Junie-Emily Hobhouse artikel

Dr. Pieter Mulder

8 Junie 1926 sterf Emily Hobhouse eensaam in Engeland.

In haar eie land is sy tot vandag toe grootliks onbekend en alleen dood.

In Suid-Afrika is sy die eerste buitelander wat ’n staatsbegrafnis gekry het en tot vandag toe ook die enigste.

Wie was hierdie Emily Hobhouse?

Sy was ’n Engelse maatskaplike werker uit die Britse hoë klas maar ook ’n pasifis en kampvegter vir vroueregte.

Toe die Britte 5 Junie 1900 Pretoria inneem, aanvaar hulle die Anglo-Boereoorlog is verby. Medaljes word uitgedeel en oorwinningsbankette in Londen gehou. Die Boere sien dit egter steeds as ’n onwettige besetting van hulle land en gaan oor tot guerilla-oorlogvoering. Die Britse generaals se antwoord is om plaashuise voor die voet te begin afbrand, skure te vernietig, skape, beeste, varke dood te maak en landerye af te brand.

Die Britte het meer as 8 000 Boere plase afgebrand as deel van die verbrande aarde beleid. Vroue en kinders is teen hulle sin in oop treintrokke na kampe geneem sodat hulle nie meer hulle mans kon ondersteun nie. Die Britse generaals het geglo die Boere sal hulle wapens neerlê as hulle besef hulle gesinne is in kampe.

Kitchener as Britse bevelvoerder gee opdrag dat die vroue en kinders in twee kategorieë ingedeel word. Om druk op die pa’s wat nog veg te sit, moet gesinne waarvan die pa’s en seuns nog veg, as “ongewenstes” bekend staan en helfte van die kos kry wat die Boere “vlugtelinge”, die ander kategorie kry. Hierdie “vlugtelinge” is Boeregesinne waarvan die pa’s reeds oorgegee het – wapenneerlêers of “hensoppers” soos die vegtendes hulle genoem het.

Emily Hobhouse kry verwarrende verslae oor wat presies in Suid-Afrika gebeur. Sy besluit om self te gaan ondersoek instel en te kyk of sy kan help. Sy samel geld en klere in en vertrek na Suid-Afrika.

Toe Emily Bloemfontein se “vlugtelingkamp” besoek, is sy geskok oor die toestande. Die mees basiese lewensmiddele ontbreek. Sy skryf: “Daar is nie kerse nie, daar is geen seep nie en die toilette is onbruikbaar. Daar is nie’n lykstent nie, die dooies lê in die hitte tussen die mense tot hulle begrawe word. Oral sit vlieë dik en pikswart, gemiddel nege tot tien mense ingedruk in ’n klein tent. Omtrent geen hout of kole om enige drinkwater of kos te kook nie. Ingewandkoors kom orals voor en die kos is nie naastenby genoeg nie.”

Sy vertrek per trein om ander kampe te besoek. By Springfontein tref sy 600 vroue en kinders aan wat verplig word om sonder enige skuiling in oop treintrokke in die son, reën en wind te sit. Hulle is al twee dae lank daar. Kinders huil in die trokke want hulle het drie dae laas iets te ete gehad. Tien dae later kom sy weer by Springfontein verby. Tot haar afgryse is dieselfde groep van 600 vroue en kinders steeds op die stasie.

In haar dagboek skryf Emily oor ‘n moeder wat op haar trommeltjie sit, met haar kind op haar skoot. Sy het niks gehad om hom te gee nie, en hy was duidelik besig om te sterf.

“Ek het nog by die Britse kampkommandant ‘n bietjie brandewyn laat vra om te kyk of ons hom nie daarmee kon bybring nie, maar hy wou niks gee nie. Saam het ons toe in eerbiedige stilte toegekyk hoe die kleintjie sy laaste asem uitblaas

“Die moeder het haar nie verroer nie, sy’t nie gehuil nie. Dit was haar enigste kind. Met droë oë maar ‘n krytwit gesig het sy bewegingloos daar gesit en gekyk – nie na die kind nie, maar ver, ver weg in die afgronde van smart wat anderkant trane lê.

“‘n Vriendin het agter haar gestaan en die hemel tot getuie geroep van die tragedie; ander om haar het gesnik – sy, niks nie.

“Die hele tragiek van oorlog lê vir my opgesluit in daardie toneel van kinderlyding en vrouesmart,” skryf Emily.

Hierdie toneel uit Emily se Springfontein dagboekinskrywing, word die fokus beeldegroep van die Vrouemonument.

Die fokus beeldegroep by die Vrouemonument in Bloemfontein. Die beeldegroep is gemaak na aanleiding van Emily Hobhouse se dagboekbeskrywing van die toneel by Springfontein van die moeder wie se kind sterf.

Emily help waar sy kan. Sy deel kos en klere uit. ’n Uitgeteerde Lizzie van Zyl lê op haar bed in ’n bekende foto. In haar arms hou sy ’n pop wat Emily aan haar gegee het. Sy is dood kort na die foto geneem is. Die van Zyl-gesin het min rantsoen gekry want hulle was “ongewenstes” wie se pa nog geveg het.

’n Uitgeteerde Lizzie van Zyl lê met die pop wat Emily Hobhouse aan haar gegee het. Die Van Zyls het minder rantsoene gekry as ander in die konsentrasiekamp .

Die Britse Generaals verbied Emily om verder Noord te gaan en kampe in Transvaal te besoek. Genl.maj. George Pretyman , militêre goewerneur van Bloemfontein skryf “ek kan sien sy het baie simpatie met ons vyande… Ek is bevrees die soort fanatikus sal nie ons saak goed doen nie.”

Kitchener rapporteer aan die Britse regering: ”Die rantsoene is genoeg en die families in die kampe is tevrede en gemaklik”

Emily verskil baie ernstig hiervan. Sy besluit om die geveg in Brittanje voort te sit. Toe sy uit Suid-Afrika weg is, het 343 mense uit elke 1000 in die kampe gesterf. Dit beteken een uit elke drie in die kampe sterf. In Brittanje slaag sy daarin om ’n debat in die parlement oor die kamptoestande te kry. Haar verslae word ook aan Britse parlementslede versprei. Deur haar toedoen verbeter die toestande in die kampe.

Uit dankbaarheid vir wat sy gedoen het, stuur die boerevroue na die oorlog elke jaar op haar verjaardag aan haar ’n geskenk. Hulle samel ook halfkrone in om haar te help om ’n aftreehuis in Engeland te kan koop.

Na die oorlog word die vrouemonument ter herinnering aan die lyding van die vroue en kinders opgerig.

Met haar dood is Emily by die Vrouemonument begrawe.

Vooraan haar begrafnisstoet is manne op perde. Almal seuns uit die konsentrasiekampe wat sy help red het. Ses meisies in wit dra die kissie met Emily se as. Dan volg ses meisies en een seun wat almal uit dankbaarheid na Emily vernoem is.

Emily Hobhouse se begrafnisstoet met die dogters en een seun wat deur hulle moeders uit dankbaarheid na Emily vernoem is, voor aan die stoet — 27 Okt 1926

Net President Steyn as politieke leier, genl. Christiaan De Wet as militêre leier en Ds. Kestell as geestelike leier het die eer verdien om by die vrouemonument begrawe te word. Nou ook die Engelse Emily Hobhouse.