HUISE, KOLONIALISME, STERRE BO EN ONDER. WIE IS REG?
DR PIETER MULDER, JUN 2003
Inleiding.
Volgende naweek (21/22 Junie) is dit die kortste dag en die langste nag in die Suidelike halfrond. Die teenoorgestelde gebeur natuurlik in die Noordelike halfrond. In sommige Noordelike halfrond lande kan mense tans tot elfuur (23h00) in die aand sport beoefen omdat dit steeds lig is.
Waar in die wêreld kan jy nie vuurwerke afskiet as die nuwe jaar om middernag aanbreek nie. In Antarktika. Hoekom? Is daar natuurbewaringsargumente of is dit dalk om godsdienstige redes? Nee. Die rede is eenvoudig. Daardie tyd van die jaar is dit weer die langste dag in die Suidelike halfrond. Dit beteken dat dit 24-uur lank lig is by Antarktika. Jy sal nie die vuurwerke kan sien nie al is dit middernag. By die Noordpool sal jy 24 uur lank vuurwerke kan afskiet omdat dit dan daar permanent donker is. Kom ons kyk na nog ’n paar verskille tussen die Noordelike en Suidelike halfrond.
1. Dom koloniale huise.
Soek jy ’n huis wat in die winter lekker son kry? Na watter kant moet so ’n huis front? Afhangende van waar jy op die aardbol is, verskil dit. In die Noordelike halfrond moet so ’n huis Suid front. In Suid-Afrika, aan die teenoorgestelde kant van die aardbol, moet so ’n huis egter Noord kyk anders gaan jy baie koud kry.
In 1903, na die Anglo Boere-oorlog, het die nuwe Britse regeerders hulle in Pretoria gevestig om oor die ou Transvaalse Republiek te regeer. Die koloniale kantoor in Londen moes vir hulle huisplanne aanstuur om amptelike en luukse wonings vir die goewerneur en sy senior amptenare te kon bou. Van hierdie huisplanne is suksesvol in ander Noordelike halfrond kolonies gebruik. Die nuwe amptelike wonings is toe volgens hierdie planne in die Bryntirion omgewing in Pretoria gebou. Die Britte het egter nooit daaraan gedink om Noord en Suid in die planne om te draai ten einde dit vir die Suidelike halfrond aan te pas nie. Baie van hierdie huise, wat vandag nog staan, is yskas koud in die winter. Die huise het die pragtigste groot vensters en balkonne — maar net aan die koue Suidelike kant van die huis.
2. Anti-koloniale horlosies.
Het jy ook al gesukkel om die instruksies te volg as daar staan, draai nou die deksel of die skroef anti-kloksgewys. Na watter kant is dit? Wie het na alles besluit wat is kloksgewys en wat anti-kloksgewys? Ja, jy kan dit ook ’n koloniale probleem noem! Blameer hulle gerus as jy sukkel!
Voor die eerste horlosies uitgevind is, is sonwysers in Europa gebruik om die tyd van die dag aan te dui. Soos die son beweeg, so beweeg die skaduwee op die sonwyser geleidelik van links na regs. Toe die eerste horlosie gemaak is, is besluit om die wysers, soos die sonwyser se skaduwee, ook van links na regs te laat beweeg. Dit sou die minimum verwarring veroorsaak terwyl mense aan die nuwe tyd-instrument gewoond raak.
Nou waarom beskuldig ek die mense van die Noordelike halfrond van kolonialisme net omdat hulle bepaal het wat is kloksgewys? Omdat die skaduwee van ’n sonwyser in die suidelike halfrond, anders as in die noorde, van regs na links beweeg. ’n Horlosie wat op dieselfde wyse in Suid-Afrika ontwerp sou word, sou die wysers en syfers dus in die teenoorgestelde rigting as ’n normale horlosie moes loop. In die Suidelike halfrond is kloksgewys dan anti-kloksgewys!
