Rapport artikel deur Pieter Mulder 14 Februarie 2021

Hoekom drie afvaardigings met drie verskillende agendas na die 1919 Versailles Vredesonderhandelinge?

Na die Eerste Wêreldoorlog is die Vredesverdrag in Versailles Frankryk in 1919 onderteken. Louis Botha en Jan Smuts het dit as ’n wraakdokument beskryf wat gaan lei tot ’n volgende oorlog. (Richard Steyn het dit volledig in Rapport 24/1/2021 behandel.)
Botha het aan die konferensie gesê: “…julle moenie wraak neem op ’n hele (Duitse) volk en hulle straf deur dit vir hulle onmoontlik te maak om te herstel of selfs te bestaan nie.”

Generaals Louis Botha en Jan Smuts by Versailles Vredeskonferensie.

Korrekte voorspellings deur SA leiers.


Twintig jaar later word hierdie voorspelling waar toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek. Botha en Smuts se voorspellings het getuig van insig en staatsmanskap. Hulle het die wêreldpolitiek korrek gelees en voorspel. Tog het hulle nie dieselfde insig gehad in die Suid-Afrikaanse politiek om die kiesers reg te lees en te voorspel nie. In 1924, kort na die Vredesverdrag, het die kieserspubliek Smuts en sy SAP by ’n verkiesing uitgestem en vervang met Hertzog en sy NP.

Boeregeneraals verskil skielik ernstig.


Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Boeregeneraals Botha, Smuts, Hertzog en De Wet eendragtig saam teen die Britte geveg. Negentien jaar later met die 1919 vredeskonferensie is hulle bittere opponente. Hoe het dit gebeur?
In die politiek vind skeurings binne partye plaas wanneer lede van dieselfde party verskillend op nuwe omstandighede reageer
Die Boeregeneraals was na die Anglo-Boereoorlog teen hulle sin deel van die Britse Ryk. As Britse onderdane het hulle verskillend op die nuwe situasie gereageer. Die “verbintenis met die Kroon”, sou die grootste verdelende faktor tussen Afrikaners in die eerste helfte van die vorige eeu wees.

Verhouding tussen Suid-Afrika en Brittanje.


Daar was steeds groot bitterheid van Afrikaners teen Brittanje, asook ernstige verskille tussen Afrikaners en Engelse binne Suid-Afrika.
Hertzog het geskryf: “Mense in Suid-Afrika wat lojaal is aan Brittanje is soos Somerswaels. Swaels kom en gaan. Hulle behoort geen seggenskap in Suid-Afrika se sake te hê nie.” Hy het ’n tweestroombeleid voorgestel. Daarvolgens ontwikkel Afrikaners en Engelse langs mekaar met respek vir mekaar se taal en kultuur maar met een vaderslandliefde vir Suid-Afrika.
Daarteenoor het Botha en Smuts ’n eenstroombeleid gehad. Die twee taalgroepe moet versoen deur een, oorwegend Engelse nasie, te word. Anders as Hertzog het Smuts gemeen dat Suid-Afrika binne die Britse Ryk tot volwaardige onafhanklike status moet groei. Hy het daarom entoesiasties van die “British Commonwealth of Nations” gepraat waarvan Suid-Afrika permanent ’n deel is.
Die verskillende benaderings was reeds in 1907 sigbaar. Hertzog was ongelukkig met Smuts se Transvaalse onderwyswet wat moedertaal onderrig na net enkele jare afgeskaf het ten gunste van Engels. Hertzog het ’n Vrystaatse wet gemaak wat moedertaal deurlopend behou het met Engels net as ’n vak.


