Was daar goddelike ingryping by Bloedrivier?
Dr. Pieter Mulder
Volgens die historikus en skrywer Ben Liebenberg was daar “niks wonderbaarliks of bonatuurliks” in verband met die slag van Bloedrivier nie. Die Voortrekkers het gewen vanweë beter wapentuig en die gevegsterrein (Beeld 23/1/1988).
“Die goddelike ingryping by Bloedrivier is ’n mite wat kunsmatig in stand gehou word,” skryf Willem van Centurion (Beeld 9/12/2015).
Ook die Amerikaanse skrywer James Michener spot in sy boek The Covenant met die gelowige en naïewe Afrikaners wat werklik glo ’n God het ingegryp by Bloedrivier.
Was daar goddelike ingryping by Bloedrivier of nie?
Ek glo dat daar wel goddelike ingryping by Bloedrivier was en dat ons hier ’n duidelike voorbeeld het van hoe God in die geskiedenis van ’n volk ingryp as deel van sy raadsplan.
Kom ons kyk so objektief moontlik na die feite sodat elkeen vir hom- of haarself kan oordeel.
Gevegsterrein.
Dingaan, die Zoeloekoning, lok op 6 Februarie 1838 Retief en sy manne in sy kraal in om vir hulle ’n sogenaamde “afskeidsdans” te gee. Dit volg nadat hulle suksesvol onderhandel het en ’n kontrak oor grond onderteken het. Op ’n verraderlike manier word Retief en 70 mans en seuns daarna wreedaardig vermoor.
In reaksie op hierdie gebeure vertrek Andries Pretorius met sowat 64 waens November 1838 in die rigting van Dingaan se vesting. Elke dag trek hulle Zoeloeland dieper in. Hulle weet nie waar hulle die Zoeloemag gaan teëkom nie. Die ontmoetingsplek kan bepalend wees vir die uitslag van die geveg. Die mislukte ekspedisie van Potgieter en Uys het dit vroeër bewys.
Saterdag, 15 Desember het hulle ‘n sytak van die Buffelsrivier bereik, wat deur die Zoeloes die Ncomespruit genoem is. Ná die geveg het die Voortrekkers dit Bloedrivier genoem. Terwyl hulle met die waens deur die rivier trek, rapporteer die verkenners dat die Zoeloemag gewaar is. Pretorius besluit om net daar sy laer te trek.
Die laer is in ‘n hoek tussen die spruit en ‘n diep sloot getrek. Die voordeel daarvan was dat die laer net onbelemmerd vanuit die noorde en die weste aangeval kon word.
Die spesifieke gevegsterrein was een van die belangrikste redes vir die Voortrekkers se oorwinning.
Was dit toevallig dat die waens juis op hierdie plek was toe die Zoeloemag gesien is?
Nagaanval
Die nag van 15 Desember was volgens Voortrekkergetuies ’n mistige nag en donkermaan. Daardie deel van Natal is bekend vir sy hoë humiditeit wat tot digte mis lei. Dit het niks goeds voorspel nie.
Die verwagting was dat die Zoeloes in die nag sou aanval. Elf dae na die Retiefmoord het die Zoeloes by Bloukrans en Boesmansrivier die Voortrekkers in die nag aangeval. In die donkerte en mis sou die Voortrekkers nie kon sien as daar ’n nagaanval is nie.
Die Voortrekkers het lanterns aan sweepstokke vasgemaak en oral in die openinge tussen die waens gehang sodat hulle darem effens die aanvallers sou kon sien.
Die swaaiende lanterns met hulle dowwe vetkers ligte binne, het in die mis hoog bo die grond reg rondom die laer in die lug gehang.
Uit Zoeloe-oorlewering het Aaron Xulu vertel dat toe die Zoeloekrygers die eienaardige ligte van die lanterns in die mis hoog bo die laer in ’n sirkel gesien sweef het, hulle vir mekaar gesê het: “Nee, maar ons kan nie nou aanval nie want die witmense het hul Mahlozi’s (voorvaders) om hulle op te pas. Ons moet wag vir die dag”.
Was dit toevallig dat die Zoeloes by Bloedrivier nie ’n nagaanvalstrategie gebruik het nie?

Teen die einde van die geveg verlaat Andries Pretorius die walaer en storm die Zoeloemag. Die sweepstokke waaraan lanterns vir die nag gehang is, kan agter bo die waens uit gesien word.
Voorlaaiers en mis.
Die Voortrekkers se vernaamste wapen was hulle voorlaaiers. ’n Voorlaaier word op ’n baie omslagtige manier met kruit deur die loop van voor gelaai. Behalwe dat die nat mistigheid gemaak het dat jy moeilik die vyand kon sien, het dit ook die kruit klam en die gewere so nutteloos gemaak.
In daardie deel van Natal reën dit gereeld in Desember. Reën sou dieselfde negatiewe effek op die kruit en die gewere gehad het.
Kort na dagbreek op 16 Desember het die mis skielik gelig om ‘n wolklose dag sonder enige reën te wys. Toevallig?
Osse en perde.
Binne die laer was ongeveer 700 trekosse en 750 perde van die kommando-lede. Pretorius was baie bekommerd dat veral die osse vanweë die lawaai op loop sou gaan en uit die laer breek. Dit sou ’n baie gevaarlike situasie tydens die geveg skep. Volgens vertellings het die stomme diere tydens die veldslag verbouereerd rondgemaal maar gelukkig nie uitgebreek nie. Nog ’n toevallige geluk?
