Parlement na twintig jaar
Hoe vergelyk die Mandela parlement van 1994 met die Zuma parlement van 2014?
Dr Pieter Mulder, VF Plus leier en lid van 1994 en 2014 parlemente
Waar President Mandela ʼn jaar terug dood is en ons aan die einde van 2014 terugkyk na hoe Suid-Afrika twintig jaar na 1994 lyk, word die vraag aan my gevra: Hoe vergelyk die Mandela parlement van 1994 met die Zuma parlement van 2014?
A- en C-Spanne.
In 1994 het die ANC sonder twyfel hulle A-span in die parlement gehad. ANC parlementslede was oorwegend ervare persone wat jare lank op internasionale vlak ervaring opgedoen het. Dit kon jy sien uit die vlak van debat en die wyse waarop verskil is. Omdat dit aanvanklik ook ʼn regering van nasionale eenheid was met die NP en die IVP in die regering, was besluitneming dikwels ʼn gee-en-neem proses.
Lughawe-name is ʼn voorbeeld. In die gees van versoening en kompromie is in die Mandela parlement ooreengekom om nie politici van enige kant te vernoem nie. Jan Smuts lughawe is na Johannesburg Internasionaal; JBM Hertzog na Bloemfontein lughawe; DF Malan na Kaapstad Internasionaal; ens verander.
In die Mbeki- en Zuma-parlemente het min oorgebly van hierdie gee-en-neem denke. Ons beroepe dat by die oorspronklike ooreenkomste ten opsigte van lughawe-name gehou moet word, is verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici, maar net van die ander kant af. Johannesburg het OR Tambo geword; Bloemfontein Braam Fischer; ens.
Van die 400 parlementslede van 1994 is nog net 12 in die parlement oor. Dit sluit myself en twee Vryheidsfront parlementslede in. In enige parlement is nuwe bloed goed. Dit bring vernuwing en nuwe idees. Die nadeel is egter dat daar geen kontinuïteit is nie. In debatte moet ons met alle sake van heel voor af begin. In portefeuljekomitees vat dit tot twee jaar voor nuwe parlementslede die tegniese aspekte onder die knie het en ʼn bydrae kan begin maak.
Waar is al die 1994 parlementslede heen?
Baie van die ANC parlementslede is deur die sakewêreld opgeraap. Met swart bemagtiging is dit goed om ʼn swart ANC parlementslid as direksielid of in jou bestuur te hê. Dit mag deure na die regering help oopmaak terwyl dit ook help om aan die swartbemagtigingskwotas te voldoen.
Baie parlementslede is in die staatsdiens wat tans, soos die sakesektor, beter betaal as die parlement. Die gevolg is dat ons nou met die B- en C-span ANC leiers in die parlement sit. Baie van die nuwe parlementslede was burgemeesters of stadsraadslede in klein dorpies. Dit beteken dat hulle met baie arrogansie en min kennis hier aankom. As die ANC se C-span in die parlement sit, vrees ek dat die D- en E-spanne tans in die provinsies en in stadsrade sit. Dit verklaar baie van ons probleme.
Parlement se rol.
In 1994 was die parlement die belangrikste politieke forum in die land. Alle belangrike politieke aankondigings en debatte is in die parlement gedoen. Die media kon nie bekostig om nie daar te wees nie. Die eerste tien jaar veral was die parlement baie besig met die maak van nuwe wette, die skrap van oues en die hertoekenning van begrotings.
Twintig jaar later in die Zuma parlement is die rol van die parlement grootliks afgeskaal. Min wette word tans gemaak. Die begroting is vanjaar in drie weke deur gestoomroller. Die parlement word tans besig gehou met debatte oor nasionale dae en allerlei niksseggende mosies wat verval na die bespreking afgehandel is. Die EFF-kapperjolle het negatiewe aandag op die parlement gevestig maar dit het nie die rol van die parlement herstel nie.
Die president en ministers verkies om belangrike aankondigings in Pretoria by die Uniegeboue te maak. Die gevolg is dat meeste nuuskantore hulle personeel in Kaapstad by die parlement drasties verminder het.
