Dr Pieter Mulder voormalige Parlementslid

 en Adjunk-Minister.

Oktober 2018

Elke aand op televisie sien ons motorbande en geboue wat brand met polisie wat met rubberkoeëls op betogers skiet. Jy kan met absolute sekerheid voorspel dat daar ten minste een diensleweringsprotes op die televisienuus sal wees.

Hoe het ons in hierdie situasie gekom?

Die ANC-regering se ekonomiese beleid — of eerder gebrek aan werklike beleid en kaderontplooiing het dit veroorsaak.

Die gevolg is ’n uiters hoë werkloosheidsyfer, groot armoede en geen dienslewering nie. Verder sê die betogers dat die regering slegs reageer op brandende bande en -geboue. Al hierdie faktore saamgevoeg lei tot deurlopende politieke en ekonomiese onstabiliteit in die land.

Die nuwe minister van finansies, mnr. Tito Mboweni, verwys in sy onlangse begrotingstoespraak na Jesaja 58 vers 12. Dit lui: “Jy sal bekend staan as ’n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.”

Sonder dat hy dit besef, erken die minister met hierdie aanhaling uit Jesaja dat die ANC Suid-Afrika en veral die Suid-Afrikaanse ekonomie amper tot op die grond afgebreek het.

Minister Mboweni doen dan in sy toespraak ’n beroep op buitelandse beleggers en die private sektor in Suid-Afrika om hier te kom belê om so die ekonomie te red. Hy hoop om so hierdie “afgebreekte mure” weer te begin opbou

Voordat buitelandse of plaaslike beleggers in Suid-Afrika kom belê, wil hulle weet of hier stabiliteit sal wees.

Suid-Afrika is tans polities en ekonomies onstabiel al verskil pro-regering kommentators met hierdie stelling.

Trevor Manuel was vir die grootste deel van Mandela se termyn en die hele termyn van Mbeki die enigste minister van finansies. Dit was vir 13 jaar van 1996 tot 2009.

In kontras hiermee was daar in Zuma se termyn vyf ministers van Finansies naamlik: Gordhan, Nene, Van Rooyen, weer Gordhan en Gigaba. In Ramaphosa se eerste agt maande het ons ook reeds twee ministers van Finansies gehad – Nene en Mboweni. Dit dui op ernstige ekonomiese onstabiliteit.

Maar kom ons meet stabiliteit deur die bril van objektiewe organisasies van buite Suid-Afrika.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) meet jaarliks 140 lande se mededingendheid. Suid-Afrika het vanjaar na die 67ste plek teruggesak nadat ons die vorige jaar 62ste was.

Wat eiendomsreg betref is die situasie nog slegter. Suid-Afrika het van die 56ste plek tot die 97ste teruggeval.

Fund for Peace is ’n internasionale nie-winsgewende burgerlike navorsingsorganisasie wat jaarliks die stabiliteit van 178 state evalueer en in volgorde rangskik.

Twaalf aanwysers word gebruik wat spesifieke sosiale-, ekonomiese-, veiligheids- en politieke toestande in elke land meet.

Lande word dan gerangskik van uiters stabiel tot stabiel met daarna ’n kolom vir lande waarvoor waarskuwings oor hulle stabiliteit gegee word. In 2018 val Suid-Afrika in hierdie kolom met die opskrif: “Verhoogde waarskuwing oor stabiliteit.”

Volgens die indeks is die mees stabiele state in volgorde Finland; Noorweë; Switserland en Denemarke.

Die vier mees onstabiele lande is Suid-Soedan; Somalië; Jemen en Sirië.

Suid Afrika val in die middel op nommer 85 uit die 178 state. Wat egter onstellend is, is dat Suid-Afrika uitgesonder word as een van die 20 lande wat die meeste verswak het die afgelope paar jaar.

Net sewe lande het vir vyf jaar in ’n ry, elke jaar swakker gevaar. Suid-Afrika is een van hierdie sewe lande saam met oorlogsgeteisterde lande soos Sirië en Jemen asook Venezuela.

Kan hierdie al groter wordende onstabiliteit omgedraai word?

Met die verkiesing van mnr. Ramaphosa was daar ’n tydperk van Ramaforia waarin dit gelyk het of in die regte rigting beweeg word. Deur ekonomiese groei en werkskepping as twee van sy belangrikste doelwitte te stel, het mnr. Ramaphosa as nuwe president dit reggekry.

