Die klokkies lui skerp deur die hele parlementsgebou. Dit beteken dat die sitting binnekort gaan begin. My ma Suzanne sit in die Volksraadsaal se galery. Daar is afwagting in die galery en in die Volksraadsaal waar my Pa Connie as parlementslid sit. Dr Verwoerd praat vanmiddag. Daar word verwag dat hy belangrike aankondigings gaan maak oor Suid-Afrika se verhoudinge met sy swart buurstate.

Enkele dae van te vore het die Eerste Minister van Lesotho, Leabua Jonathan, ’n historiese eerste besoek aan Suid-Afrika gebring. Na drie uur van private gesprekvoering tussen mnr. Jonathan en dr. Verwoerd is ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin groter wedersydse vriendskap en samewerking tussen die lande in die vooruitsig gestel is.

Dr Verwoerd en hoofman Leabua Jonathan Eerste Minister van Lesotho.

Dr. en mev. Verwoerd kom net voor 14h00 by die parlement aan. Dr. Verwoerd gaan sit in sy sitplek terwyl mev. Verwoerd met die hysbak opry na die galery toe.

Die klokkies lui steeds. Dit is 14h14, Dinsdag 6 September 1966. My ma sien hoe ’n parlementsbode vanaf die Volksraadsaal se deur dwars oor die vloer na dr. Verwoerd stap. Sy onthou die donker krulhare. Meeste bodes in die parlement is ouer grys persone maar hierdie man is jonger en groot met donker hare.

Bodes bring gewoonlik boodskappe na parlementslede. Dr. Verwoerd glimlag en steek sy hand uit na die man om die briefie te neem. My ma kan nie verstaan waarom die man skielik dr. Verwoerd met sy vuis op die bors slaan nie. Met die derde vuisslag sien sy die dolk in sy hand. Vier keer steek hy dr. Verwoerd in die borskas voordat van die parlementslede en veiligheidspersoneel hom van dr. Verwoerd afruk. Dr. Verwoerd word geelwit in sy gesig terwyl sy kop vooroor sak.

Mev. Tinie Vorster en van die ander vroue keer, by die deur na die galery, dat mev. Verwoerd inkom. Sy vra: “Is dit my man?”

Mev. Verwoerd beskryf dit so in haar eie woorde in haar dagboek:

“Onmiddellik dink ek hy het ’n hartaanval gekry, n.a.v. ’n pyn in die sy wat hy ’n tydjie gelede gehad het.

“Ek stap toe dadelik na sy kantoor, mev. Vorster ook, menende hulle sal hom daarheen dra om op ’n dokter te wag. Toe ons deur die wandelgang loop, sien ek hulle hou ’n man (Tsafendas) vas met bloed oor sy gesig.

“Toe vra ek: ‘Wat het gebeur?’

“En sy sê: ‘Hy is gesteek.’

“In die kantoor sê ek vir haar: ‘My geloof is sterk, ek voel net soos die vorige keer, hy sal regkom. Ons moet net bid.’

“Ons kniel toe en sy (mev. Vorster) bid hardop – amper te ontsteld, het ek gedink.

“Ná ’n rukkie, toe hulle hom nie bring nie, sê ek ek wil na hom toe gaan. Ons stap toe na die Raadsaal en hulle laat my alleen toe. Ek sien hom in sy bank sit, gesteun deur ander, geelbleek, bloedloos. Ek loop agter hom om, vat aan sy kop, klam – ek weet nie of ek hom verder aangeraak het nie, ek dink ek het hardop gesê: ‘My skat!’ en ‘Here, help!’

“Iemand was besig met mond-tot-mondasemhaling, ek dink dr. Morrison. Ek voel skielik in die pad en loop weer kantoor toe. Hulle sê hulle kry ’n ambulans om hom hospitaal toe te neem. Ek wag om te hoor watter hospitaal. Hulle bring vir my tee.

“Eindelik kom die berig: Groote Schuur Hospitaal. Ons is daarheen. Ek word na die Superintendent se kantoor geneem, waar hulle my voorstel aan ds. Kinghorn, wat vroeër Els-hulle se predikant in Pinelands was. Hy kom staan by my en kyk my in die oë, maar sê niks.

“Toe sê ek: ‘Wil u my iets sê, Dominee? Is dit verby?’

 “’Ja, Mevrou,’ sê hy. Toe gaan ons huis toe.”

Die sitplek in die Volksraad waar dr Verwoerd vermoor is.

Hansard is die woordelikse verslag van alles wat in die Parlement gebeur. Die Hansard verslag van 6 September 1966 is waarskynlik die kortste verslag in die geskiedenis van die Parlement. In kolom 2087 staan daar:

“Gebed – 2.40 nm.

“Die Minister van vervoer (Minister Ben Schoeman):

“Meneer die Speaker, ek het nog nie amptelik van die hospitaal verneem of die Eerste Minister nog lewe nie; ek glo nie. Ek wil dus op hierdie tydstip onbestrede voorstel –

“Dat die Raad nou verdaag.

“Goedgekeur.

“Die Raad verdaag om 2.43 nm.”

Drie minute wat Suid-Afrika se geskiedenis verander het.

In dieselfde parlementsgebou het die Britse Eerste Minister, Harold Macmillan in 1960 sy bekende “Winde van verandering” toespraak gehou.

In sy reaksie daarop het dr. Verwoerd gesê:

Die neiging in Afrika dat volke onafhanklik word en, terselfdertyd, die behoefte om aan almal reg te laat geskied, beteken nie net om regverdig teenoor die swartman van Afrika te wees nie maar ook om regverdig teenoor die witman van Afrika te wees.”

Vandag is hierdie stelling in Suid-Afrika steeds waar.

Mevrou Betsie Verwoerd, weduwee van dr Verwoerd word by sy begrafnis in die Heldeakker in Pretoria deur hulle oudste seun dr Wilhelm Verwoerd bygestaan.