Skeiding van magte: Toesig van die wetgewende gesag oor die uitvoerende gesag.
Die parlement se taak is om toesig te hou oor die kabinet en die staatsdiens. In die Zuma-parlement het dit net teorie geword. Die ANC parlementslede het reeds verskeie kere gewys dat hulle niks sal doen wat die geringste ongemaklikheid vir die president of die ministers kan veroorsaak nie. In debatte oor byvoorbeeld Nkandla was die verleentheid van sommige ANC parlementslede sigbaar soos hulle sake probeer verdedig waar hulle weet die opposisie argumente is korrek.
Waar president Mbeki die mag van die ANC hoofkantoor in Luthuli-huis na die kabinet begin oorplaas het, is dit nou weer volledig terug in Luthuli-huis. Luthuli-huis bepaal wat die uitvoerende en wetgewende gesag doen. Ons sal weke in ʼn portefeuljekomitee sit en onderhoude met aansoekers vir byvoorbeeld ʼn nuwe SAUK-raad voer. Aan die einde word jy gekonfronteer met ʼn lysie name wat van Luthuli-huis op die komitee afgedwing is. Dit terwyl ons almal weet dit was nie die beste kandidate tydens die onderhoude nie.
Die aanspreeklikheid van die president.
Die president word deur ʼn kieskollege van parlementslede met ʼn geheime stem verkies. Dit is wat die grondwet bepaal. As die president ernstige foute maak of nie sy werk doen nie, moet die parlement hom/haar onthef. Tans is dit egter net teorie.
Die ANC het die afgelope twintig jaar dit in die praktyk so verander dat die president net aanspreeklik is teenoor die ANC.
Toe president Mbeki as president onthef is, het die parlement, wat hom gekies het, geen rol daarin gespeel nie. Opposisiepartye het in die media daarvan verneem. President Mbeki is deur die ANC se Uitvoerende raad as president onthef. Toe hy ʼn versoek rig om in ʼn toespraak die parlement te groet, is dit deur die ANC geweier.
Die huidige gebeure rondom die Nkandla-verslag bevestig hoe die parlement deur die ANC die afgelope twintig jaar verswak en ontmagtig is. Geen president in die demokratiese wêreld sou soortgelyke Nkandla-, Gupta- en ander ondersoeke oorleef het, soos president Zuma met parlementsbeskerming reg gekry het nie.
Buitelandse beleid
ʼn Goeie voorbeeld van die verskille tussen die Mandela-regering en die Zuma-regering is SA se buitelandse beleid. In 1994 ontvang president Mandela die Nobelprys vir vrede. Suid-Afrika se beeld is die van ʼn kampioen wat staan vir menseregte orals in die wêreld. Toe Nigerië die omgewingsaktivis Ken Saro-Wiwa in 1995 teregstel, het president Mandela nie gehuiwer om ʼn mede-Afrikaland ernstig te veroordeel en saam te stem dat Nigerië vir drie jaar uit die Statebond geskors word nie.
In die jare hierna het Suid-Afrika in sy stempatroon in die Verenigde Nasies van hierdie beeld wegbeweeg. Ons het telkens kant gekies vir die menseregte muishonde van die internasionale wêreld. So het ons ten gunste van Kuba, Noord-Korea, Iran en Mianmar in die Verenigde Nasies gestem om ons beeld as menseregtekampioen heeltemal te vernietig. Die 2014 weiering van ʼn visum aan die Dalai Lama, wat in 1996 ʼn visum gekry het om president Mandela in Suid-Afrika te besoek, het hierdie beeld bevestig. As die Dalai Lama sy naam na Dalai Gupta kon verander, sal hy op Waterkloof lughawe verwelkom word, het die wrang grappie hierna gelui.
Slot.
Al bogenoemde gebeur as ʼn regering te veel mag vir te lank het. Die vraag is of dit beter of slegter sal gaan met wie ook al president word na Zuma? Een ding is seker. Dit sal ʼn persoon met baie sterk leierseienskappe verg om na president Zuma die skade hierbo aangedui, te herstel.