Die besluit oor grondonteiening sonder vergoeding was beslis die grootste faktor wat gemaak het dat die Ramaforia-wittebrood van korte duur was. Hierdie besluit is deur die ANC kongres geforseer deur die Zuma-faksie in die ANC. Die Zuma-faksie bestaan uit ’n kombinasie van gedrewe sosialiste en Afrika tradisionaliste.

Die gedrewe sosialiste glo ons ekonomiese redding lê in die nasionalisering van myne en banke asook in grondonteiening sonder vergoeding.

Die tradisionaliste, bestaande uit konings en hoofmanne wat kommunale grond besit, het geen begrip vir private grondbesit met titelaktes nie. Oud-president Zuma en verskeie van sy ministers kom eintlik uit hierdie denkskool.

Dit is maklik om te sien waarom hierdie tradisionele siening van grond maklik versoen kan word met die sosialistiese en kommunistiese denkstroom dat alle grond aan die staat moet behoort.

Hoewel Afro-sosialisme orals in Afrika probeer is en deurlopend misluk het, is daar steeds ’n sterk faksie in die ANC wat daarin glo. Deur swart bemagtiging, regstellende aksie en sosiale toelaes word geld deur die huidige regering op ’n sosialistiese manier aan ANC ondersteuners en armes oorgedra. Die ironie is dat dit slegs moontlik is omdat die staat se belastinginkomste berus op ’n klein hardwerkende kapitalistiese minderheid.

Hoe lank is dit volhoubaar?

Mev. Margaret Thatcher, vorige Britse Eerste Minister, het verduidelik hoekom sosialisme nog orals in die wêreld misluk het. Sy het gesê: “The trouble with Socialism is that eventually you run out of other people’s money.”

Natuurlik wil Ramaphosa ʼn sukses van sy presidentstermyn maak. Tans betaal Suid-Afrika R5 600 per sekonde net om die rente op ons staatskuld te dek. Die sleutel tot sukses is dat die ekonomie baie moet groei om ons uit hierdie skuld te kry.

Wat moet gedoen word?

Die regering en spesifiek president Ramaphosa moet sterk en duidelike ekonomiese leiding gee om Suid-Afrika uit hierdie probleme te kry.

Daar was ʼn TV-program waar die gehoor tussen drie persone moes raai wie die regte mnr. Botha of Du Toit is. Die program eindig waar die aanbieder sê: “Sal die regte mnr. Botha opstaan.”

Suid-Afrika vra dieselfde vraag: “Sal die regte Ramaphosa asseblief opstaan.”

Is Ramaphosa ʼn oortuigde sosialis en goeie Cosatu vakbondman?

Is Ramaphosa ʼn baie ryk kapitalistiese sakeman, wat in sy vrye tyd met beeste en wild boer, en daarom besef dat die vrye mark die enigste manier is om uit hierdie ekonomiese moeras te kom?

Is Ramaphosa ʼn lojale ANC-kader wat die ANC en sy beleid bo alles stel?

Hoe is dit moontlik dat die sakewêreld en die SAKP albei in hulle skik is met sy verkiesing?

Al hierdie teenstrydighede is moontlik omdat Ramaphosa tot op datum alles vir almal was. Dit het hom president gemaak. Hy sal nie langer daarmee kan wegkom nie. Suid-Afrika is ekonomies diep in die moeilikheid. Daarom sal hy moet begin leiding gee. Watter kant toe hy ookal leiding gee, gaan hy onafwendbaar van hierdie uiteenlopende groepe wat hom nou ondersteun, kwaad maak. Dit is egter wat goeie leierskap vra.

Kan Ramaphosa die magte wat losgelaat is nog beheer?

Die vraag is wel of Ramaphosa die magte wat Zuma losgelaat het en wat Ramaphosa self in sy toesprake die laaste paar maande aangemoedig het, nog kan beheer?

Na die grondwetlike onderhandeling in die negentigerjare sê Ramaphosa in ʼn BBC televisiedokumentêr die volgende oor FW De Klerk: “In his speech on the second February 1990 he thought that by unbanning the ANC, he would be able to control political events in our country. I don’t believe that he knew that he was actually unleasing a force, which he would find far, far, far beyond his own political imagination and control”

Is Ramaphosa rondom grondonteiening nie presies in dieselfde posisie nie. Het hy nie magte losgelaat wat hy nie sal kan beheer nie? Dit lyk of Ramaphosa oor die kort termyn eers die 2019 verkiesing wil wen om daarna die ekonomie te probeer regruk. Dit gaan te laat wees. Hy moet nou reeds optree. (1250 woorde)