Dr. Pieter Mulder, (Parlementslid en vorige VF Plus leier)

Julie 2017

Johann van der Westhuizen se dertien gebooie (Beeld 15/7/2014) sal nie Afrikaans red nie.

Natuurlik word Kgosi Phala van Limpopo benadeel as hy nie in sy moedertaal by Tukkies kan klas kry nie, soos Van der Westhuizen korrek redeneer? Maar sy oplossing is nie om Kgosi se moedertaal te bevorder nie. Sy oplossing is dat Kosie Nel en Lionel April van die Afrikaanse skool nou ook benadeel moet word en nie meer in hulle moedertaal mag klas kry nie. So vorder ons almal agteruit. Die oud grondwetregter maak ook so ʼn bespotting van artikel 6(2) in die grondwet wat die bevordering van alle amptelike tale vereis.

Twaalf leuens oor Afrikaans:

1. Baie min mense in Suid-Afrika praat Afrikaans. Daarom is dit beter om na Engels oor te skakel.

Verkeerd. Afrikaans met 6,8 miljoen sprekers is die derde grootse taal in Suid-Afrika na Zoeloe (11,5 milj) en Xhosa (8,1 milj). Engels (4,8 milj.) word deur slegs 9,6% van Suid-Afrika se bevolking as moedertaal gebruik (Sensus 2011).

Afrikaans is die meerderheidstaal in twee provinsies (Wes- en Noordkaap) en die tweede sterkste taal in drie ander provinsies (Vrystaat, Noordwes en Oos-Kaap). Verder wys navorsing dat slegs 50% Suid-Afrikaners Engels redelik verstaan. Die res verkies dat in hulle moedertale met hulle gekommunikeer word.

In die wêreld is daar meer as 7000 tale. Afrikaans is ongeveer die 140ste grootste taal.

2. Afrikaans het nie ʼn plek in Suid-Afrika nie omdat dit ʼn “Witmanstaal” is.

Verkeerd. Die meerderheid Afrikaanssprekendes is nie wit nie. Van die 6,8 miljoen Afrikaanssprekendes is net 2,7 miljoen wit. Bruin Afrikaanssprekendes is 50% (3,4 miljoen); wit Afrikaansprekendes 40% (2,7 miljoen); swart Afrikaanssprekendes 9% (602 100) met die res uit ander groepe (Sensus 2011). Dit beteken dat meer as 60% van die Afrikaanse gemeenskap nie wit is nie.

3. Omdat Afrikaans die taal van die onderdrukker was, is dit beter om Afrikaans af te skaf en na Engels oor te skakel.

Engels was die taal waarin die wreedste slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis was in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie. Waarom vandag die meerderheid Afrikaanssprekendes, wat bruin is en aan die ontvangskant van apartheid was, straf?

4. Afrikaans hoort nie in Afrika nie want dit is nie ’n inheemse taal nie.

Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika kontinent vernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal wees nie? Die oneerlikheid van mense wat so sê is dat hulle dan ten gunste van Engels is, wat blykbaar as koloniale en Europese taal in Afrika hoort.

5. Vir die lang termyn oorlewing van oorwegend Afrikaanse universiteite is dit beter dat alle Universiteite Engels word want Afrikaans het ʼn kwynende mark.

Volgens die SAOU het 54 000 wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes in 2011 matriek geskryf. Hiervan het 36 000 universiteitstoelating gekry waarvan 29 000 hulle by universiteite ingeskryf het. Dit regverdig twee tot vier kampusse wat Afrikaanse klasse aanbied.

6. Afrikaans is nie tegnies genoeg ontwikkel as ʼn akademiese taal nie.

Net vyf tale het in die twintigste eeu ontwikkel tot die hoogste vlak nl: Hebreeus, Katalaans, Indonesies, Hindi en Afrikaans. Daar is meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste in Afrikaans ontwikkel vir byvoorbeeld die mediese-, rekenaar- ruimte, en vele ander velde. Vyf Suid-Afrikaanse universiteite bied nog klasse in Afrikaans aan. Afrikaans word as vak by Nederlandse, Poolse, Russiese, Amerikaanse, Belgiese, en vele meer universiteite aangebied. Die internasionale erkenning van Afrikaans blyk uit die feit dat byvoorbeeld Microsoft, Google en Nokia Afrikaans as een van hulle keuse-tale aanbied.