Nog voorbeelde:


• Na Uniewording het die Botha-Smuts regering ’n voorstel deur die parlement geloods dat 85 000 pond jaarliks van Suid-Afrikaanse belastinggeld aan Brittanje oorgedra word vir die Britse Vloot se instandhouding.
• Verder het Smuts toegestem tot ’n beleid waarvolgens Brittanje die fabrieksland van die Britse Ryk sou wees. Selfregerende kolonies soos Suid-Afrika was net verantwoordelik vir die lewering van die nodige grondstowwe vir die Britse fabrieke.
• In 1907 het Smuts die Suid-Afrikaanse Cullinan diamant aan die Britse vorstehuis geskenk. Die grootste ruwe sierdiamant wat ooit gevind is in totaal 3025 karaat.
• Nadat Hertzog geslaag het dat die twee tale gelyke status in die nuwe Uniewet kry, het studente ’n taalfees in Kaapstad gereël om hom te bedank. Die treine waarmee die studente daarheen sou ry, is skielik gekanselleer. Die Botha en Smuts-regering se rede: So ’n fees dra nie by tot versoening nie. Dit sal aanstoot gee aan die Engelse deel van Suid-Afrika se bevolking.
’n Student het gevra: “Waarom moet ons met die Engelse versoen? Hulle het ons in die oorlog aangeval. Moet hulle nie eerder met ons versoen nie?”
Hierdie voorbeelde wys hoe Suid-Afrika steeds nader aan die Britse Ryk beweeg het terwyl baie kiesers steeds losser van Brittanje wou beweeg op pad na totale onafhanklikheid.
In hierdie atmosfeer hou Hertzog sy bekende De Wildt-toespraak. Daarin sê hy:
“Imperialisme is vir my net goed vir sover dit dienstig is vir Suid-Afrika. Waar dit in botsing kom met die belange van Suid-Afrika, is ek ’n besliste teenstander daarvan.”
Die gevolg was dat Botha vir Hertzog uit die kabinet gooi. Daarop stig Hertzog die Nasionale Party in 1914.

Eerste Wêreldoorlog.


Die grootste botsing tussen hierdie twee denkrigtings het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Duitsers die Boererepublieke gehelp met moderne kanonne en Mauser-gewere. Nou het Brittanje Suid-Afrika versoek om die Duitsers in Duits-Suidwes, vandag Namibië, aan te val. In die parlement (9 Sept. 1914) verklaar Botha: “Ons is ’n bondgenoot van die Britse Ryk. Die Ryk is in oorlog gewikkel. Omdat dit so is, is Suid-Afrika ipso facto ook in die oorlog…”
Hertzog se reaksie was dat Suid-Afrika gereed moet wees as die land aangeval word, maar dat dit nie in Suid-Afrika se belang is om Duitse gebiede in Suidelike Afrika of Duitsland aan te val nie.
Genl. Koos De la Rey het nie vir die oorlogsverklaring gestem nie en verduidelik: “Toe ek die verdrag van Vereeniging in 1902 geteken het, het ek nie vir ’n oomblik gedink dat dit ons verplig tot oorlog as Brittanje in ’n oorlog gewikkel word nie.”
Tydens die oorlog (25 Maart 1918) het ’n Unioniste lid in die Parlement vorentoe gestap en geskree: “The King”. Botha met sy volgelinge was dadelik op die been en het die Engelse volkslied gesing. Tot verbystering van die Engelse het die Nasionaliste bly sit. Hulle is daarna beskuldig dat hulle spioene en agente van die vyand is.

Woodrow Wilson en Selfbeskikking.