Die Voortrekker- en Zoeloemag.
Sommige geskiedskrywers asook die paneel in die Voortrekkermonument oor die Bloedrivierslag skep die indruk dat die Zoeloes ’n ongeorganiseerde mag was wat holderstebolder op die laer afgestorm het.
Dit gee nie erkenning aan die hoë vlak van dissipline en sofistikasie wat die Zoeloemag gekenmerk het nie. Elke Zoeloekryger was volgens ouderdom lid van ‘n spesifieke regiment wat deur ‘n hiërargie van aanvoerders of indunas gelei is. Die krygsmag as geheel het insgelyks onder spesifieke bevelvoerders gestaan.
Volgens Bantjes, wat by die slag teenwoordig was, het ’n Zoeloe gevangene verklaar dat daar 36 regimente was. Dit beteken so tussen nege – tot tienduisend krygers. Die Engelse historikus John Laband skryf dat volgens sy bronne daar tussen 12 000 tot 16 000 krygers was.
Dit teenoor die Voortrekkerkommando se 472 man. Benewens Pretorius en sy adjunk, Karel Landman, was daar ses kommandante en 464 Voortrekkers wat aan die geveg deelgeneem het. Binne die laer was daar ook enkele Britse handelaars, wadrywers en touleiers wat nie aan die slag deelgeneem het nie.
Die Voortrekkers het getallegewys teen ’n reuse oormag te staan gekom.
Die veldslag
Reeds vanaf koning Shaka se tyd is die Zoeloekrygsmag soos die kop en horings van ‘n bul opgestel. Die regimente wat die twee horings gevorm het, was gewoonlik die jonger krygers wat die vyandelike mag moes omvleuel om te verhoed dat hulle ontvlug. Die ouer, meer ervare manne, was in die middel en moes die vyand se hoofmag aanval.
Kort na dagbreek het die linkerhoring, nog voordat die res van die Zoeloemag in posisie was, aangeval. Volgens sommige wou die jongmanne vir die ou manne wys hulle kan die saak vinnig alleen afhandel.
Later na agtuur het die regterhoring tot die geveg toegetree. Die hoofmag of kop van die bul het nog nie aangeval nie. Van die tradisionele kop-en-horingsaanvalstrategie was daar nou geen sprake meer nie. Die Zoeloe-aanval het as gevolg hiervan ‘n ongekoördineerde warboel geword.
Toe dit duidelik word dat die Zoeloe-aanval uit mekaar begin val, het Pretorius opdrag gegee dat die hekke van die laer oopgemaak moes word sodat perderuiters die vyand kon bestorm. Dit is ’n paar keer herhaal.
Moet ons aanvaar dat dit toevallig was dat die Zoeloes, anders as normaalweg, nie gelyk aangeval het nie?
Verliese
Die Zoeloemag het swaar verliese gely. In opdrag van Pretorius is die gesneuweldes na die geveg getel en op meer as 3000 gereken.
As gekyk word na die hoeveelheid mense wat dood is in die slag van Bloedrivier dan is dit die grootste enkele veldslag wat ooit op Suid-Afrikaanse bodem geveg is. Baie meer is dood as byvoorbeeld by Magersfontein of Spioenkop.
Tog is geen Voortrekkers by Bloedrivier dood nie. Daar was drie gewondes wat van hulle wonde herstel het. Dit was Andries Pretorius wat in die hand gewond is, Philip Fourie en Gerrit Raath.
Was dit net geluk dat by die grootste veldslag in ons geskiedenis geen Voortrekker dood is nie?
Slot.
Ek glo dat daar wel goddelike ingryping by Bloedrivier was ongeag wat sommige ontleders skryf. Daarom herdenk ek die Voortrekkergelofte jaarliks.
Hoe waarskynlik is dit dat daar soveel “toevallighede” tydens een veldslag kan wees?
Maar dit is ook billik om die uitslag van Bloedrivier met die gevegte 40 jaar later in 1879 tussen die Britte en die Zoeloes by Isandlwana te vergelyk.
Teenoor die Voortrekkers se 1838 Voorlaaiers, wat baie stadig van voor gelaai is, het die Britte in 1879 oor die moderne Martini-Henry valblokslot gewere beskik wat tot 10 skote per minuut kon skiet.
Met hierdie baie beter en moderner wapens is 1800 hoogs opgeleide Britse en koloniale soldate in daardie gevegte deur die Zoeloes bykans totaal uitgewis. In totaal is 1 300 soldate aan Britse kant dood terwyl die Zoeloe-verliese baie minder as by Bloedrivier was.

Sarel Cilliers en die Voortrekkers lê elke dag voor die geveg die Gelofte af.
Die Gelofte.
Na die geveg het Pretorius almal byeengeroep om God vir die oorwinning te dank.
Mag ons vandag steeds nie op eie krag roem nie maar die slotwoorde van die Gelofte van 9 Desember 1838 onthou: “Want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.”
Bronne:
- Grobler, Jackie. 2010. Afrikaner- en Zoeloeperspektiewe op die Slag van Bloedrivier, 16 Desember 1838. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, vol.50 n.3
- Muller, C.F.J. 1990. 500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis.
- Preller, Gustav. 1937. Andries Pretorius.
- Van Jaarsveld, F.A. 1971. Van Van Riebeeck tot Verwoerd.
- Beeld, Naspers.