Dr Pieter Mulder

27 Februarie 1881 vind die slag van Majuba plaas. Die burgers van Transvaal verslaan oortuigend die magtige supermoondheid van daardie tyd, Brittanje.

In vandag se terme word Amerika, die supermoondheid van ons tyd, deur ’n klein onbekende landjie soos Estland oortuigend gewen. Wat erger is, is dat die ZAR se Boere al vier die veldslae van daardie oorlog gewen het naamlik by Bronkhorstspruit, Laingsnek, Schuinshoogte en Majuba.

Aanloop.

In 1877 stuur lord Carnarvon, Britse minister vir kolonies, Shepstone om die onwillige Transvaal as ’n Britse gebied te annekseer.

Om bloedvergieting te vermy stuur die Boere twee afvaardigings na Londen. Die Britte is onversetlik. In reaksie hierop word by ’n vergadering van tienduisend burgers in Desember 1880 Transvaalse onafhanklikheid by Paardekraal uitgeroep. Hulle herstel die Volksraad onder leiding van ’n driemanskap naamlik Paul Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius en lê weer ’n gelofte af.

In sewe dorpe word die Britse soldate deur die Boere onder beleg geplaas.

Die Britte stuur Generaal Colley om vanaf Natal deur Laingsnek Transvaal in te val en so die anneksasie te herstel.

Lanyon, die Britse administrateur van Transvaal, lig Colley in oor die Boere. Lanyon skryf: “die Boere is morele papbroeke wat uitmekaar sal spat met die geringste vertoon van Britse mag.”

Lanyon se minagting van die Boere maak dat Colley die Boere heeltemal onderskat.

Veldslae.

28 Januarie 1881 probeer Colley met geweld die pad deur Laingsnek na Transvaal oop skiet. Die Britte loop hulle vas teen die Boere en die poging is ’n Britse fiasko.

Elf dae later verloor Colley weer teen die Boere by Schuinshoogte. Om tweekeer so te verloor teen die “backward boors” was baie sleg vir Colley se reputasie in Brittanje. Hy was een van Brittanje se topgeneraals en ’n voormalige professor aan die Britse Militêre Akademie Sandhurst.

Majuba berg tydens die jaarlikse herdenking van die veldslag

Hy besluit om Saterdagnag 26 Februarie die Majubakop te klim. Van bo-op die plat kop het hy beheer oor al die roetes na Transvaal. As Lanyon se advies reg is, sal die boere so groot skrik dat hulle vreedsaam uitmekaar huis-toe sal spat.

Terwyl die Boere Sondagoggend godsdiens hou, word die Britte bo-op Majuba gesien. Genl. Piet Joubert gee opdrag: “Haal die Engelse van die berg af.”

Genl. Nicolaas Smit se strategie is eenvoudig maar effektief. Die manne ouer as 50 kry opdrag om van onder te skiet as ’n Engelsman op die berg sy kop uitsteek. Smit vra 150 jong vrywilligers om met hom die berg uit te klim. Van drie kante kruip hulle van klip tot klip terwyl die ouer manne sorg dat die Britte moeilik op die jong manne kan skiet.

Colley glo niemand sal sy troepe van bo-op Majuba kan afkry nie. Hy tel dit reeds as ’n oorwinning. Om sy reputasie in Londen te red, stuur hy Sondagoggend 08h00 ’n telegram aan die Britse minister van oorlog: “Ons het gisteraand die Majubaberg beset. Ons kyk reg van bo op die boere se posisies onder ons.”

11h00 stuur hy nog ’n telegram: “Boere skiet van onder maar het hulle laer begin opbreek en begin wegbeweeg.” Hy glo duidelik Lanyon was reg dat ’n Britse kragvertoon die Boere uit mekaar sal laat spat. Toe gaan slaap Colley.

Toe die eerste Boere 12h30 bo-op die berg uitkom en op die Britte begin skiet, moet Colley wakker gemaak word. Hy probeer die situasie red maar die Britse soldate begin reeds holderstebolder na die ander kant van Majubaberg vlug waar hulle oor die kranse na onder spring. Colley self word bo sy regteroog dodelik getref.

14h35 stuur die Britse oorlogsverslaggewer Carter ’n telegram na Londen: “Ons manne is deur die Boere van die kruin van Majuba verdryf met baie groot verliese aan ons kant. Baie offisiere, sommige met baie hoë range is dood of gewond.”

Na die slag sê Genl. Joubert aan ’n moedelose Britse offisier op Majuba: “Wat anders het julle verwag as julle op ’n Sondag veg?”

Afloop.

Die anti-Britse wêreld is beïndruk met die Majuba-oorwinning. Dinsdag 22 April 1884 klim Paul Kruger, genl. Nicolaas Smit en ds. S.J. du Toit van die trein af in Parys Frankryk. ’n Groot Franse skare verwelkom hulle entoesiasties. ’n Franse koor, begelei deur ’n blaasorkes, begin uit volle bors in Frans sing van die Transvaalse vierkleur.

Les quatre couleurs de notre chere patrie

Flottent de nouveau sur le Transvaal,

In Afrikaans:

Die Vierkleur van ons dierbaar land,

Die waai weer oor Transvaal.

Ferdinand de Lesseps, bouer van die Suezkanaal, stel ’n heildronk op die Boere en hulle oorwinning by Majuba in.

Later sou die beroemde graaf Otto von Bismarck die hoogste Duitse toekenning, die Duitse Adelaar, aan genl. Nicolaas Smit, oorhandig. In Nederland is genl. Smit met die Orde van die Nederlandse Leeu vereer en het hy Portugal se hoogste toekenning ontvang.