myle agter die res van die wêreld en selfs agter die gemiddeld vir Afrika is.

As president Ramaphosa ’n sukses van die inentingsprogram en van die herstel van die ekonomie wil maak, moet hy dringend die privaatsektor nader trek as vennoot. Net so dringend moet hy kennis neem van wat president Reagan van die VSA oor kommunistiese instinkte gesê het: “Communism only works in heaven, where they don’t need it, and in hell, where they’ve already got it.”

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige parlementslid en professor.