Opposisie verdeel nie die stemme nie
Nee, die Opposisie verdeel nie stemme nie
Pieter Mulder
As ANC oorlogsveterane ’n ANC minister gyselaar hou, is dit sekerlik ’n bewys dat die ANC geskeur het en gaan verloor, sê sommige kommentators.
Nee, die ANC het nie geskeur nie. ’n Politieke party skeur as lede van die party wegbreek en ’n ander of nuwe party begin ondersteun. Dit is wat met die ANC gebeur het toe Cope in 2008 gestig is met hoofsaaklik oud ANC-lede.
Vandag se ANC het nog nie geskeur nie want die geveg om die hart van die ANC is steeds binne die party aan die gang. Beide Zuma en Ace Magashule raai hulle volgelinge aan om in hierdie verkiesing vir die ANC te stem. Nie omdat hulle Ramaphosa ondersteun nie, maar omdat hulle hoop om so hulle eie faksie binne die ANC te versterk.
Die ANC het die luukse om hierdie verkiesing hoofsaaklik in eie geledere tussen faksies te veg omdat die DA as grootste opposisieparty in die vorige verkiesing maar 20% gekry het.
Gaan daar dan geen verandering kom nie?
Daar gaan. Vanweë ons proporsionele kiesstelsel gaan daar reeds in hierdie verkiesing verandering kom. In die metro’s gaan die ANC wegblystem die ANC onder 50% inneem. Een opposisieparty sal egter nie alleen 50% kan kry en regeer nie. Koalisies gaan nodig wees.
Verdeel die opposisie nie die stemme in die wyke sodat die ANC vir altyd sal regeer nie?
Nee. Ons het nie ’n wenner-neem-alles-stelsel nie maar ’n proporsionele kiesstelsel.
Jy gaan twee stembriewe kry. Een waarop die kandidate in die wyk se name is en een waarop die politieke partye se name is.
Omdat ons ’n proporsionele stelsel het (grondwet artikel 157(3)), word die stem wat jy op die tweede stembrief vir ’n party gestem het en jou stem op die eerste stembrief vir die party se kandidaat, bymekaar getel. Dit is ongeag of jou party se kandidaat in die wyk gewen of verloor het. Dit bepaal hoe die raad saamgestel word. As byvoorbeeld party A 40%, B 30% en C 30% stemme gekry het, moet die raadslede in dieselfde verhouding wees.
As die raad 60 lede het, moet party A dan 24 raadslede (40%) kry. Die ander twee partye kry 18 (30%) elk. As party A reeds 20 wyke gewen het, kry hulle net vier lede by van hulle proporsionele lys. Dit maak hulle 24 vol. Party B het byvoorbeeld 10 wyke gewen en moet 8 lede bykry van sy proporsionele lys om 18 te kry. Kom ons aanvaar party C het geen wyke gewen nie. Dan kry party C 18 lede van sy proporsionele lys as raadslede. Party B en C, met saam 36 lede, kan nou die raad in ’n koalisie regeer omdat hulle meer het as party A se 24.
Selfs partye wat nie ’n raadslid kry nie, maak deur hulle deelname die totale hoeveelheid stemme meer. Dit verminder party A, wat hier die ANC kan wees, se persentasie. Daarom verdeel die opposisie nie die stemme in die wyke nie en is daar nie gemorste stemme nie.
Die metro’s gaan die voorlopers wees van hoe die proporsionelestelsel koalisies bevoordeel tot die ANC se nadeel. Wat by hierdie verkiesing in die metro’s gebeur, gaan in die toekoms oorspoel na ander rade mits opposisiekiesers gaan stem en leiers verstandig is oor koalisies.
Die ANC faksiegevegte behoort ’n hoogtepunt in Desember volgende jaar te bereik wanneer nuwe leiers by die ANC se vyfjaarlikse kongres gekies word. Die faksie wat daar verloor, mag wegskeur en ’n ander politieke tuiste soek. Dit kan ’n interessante nuwe politieke magsbalans skep vir die toekoms.