Dr. Pieter Mulder

6 April was tot 1994 ’n vakansiedag bekend as Stigtingsdag. Voorheen was dit bekend as Van Riebeeckdag — die dag waarop Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het aan die Kaap. Daarom word hy deur baie as die grondlegger van die Afrikanervolk beskou. Tot 1993 was sy gesig op ons banknote.

Van die feite hierbo is korrek, ander feite is verkeerd en sommige is in dispuut.

Die skildery van Jan van Riebeeck soos dit op ons banknote in die verlede en in geskiedenisboeke verskyn het. Volgens navorsing van die Rijksmuseum in Amsterdam is dit egter nie ’n skildery van Jan van Riebeeck nie maar is die persoon in die skildery ’n sekere Bartholomeus Vermuyden (1616-1650).

Jan het uit ’n vooraanstaande familie gekom en het gekies om as ’n chirurgyn of skeepsdokter opgelei te word.

Na sy opleiding begin die twintigjarige Jan by die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) as onder-skeepsdokter werk. Op daardie tydstip (1600-1650) was Nederland die wêreld se sterkste handelsland. Die Amerika van daardie eeu as jy ’n parallel met vandag wil trek.

Die VOC se invloed as maatskappy kan vergelyk word met die impak wat Microsoft as maatskappy vandag op die wêreld het. So was die VOC as maatskappy sterker as baie lande van daardie tyd. Hulle rykdom het gekom uit handeldryf met die Ooste. Daarvoor was die skeepvaart om die suidpunt van Afrika tussen Nederland en Oos-Indië belangrik.

Van Riebeeck bly nie lank ’n skeepsdokter nie. Hy kom agter dat daar binne die VOC as ’n handelsmaatskappy groter kanse op bevordering is as jy jou in die handel begewe. Na verskeie bevorderings en terugslae in die Ooste word hy op 33 jarige ouderdom aangewys as kommandeur van ’n nuwe verversingspos vir verbygaande skepe wat die Kompanjie op die roete na die Ooste aan die Kaap wil aanlê.

Die dag voor Kersfees 1651, vertrek Jan van Riebeeck en sy vrou Maria, ’n Hugenote predikantsdogter, met hul vier maande oue seuntjie, Lambertus, met die seilskip die Drommedaris uit Nederland na die Kaap. Die skepe Reyger en Goede Hoop het gelyktydig vertrek; die Oliphant en Walvis het later gevolg.

So ’n reis sonder betroubare kaarte en navigasiemiddels, wat afhanklik was van die wind, op ’n klein hout skippie was grootliks ’n geloofsreis en baie gevaarlik. Dit kon drie tot vier maande duur. So byvoorbeeld het die Oliphant en Walvis, toe hulle op 7 Mei by die Kaap aankom, 130 sterftes tydens die reis gehad.

Almal ken hierdie skets van waar Van Riebeeck op 6 April 1652 met ’n groot oranje, wit en blou vlag aan wal stap en aan die plaaslike inwoners geskenke oorhandig. Dit het egter glad nie so plaasgevind nie. Die skets is deur Charles Bell 200 jaar later geskilder soos hy gedink het dit plaasgevind het.

Op 5 April 1652 sien hulle Tafelberg. Teen die aand van 7 April het Van Riebeeck vir die eerste keer aan land gegaan. Die bekende skets waar Van Riebeeck op 6 April 1652 met ’n groot oranje, wit en blou vlag aan wal stap en aan die plaaslike inwoners geskenke oorhandig, is nie ’n korrekte weergawe van hoe dit gebeur het nie. Die skets is deur Charles Bell 200 jaar later geskilder soos hy gedink het dit plaasgevind het.

Op dieselfde wyse is die bekende skildery van Van Riebeeck wat op ons banknote was, nie Jan van Riebeeck nie. Volgens die Rijksmuseum in Amsterdam is dit ’n skildery van Bartholomeus Vermuyden (1616-1650). Daar is ’n ander skildery wat die regte Jan van Riebeeck is.

Waarom was 6 April as Stigtingsdag gevier en nie 7 April toe Van Riebeeck voet aan wal gesit het nie?

Omdat Van Riebeeck self 6 April, toe die skepe Tafelbaai binnegevaar het, as die aankomsdag gekies het. In sy dagregister skryf hy twee jaar later (1654) dat hulle besluit het om 6 April as ’n dank- en biddag in te stel om die weldade van God wat hulle so beskerm het, in gedagte te hou.

Volgens navorsing van die Rijksmuseum in Amsterdam is hierdie soos Jan van Riebeeck regtig gelyk het. Hierdie is ’n skildery van die Jan van Riebeeck wat vir 10 jaar vanaf 1652 tot 1662 aan die Kaap was en toe in die Ooste in Batavia op 18 Januarie 1677 dood is.

Hoekom argumenteer sommiges dat Van Riebeck nie ’n volksplanter was nie?

Jan wou so gou as moontlik uit die Kaap wegkom. Hier gaan hy nie bevorder word nie. Twaalf dae na sy aankoms in die Kaap (18 April) stuur hy ’n brief na die VOC base (Here XVII) waarin hy vra om verlos te word van sy taak en na die Ooste gestuur te word. Hy sien homself as ’n lojale amptenaar van die Maatskappy en nie as ’n Nederlandse volksplanter wat nuwe kolonies vestig nie. Uiteindelik is Van Riebeeck na tien jaar weg uit die Kaap na die Ooste waar hy bevorder en later dood is.

Wat laat hy agter? Hy laat Westerse waardes, kennis, argitektuur en landboumetodes agter. Sy belangrikste bydrae is dat hy in 1657 sommige maatskappyamptenare Vryburgers maak wat vir hulleself boer. Hierdie Vryburgers het gekies om hulle bande met Europa te verbreek en Afrika hulle tuiste te maak. Hierdie Vryburgers was Protestantse Christene en die eintlike volksplanters. Hulle is eerder die eerste Afrikaners.

Waarom is Afrikaners oorwegend Protestant teenoor Angola en Mosambiek wat Portugese kolonies was en Rooms Katoliek? Die Portugese ontdekkingsreisiger Dias vaar reeds 1488 by die Kaap verby. Daarna het die Portugese Da Gama en Saldanha slegte ervarings met die plaaslike bevolking wat hulle aanval. As gevolg daarvan vermy die Katolieke Portugese die Kaap vir 164 jaar en vaar telkens verby. In 1652 land die Protestant Jan van Riebeeck aan die Kaap. Toevallig? Ons glo deel van Godsraadsplan? (800 woorde)