3. Koloniale Sterretekens?
Meeste mense kan dadelik vir jou sê onder watter sterreteken hy of sy gebore is. Is jy ’n Leeu, Maagd, Skerpioen, Weegskaal of wat?
Min mense kan hulle sterreteken in die nag uitken. Kan jy jou sterreteken in die hemelruim uitwys? Dit is baie moeilik.
Die sterrekundiges van die ou tyd het ’n leeu, ’n weegskaal en allerlei gode en karakters in die sterre gesien deur sekere sterre in hulle verbeelding met lyne te verbind. ’n Student, wat een van my sterre-kursusse bygewoon het, het tereg opgemerk. “Die ou sterrekundiges was of dronk of vol dagga toe hulle die name aan die konstellasies gegee het.” Slegs met baie verbeelding, en ’n bietjie rooiwyn, kan jy sien waarom hulle elke konstellasie ’n sekere naam gegee het.
Die ou sterrekundiges het uit Athene of Alexandrië hulle konstellasies geskep. Hulle het uit die Noordelike halfrond na die sterre gekyk. As jy in Suid-Afrika jou sterreteken in die nag soek, is dit nog moeiliker. Hoekom? Omdat Suid-Afrika in die Suidelike halfrond is. Dit beteken die sterretekens is nog onderstebo ook. Jy moet dus ’n onderstebo leeu of ram in die lug soek.
Is hierdie sterretekens so universeel as wat die Westerse wêreld wil voorgee? Geensins. Soos meeste ander verskynsels is dit kultuurgebonde – tipies van die Westerse kultuur maar vreemd in die Oosterse- en Afrika kulture. In die Ooste en in Afrika het mense ander tekens en karakters in dieselfde sterre gesien. Hulle het hulle eie stories en name, wat eie aan hulle wêreld is, hieraan gegee. Net enkele voorbeelde:
Die bekendste sterre is waarskynlik die drie helder sterre wat volgens die ou sterrekundiges die belt vorm van Orion die jagter. Sommige mense praat ook van die sterre as die drie konings of drie susters. Daar naby is drie dowwer sterre wat die jagter se swaard vorm soos dit van sy belt afhang. Tot die Bybel verwys na hierdie konstellasie (Amos 5:8). In Suid-Afrika is Orion die jagter natuurlik onderstebo.
In die Tswana kultuur is die drie sterre in Orion se swaard bekend as “dintsa lê Dikolobe” of die drie honde. Die drie honde jaag drie vlakvarke of die helder sterre van Orion se gordel. Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt gesien maak so ’n beeld baie meer sin. Die beeld is boonop nie onderstebo nie!
Volgens Namakwa-oorlewering is die drie helder sterre wat Orion se gordel vorm, eintlik drie Sebras. Die drie dowwe sterre wat sy swaard vorm, is volgens hulle die pyl van ’n jagter wat sopas die Sebras misgeskiet het. In die Suidelike halfrond staan hierdie jagter natuurlik regop by die ster Aldebaran. Die Namakwas se jagter is die ou sterrekundiges se onderstebo Taurus die bul.
Nou wie is reg? Wie het besluit Noord is bo en Suid is onder? Dit ruik mos nou ook na kolonialisme! Soos die aarde in die ruimte hang is daar nie werklik ’n bo of ’n onder nie. So kan daar ook nie ’n reg of verkeerd wees in hierdie sterredebat nie. In die Suid-Afrikaanse Parlement is daar dan ook ’n wêreldkaart, met Suid bo en Noord onder, om hierdie punt te illustreer!
4. Konflik en Begrip.
In ’n wêreld van konflik soek ons vrede en goeie verhoudinge. Dit is nie moontlik sonder begrip vir mekaar en vir verskille nie. Noordelike en Suidelike sterrebeelde is ’n manier om dit te illustreer. Werklike begrip vind eers plaas as jy besef dat twee mense se sienings, soos gesien uit elkeen se oogpunt, albei reg kan wees!