Kan die Polisie nog hulle mandaat uitvoer?

Pieter Mulder

3 Augustus 2021

“Die Polisie kan nie meer hul mandaat uitvoer nie,” het Genl. Khehla Sithole, Polisie Kommissaris voor die Parlementêre Portefeuljekomitee gesê. Hy het begrotingstekorte en allerlei ander redes daarvoor aangevoer.

Ek stem saam met genl. Khehla, maar om heeltemal ander redes.

My oupa het twee Langenhoven spreuke teen sy studeerkamermure gehad. Hierdie spreuke het nuwe betekenis gekry terwyl ek tydens die onluste op televisie gekyk het hoe inkopiesentrums leeggedra word en reuse pakhuise afgebrand word.

89 inkopiesentrums en 45 pakhuise is in KwaZulu-Natal geplunder en afgebrand. 139 skole is beskadig.

“Om af te breek, is geen kuns nie,” was die bewoording van die een Langenhoven-spreuk. Op televisie sien ek presies dit. Geboue, skole en besighede, wat met fyn beplanning oor dekades opgebou is, word in een dag afgebreek. Die rede waarom eie skole beskadig word, sal ek nooit verstaan nie.

Die ander spreuk was: “Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het hulle kan byt.”

By enkele inkopiesentrums was die polisie sigbaar. Die plunderende skare het geen ag op hulle geslaan nie. Hierdie polisie het oor die jare gewys hulle het geen byt nie. Die skare vrees hulle nie. Hulle knor is niks werd nie.

Daar is ’n groot verskil tussen veilig wees en veilig voel. Inwoners voel skielik nie meer veilig in hulle woonbuurte na die onluste nie. Die polisie sê hulle wou nie mense doodskiet nie – toe doen hulle niks. Daar is baie stappe tussen niks doen en skiet. In ander lande sien ons polisie met skilde, traanrook, waterkanonne en veiligheidsdraad wat afgerol word.

Talle ontstellende video’s van die plundering het op sosiale media gesirkuleer. Video’s van mense wat yskaste en wasmasjiene in die stof agter hulle aansleep. Van ’n netjies aangetrekte plunderaar wat ’n fiets in ’n Mercedes Benz probeer inlaai. Niks armoedigs aan hom nie. Armoede het sekerlik ’n rol by sommige gespeel maar ’n bakkie wat vol yskaste gelaai word en dan daarmee wegry, het niks met armoede te doen nie.

Die video wat my egter die meeste ontstel het, was van ’n groep mans wat rond beweeg en skreeu: “There is another one”. Ek het eers nie geweet waarna hulle verwys nie. Toe word dit duidelik. Hulle soek polisielede. Na hulle nog ’n polisielid gekry het, plaas hulle hom langs twee ander wat reeds bedremmeld teen ’n muur staan. Die skare skeer met hulle gek en beveel hulle om te sit. Gedwee gaan sit die drie polisielede.

Hoekom het dit my ontstel? Omdat ’n aanval op die polisie eintlik ’n aanval op die staat is.

In Staatsleer het ek geleer dat die staat die monopolie op geweld besit.

In die Bybel het ek in Romeine 13 oor die owerheid geleer: “Want die owerheid is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. “

“Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie; want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”

Die wyse waarop die skare teen die drie polisielede optree, bevestig vir my dat die staat sy “swaardmag” verloor het. Uit die video is dit duidelik dat die polisie, as deel van die staat se swaardmag, nie meer die monopolie op geweld besit nie. Dit het ingrypende implikasies want mislukte state lyk so. Van so ’n mislukte staat word gesê: “The president is in office, but not in power.” Dit is treffend geïllustreer toe die president op televisie die plunderaars opdrag gee om dadelik die plundering te staak. Terwyl ons na die president kyk, wys die televisie in ’n aparte klein televisieskermpie hoe die plundering tydens sy toespraak voortgaan met geen polisie ingryping of polisie sigbaarheid nie.

As burgers het ons reeds geleer dat die staatsdiens swak is. As alternatief het ons eie dienste ontwikkel soos koerierdienste om die poskantoor se werk te doen.

As burgers het ons reeds geleer dat die polisie ons nie teen misdaad kan beskerm nie. As alternatief het ons amper drie keer soveel privaat sekuriteitsbeamptes as polisie.

As burgers het ons nou uit die onluste geleer, dat die polisie ons nie teen massa onrus kan beskerm nie. As alternatief vertrou gemeenskappe nou op buurtwagte en eie wapens.

KwaZulu-Natal se premier Sihle Zikalala kritiseer buurtwagte en in hierdie tyd probeer minister Cele gewone burgers ontwapen.

Daar is geen manier hoe gewone burgers in die huidige klimaat hierdie ANC voorstelle sal aanvaar nie.

Op die kort termyn is buurtwagte, hoë mure en wapens ’n goeie manier van beskerming. As gevolg van al die onsekerhede oor die toekoms gaan meer wapens en hoër mure ons nie noodwendig op die lang termyn kan beskerm nie. Sekere gemeenskappe soos Zoeloesprekers, Xhosasprekers en ander is nog grootliks in Suid-Afrika in sekere gebiede gekonsentreerd. So praat 77% van KZN se bevolking Zoeloe en 79% van die Oos-Kaap praat Xhosa. Vanweë Suid-Afrika se geskiedenis is Afrikaners egter oor die hele land versprei en nie op dieselfde wyse gekonsentreerd nie. Vir lang termyn veiligheid is groter konsentrasies nodig soos tans in Orania gebeur of in die dertig gebiede wat Solidariteit as konsentrasiepunte geïdentifiseer het.

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus parlementslid en professor.

865 woorde