Duitsland, Engeland en Britse Konsentrasiekampe
Pieter Mulder
Junie 2021
Duitsland het verlede week vir die eerste keer erken hy het volksmoord op die Herero- en Nama-mense tydens die koloniale besetting van Namibië gepleeg. Hulle belowe R18 miljard as kompensasie.
Onwillekeurig dink ek aan ons konsentrasiekampgeskiedenis.
Kitchener, die Britse opperbevelvoerder, het tydens die Anglo-Boereoorlog, die vroue in die konsentrasiekampe in twee kategorieë ingedeel.
Die “vlugtelinge” was die vroue en kinders waarvan die pa’s reeds oorgegee het.
Die “ongewenstes” was die vroue wat nog lojaal aan die Boere Republieke was en wie se mans nog geveg het. Hierna het hy opdrag gegee dat die “ongewenstes” net helfte van die kosrantsoene kry. Dit moes druk op die vroue sit om hulle mans te oortuig om op te hou veg. Dan kan hulle en hulle kinders meer kos kry. Vandag beslis ’n oorlogsmisdaad.
Magrietha Swart het so agt kinders tussen een en vyftien in Standerton se konsentrasiekamp verloor. Almal het aan wanvoeding gely en is binne twee weke van mekaar dood. Net Magrietha het oorleef. Sy was 35 jaar oud.
Maria Potgieter was dertien jaar oud in die konsentrasiekamp. Omdat haar ma dood is, was sy verantwoordelik vir haar vier kleiner boeties. Sy was my ouma wat vir lang tye by ons gebly het. Ek het haar stories uit hierdie tye aangeteken.
Omdat haar pa, kommandant FJ Potgieter nog geveg het, is sy en die boeties as “ongewenstes” verklaar. Die Britte het hierdie “ongewenstes” na Natal gestuur. Merebank-kamp by Durban is nuut gebou juis vir hierdie doel.
Sonder dat Maria verstaan waarom, word sy en haar broertjies in oop steenkooltrokke gelaai. Niemand het aan haar gesê waarheen hulle gaan nie. Vir etlike dae lank was hulle in die oop trokke. Met tye het hulle papnat gereën. Met ’n rokende stoomlokomotief voor aan die trein verstik en versmoor die boeties amper elke keer as hulle deur ’n tonnel ry. Met ’n sakdoek probeer sy hulle neuse toehou in die tonnels. Daar is natuurlik geen toilet in ’n oop steenkooltrok nie. Hulle span maar ’n kombers in die een hoek van die trok as iemand ’n behoefte het. Van die kinders huil omdat hulle honger en dors is. In Merebank is haar een boetie dood. “Bloedmaag”, het ouma dit verduidelik – van die kos.
Soek ek geld van die Britte as kompensasie?
Nee. Dit sal vir my ’n vernedering wees om te reken ’n paar Britse pond kan die trauma van my ouma as dertienjarige regmaak. Hoe kan dit ooit vergoed vir Magrietha Swart se agt kinders?
Heiko Maas, Duitse Minister van Buitelandse Sake, het gesê: “In die lig van die morele verpligting van Duitsland, gaan ons vergifnis van Namibië en die slagoffers se nasate vra vir die gruwels wat plaasgevind het.”
Sal dit my tevrede stel as die Britte die onreg en gruwel erken?
Dit sal help — maar waar die Duitsers verskoning vra, regverdig die Britte in 2019 nog die konsentrasiekampe.
Rees-Mogg verduidelik in ’n 2019 televisie-onderhoud dat die kampe daar was vir die vroue se beskerming en om hulle kos te gee. Wat ’n wrede leuen.
Wie is Rees-Mogg? Hy is ’n senior lid van die Britse parlement en tans Leier van die Britse laerhuis. Hy spog ook met ’n graad van Oxford – nogal in Geskiedenis.
Na die oorlog skryf Jan Smuts as Afrikaner ’n brief aan Emily Hobhouse oor sy frustrasies met die uitkoms van die oorlog.
Sy antwoord: “You think it is bad to be an Afrikander at this moment – believe me it is far worse to be an English person. Your defeat is material, ours is moral”.
Vandag nog?
Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus parlementslid en professor.