7. Engels is ʼn internasionale taal – daarom is dit dom om deur Afrikaans te wil studeer.

Internasionale navorsing het bewys dat onderrig deur jou moedertaal altyd die beste is. Die Chinese studeer deur Chinees; die Duitsers deur Duits en die Franse deur Frans. Die Duitse ekonomie is die sterkste in Europa en hoewel min Chinese Engels praat of verstaan, is hulle wetenskaplik ver voor baie ander lande en het reeds verskillende ruimtetuie die ruimte ingestuur.

Naas Engels is Afrikaans die enigste Suid-Afrikaanse taal wat ook internasionaal verstaan word. In die res van die wêreld is daar 24 miljoen mense wat Afrikaans verstaan in byvoorbeeld lande soos Nederland, België en Suriname. Dit is nie waar vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie.

8. Die voorstanders van Afrikaans is anti-Engels.

Voorstanders van Afrikaans is nie anti-Engels nie. Engels is belangrik en maak baie deure oop – veral internasionaal. Daarom behoort Engels as vak deur studente tot op universiteitsvlak geneem te word – verkieslik verpligtend. Afrikaanse studente wat in Afrikaans studeer het, doen baie goed in die buiteland waar hulle dikwels in Engels moet werk. Navorsing bewys dat studente beter vaar as hulle moeilike begrippe in hulle moedertaal, byvoorbeeld Afrikaans, aanleer (Kathleen Heugh). Omdat hulle Engels as taal ken, kan hulle kommunikeer en goed vaar in ʼn Engelse wêreld.

Daar is ʼn groot verskil tussen Engels bemeester as taal teenoor Engels as enigste taal van onderrig in alle vakke.

9. Om Afrikaans as onderrigtaal by ʼn universiteit te gebruik is teen die grondwet.

Art 29(2) van die grondwet: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde … hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe.. met inbegrip van enkelmedium oorweeg, …”

Van die 36 universiteitskampusse in Suid-Afrika is slegs twee nog oorwegend Afrikaans. Dit beteken dat die meeste kursusse daar nog van die begin tot die einde in Afrikaans voltooi kan word. Is twee oorwegend Afrikaanse kampusse te veel gevra?

10. ʼn Taal kan nie tot niet gaan nie.

Baie tale het reeds uitgesterf. Tans is daar 1500 tale wat met minder as 1000 mense wat dit praat, op die grens van uitsterf is. Afrikaans is ʼn Germaanse taal. Van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn. Tale kan en gaan dus tot niet.

11. Solank ʼn taal nog gepraat word, kan dit nie tot niet gaan nie.

As ‘n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. Binne drie geslagte kan so ’n taal tot niet wees.

’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor. Oksitaans is ‘n taal wat baie gewild was en deur meer as 14 miljoen mense in die Suide van Frankryk gepraat is. Frédéric Mistral, wat in Oksitaans geskryf het, het in 1904 nog die Nobelprys vir Letterkunde gewen. Nadat die Franse regering besluit het om Frans en nie Oksitaans nie die enigste amptelike taal te maak, het Oksitaans vinnig agteruit gegaan. Vandag is daar slegs ’n klein groepie (minder as 600 000) ouer mense wat nog die taal praat. Gaan kyk ook na hoe, Wallies, Skots-Gaelies en ander tale agteruitgegaan het nadat hulle hulle hoë taalfunksies verloor het.

12. Afrikaans sluit uit en gee aanstoot.

Moenie enkele gevalle veralgemeen en op alle Afrikaanssprekendes van toepassing maak nie. Afrikaans durf nie die turksvy in die Suid-Afrikaanse taalboord wees nie. Die manier waarop die “taalstryd” gevoer word, sal dit bepaal. Dit is in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans die stryd voortsit.

Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: “As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien ‘n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.” (1294 woorde)

Dr. Pieter Mulder, Parlementslid en vorige VF Plus leier.

Vir meer inligting skakel 021 4033802; 021 4033489; 0834195403