Watter tien reisplekke wat jy besoek het, het ’n ekstra besondere indruk op jou gemaak.
Parys, Londen, Washington, New York, Beijing, Sydney en Kaapstad is sewe indrukwekkende stede. Ek het egter hierdie bekende besoekpunte, wat ek al besoek het, nie gekies nie en eerder die ongewone plekke wat op my indruk gemaak het, probeer beskryf. My keuses gee ook iets weg van my belangstellings en prioriteite in die lewe.
1. Peterhof St Petersburg.
Dit is die indrukwekkende somerpaleis van Pieter die Grote en latere Russiese Tsaars by St Petersburg. Peterhof is gebou om buitelandse staatsmanne te beïndruk met honderde fonteine en watervalle wat almal sonder pompe met die natuurlike val van die grond loop en spuit. Die beste van Versailles en Europa se tuine en standbeelde is berekend hier herhaal. Pieter het besluit Rusland se toekoms is om na die Weste en soos Europa te ontwikkel. Toe bou hy die stad aan die heel Westekant van Rusland met ’n hawe na Europa en verander so man alleen Rusland se verdere geskiedenis en fokus weg van die Ooste.
2. Die Hubbard gletser Alaska
Die gletser is tien kilometer breed waar dit uitmond in die golf van Alaska. Ons het ’n wonderlike bootvaart al langs die kus van Alaska af tot by Kanada gehad. Sneeubedekte berge, diep fjords en pragtige natuurskoon. Die gletser was die hoogtepunt. Dit ontstaan 122 km land in op ’n hoogte van 3400 meter en die ys skuif dan stadig af see toe. Die diepblou ys is ongeveer 400 jaar oud as dit by die see kom waar stukke ys, tien verdiepings hoog met ’n gekraak en gedreun in die see val.
3. Familiemonument Salt Lake City
’n Pragtige monumentjie in Salt Lake City wat familiewaardes en nie ’n bigame huwelik uitbeeld nie. Op die monument, wat uit ’n man en vrou bestaan wat liefderik met hul kind speel, staan: “A secure family is a nations’ strength”. Ek glo ook sterk daarin en is net dankbaar om reeds 38 jaar gelukkig getroud te kan wees met ’n groot gesin. Ons gesin het Salt Lake City besoek tydens my na-doktorale studie in Madison Wisconsin in die VSA.
4. Konferensiekamer op Suid- en Noord Koreaanse grenslyn
Die grenslyn tussen Suid- en Noord Korea naby Panmunjom het tot stand gekom met die wapenstilstand wat die Koreaanse burgeroorlog beëindig het in 1953. Dit is die swaarste militêr bewaakte grens in die wêreld. Op die grenslyn is ’n gebou opgerig waar samesprekings tussen Suid en Noord gehou word. Die grenslyn gaan deur die konferensiekamer en loop in die middel van die konferensietafel sodat elke kant in sy eie land sit! Ek het daar ’n hartroerende beeldjie gekoop. Dit beeld die ware verhaal uit van twee broers wat mekaar na ’n geveg omhels nadat die een byna die ander in ’n geveg tussen Noord en Suid doodgeskiet het – die wrede werklikheid van ’n burgeroorlog.
In wat bekend staan as die vlagoorlog het die Suid-Koreane ’n 98 meter hoe vlagpaal met ’n 130 kg vlag langs die grens opgerig. Die Noord-Koreane het gereageer met die hoogste vlagpaal in die wêreld, 160 meter hoog met ’n 270 kg vlag bo-aan. Die konferensietafel en vlae beeld die gekheid vir my uit waartoe mense in staat is as die klem net op konflik en oorlog val.
5. Magersfontein en Afrikaanse geskiedenismonumente.
Magersfontein- en eintlik alle monumente wat Afrikanergeskiedenis in Suid-Afrika weergee. Generaal De la Rey slaag nie daarin om met ’n toespraak in die ou Transvaalse Volksraad die Anglo-Boere-oorlog te voorkom nie. Na die oorlogsverklaring veg hy dapper maar verloor sy geliefde seun Adriaan by van die eerste veldslae. Ek besoek graag Adriaan se graf en die slagveld waar die Boere ’n reuse oorwinning behaal het en die loopgrawe nog sigbaar is. Om die Voortrekkermonument op 16 Desember te besoek en die sonstraal op die senotaaf te sien skyn of die Vrouemonument se roerende standbeeld van die ma en sterwende kind, het dieselfde emosionele effek op my.
6. Middernagson en wit nagte in Alaska en Rusland.
Die middernagson en wit nagte, soos ek dit in Alaska en St Petersburg ervaar het, bly my fassineer. In die somer sak die son kort voor middernag waarna dit lig bly tot dit weer 3h00 die oggend opkom. My stokperdjie is Sterrekunde wat maak dat ek in die Auroras of Noorder- en Suiderligte belangstel.
7. Masada in Israel.
Masada in Israel as simbool van die Jode se stryd vir vryheid oor eeue. Die 400 meter hoë berg waarop 960 Jode in 73 nC selfmoord gepleeg het om te voorkom dat hulle deur die Romeine gevange geneem word. Van bo kan die Dooie See en die Romeinse kamp gesien word. Nadat huidige Israelse soldate hulle diensplig voltooi het, neem hulle ’n eed bo-op Masada dat Masada nooit weer in vyande se hande sal val nie. Die berg en sy geskiedenis raak jou en inspireer jou.
8. Noorderligte
9.Suezkanaal
10 Panamakanaal