Na die oorlog het die Amerikaanse president Woodrow Wilson ’n veertienpunt plan aangekondig. Dit moes as riglyn vir die Vredeskonferensie in Frankryk dien. Hiervolgens moes die konferensie die selfbeskikkingsreg van volke herstel. Alle volke moet die reg hê om oor hulle eie lot te beslis. Geen volk mag ooit weer gedwing word om onder die heerskappy van ’n ander volk, waaronder hy nie wil wees nie, te staan, volgens Wilson.
Hierdie uitlatings van Wilson het gemaak dat die NP-kongres besluit het om ’n deputasie, bestaande uit onder andere genl. Hertzog, genl. De Wet en dr. D.F Malan, na Frankryk te stuur. Hulle wou daar die vryheid van die ou Boererepublieke en so ook die hele Suid-Afrika onderhandel.
Die ANC, toe nog SANNC, het ook ’n deputasie na Versailles gestuur om vir swart mense se vryheid en regte te gaan beding. Hulle afvaardiging het leiers soos Sol Plaatje, Josiah Gumede en Selope Thema ingesluit.
Januarie 1919 het Botha en Smuts, as die regering se afvaardiging, na die Versailles-konferensie vertrek. Wat die ander afvaardigings betref, het die Botha-regering dit so moeilik moontlik vir hulle gemaak om sukses te behaal. So is Genl. De Wet se paspoort geweier. Hy kon nie die land verlaat nie. Iemand anders moes in sy plek gekies word.

Die Nasionale Party Vryheidsdeputasie na Versailles 1919.

Maak dit moeilik vir ander afvaardigings.


Om betyds vir die konferensie te wees, het die NP-deputasie plekke op ’n Britse boot bespreek. Toe hulle in Kaapstad kom, is daar skielik geweier dat hulle aan boord gaan. Die rede? Hulle word as “verraaiers van die Britse Ryk” gesien.
Hulle vertrek eers 4 Maart 1919 — nou met ’n Nederlandse vragskip — na New York. Die rit neem 28 dae. Na agt dae in New York kry hulle ’n ander Nederlandse skip die Noordam wat hulle na Europa neem.
In Frankryk kry hulle nie geleentheid om die Vredeskonferensie toe te spreek nie. Hulle slaag ook nie om met Woodrow Wilson te vergader nie. Die Britse Eerste Minister, Lloyd George, willig in om hulle te sien. Jan Smuts is intussen in die Britse Oorlogskabinet opgeneem. Lloyd George het Smuts hoog aangeslaan en hy is as die Britse Eerste Minister se regterhand beskryf. Smuts sou Lloyd George ingelig het wat om van die Deputasie te verwag. Daarop was Lloyd George se standpunt dat Suid-Afrika deur twee Afrikaners, Smuts en Botha, by die konferensie verteenwoordig word, wat alleen namens die volk van Suid-Afrika kan praat.
Wat hom betref het Suid-Afrika reeds genoeg selfbeskikking omdat hulle oor hulle eie sake besluite kon neem. Die deputasie se reaksie was dat besluite oor sekere eie sake nog nie onafhanklikheid was nie. ’n Bewys daarvan was dat hulle teen hulle sin in die Eerste Wêreldoorlog ingeforseer is.
Dieselfde lot tref die ANC-afvaardiging wat onsuksesvol na Suid-Afrika terugkeer.

ANC, toe nog SANCC, afvaardiging na Europa 1919.


Op dieselfde moeisame manier het die NP-deputasie deur die Suez-kanaal, na Batavia, vandag Indonesië, en van daar na Durban teruggekeer omdat geen Britse skip hulle wou vervoer nie.
Al die mooi praatjies oor selfbeskikking het toe net gegeld vir volke wie se posisie tot die oorlog aanleiding gegee het, veral in Sentraal- en Oos-Europa. Boonop is net kleiner volke, wat onderdruk is deur die groter Ryke wat die oorlog verloor het, bevry. Dit het nie vir oorwinnaars soos die Britse Ryk se onderhorige volke gegeld nie.

Selfbeskikking en ‘n Republiek los van Britse Ryk.


Die gebeure in 1919 het NP-leiers soos Hertzog, Malan, Strijdom en Verwoerd meer as ooit gemotiveer om hulle stryd om selfbeskikking en totale onafhanklikheid voort te sit. Hulle slaag uiteindelik toe Suid-Afrika in 1961 ’n Republiek los van die Britse Ryk geword het. Die ANC se stryd sou egter nog baie jare duur.

NP Danksertifikaat vir jou bydrae tot Republiekwording. Van Hertzog tot Verwoerd is Selfbeskikking en ‘n eie Republiek nagestreef.