Wil die ANC werklike versoening hê of kan hulle dit nie bekostig nie?
Dr Pieter Mulder voormalige Parlementslid
en Adjunk-Minister.
November 2018
“Versoening”, “samewerking” en “reënboognasie” was van die gewildste begrippe in toesprake in die tydperk toe president Mandela president was.
In artikels en koerantberigte die afgelope tyd word gevra tot watter mate met hierdie begrippe gevorder is? As jy na die parlement se gevegte kyk of net die wilde uitsprake op Twitter lees, was daar geen vordering nie.
Dr. Rina Venter, voormalige minister, skryf dat ons in ’n rondomtalie-debat is as dit oor versoening gaan omdat ons voorwaardes stel.
Ek kan talle voorbeelde noem van persone wat uitgereik het na die regering en die ANC sonder om enige voorwaardes te stel. Hulle is ontnugter deurdat hulle voorstelle geen reaksie of waardering van die regering gekry het nie.
Heindrich Wyngaard, politieke kommentator, verwys na die Waarheid-en-versoeningskommissie en dat versoening nie bereik word nie. Wittes moet opstaan en sê “Ons wil bou” in plaas van die regering te kritiseer, is sy advies.
Ek kan talle voorbeelde noem van wittes wat die laaste twintig jaar opgestaan het en gesê het “ons wil bou” en so hulle kundigheid en hulp aan byvoorbeeld sukkelende stadsrade aangebied het. Hulle aanbod is van die hand gewys.
In ruil daarvoor het ons uitsprake van pres. Mbeki gekry dat witmense spesiale setlaars in Suid-Afrika is. Dit beteken dat ons hier verduur word, maar eintlik nie hier hoort nie.
President Zuma het verder gegaan. Volgens hom was hier vrede in Suidelike Afrika totdat die wittes gearriveer het. Daarom skryf hy alle probleme, konflik en geweld aan die wittes toe. Hierdie standpunt skreeu teen die historiese feite van hoe swart stamme mekaar oor dekades uitgemoor het.
Shaka het die spesiale bulhoringformasie as aanvalstrategie vir sy krygers ontwikkel. Daarvolgens is die krygers soos die horings van ’n bul opgestel. Tydens ’n geveg met ander stamme het die horings dan geleidelik om die vyand beweeg totdat hulle omsingel is.
Die vraag aan Zuma is, wat het Shaka met die vyand wat so omsingel is, gemaak? Het hulle daar binne braaivleis vir die vyand gehou of aan hulle komberse vir die winter uitgedeel? Natuurlik nie!
Uit die toesprake van ANC leiers die afgelope tien jaar en die dade van hulle volgelinge blyk dit dat hulle nie in werklike versoening en die wegbeweeg van die verlede belang stel nie.
Hoekom nie?
Omdat die ANC ’n politieke party is met wyd uiteenlopende denkrigtings. Binne die ANC kry jy vryemarkdenkers, oortuigde kommuniste, vakbondsosialiste, tradisionele denkers en Biko-swart-bewussyn-Pan-Afrikaniste – almal in een party. Die enigste sement wat hulle binne die ANC bymekaar hou, is apartheid en die onregte van die verlede
Die gevolg is dat hulle nie werklike versoening en die wegbeweeg van die verlede kan bekostig nie. Dit moet lewendig gehou word om die party bymekaar te hou.
Een voorbeeld: Suid-Afrika het mooiklinkende vakansiedae soos Vrouedag, Menseregtedag, Jeugdag, Versoeningsdag, ens.
Die ANC sorg dat by elkeen van hierdie dae slegs op die ANC se verlede gefokus word en elke moontlike onreg van die verlede opgegrawe en lewendig gehou word, of dit nou feitelik korrek is of nie.
Op Vrouedag word altyd net na die ANC se 1956 vroue-optog verwys asook die swaarkry van ANC vroue in die verlede.
Meer as 6000 Afrikaner vroue het reeds in 1915 na die Uniegebou geloop en ’n petisie namens 40 000 vroue oorhandig. Die petisie het gevra vir die vrylating van onder andere generaal Christiaan De Wet, een van die helde van die Anglo-Boere-oorlog.
In 1940, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het altesame 9 800 vroue na die Uniegebou geloop om ‘n versoekskrif aan die eerste minister te oorhandig waarin vrede gevra is. Hierdie deel van die geskiedenis en die swaarkry van hierdie vroue bestaan nie vir die ANC regering nie.
By Menseregtedag word net oor Sharpeville gepraat. Die Sharpeville-botsing tussen die polisie en protesgangers word elke jaar net erger in die toesprake.
By Jeugdag word niks oor die huidige jeug se probleme en die toekoms gepraat nie. Alles handel oor die 1976 Soweto-opstande teen Afrikaans in skole. Die onregte wat in 1976 teen die swart skoliere gepleeg is en die polisie-optrede word jaarliks net al hoe wreder oorgedra. Van die feite wat verswyg word, is dat ses van die sewe skole wat aanvanklik aan die protesoptog in Soweto deelgeneem het, geen vak in Afrikaans aangebied het nie – alles slegs in Engels. In die sewende skool is Afrikaans vir net een vak gebruik.
Malema en sy geslag is op hierdie eensydige propaganda, en nie op Mandela se versoeningsboodskappe nie, grootgemaak. Die gevolg is die kru rassisme, haat en onverdraagsaamheid wat ons sopas weer in die parlement gesien het. Rassisme wat argumenteer dat witmense nie die reg het om in die wetgewer te praat nie.
Al hierdie aksies lei noodwendig tot ’n teenreaksie waar wittes na binne draai, minder versoenend uitreik en hulle energie gebruik om hulself en hulle kinders teen hierdie rasse-aanslae te beskerm. Onthou — daar is geen manier hoe jy samewerking en goeie verhoudinge op mense kan afdwing nie. As dit nie ’n vrywillige proses van alle deelnemers is nie, slaag dit nie.