Dr. Pieter Mulder

Junie 2019

Dierebeelde werk altyd goed in die politiek.

In die parlement is lede al vergelyk met donkies deur Langenhoven, met hoenders, bobbejane en vlermuise. Ons het ook ’n “groot krokodil” gehad.

Na 1994 is ’n nuwe reël gemaak dat jy nie meer ’n parlementslid met enige dier mag vergelyk nie. Dit is jammer en neem baie kleur uit die debatte.

Is die nuwe Adjunk-president, David Mabuza, nou ’n kat met nege lewens of ’n vlermuis, sou mens kon vra?

In ’n warm Parlementêre debat voor 1994 het een lid ’n ander as ’n vlermuis beskryf. “Hierdie agbare lid het al so baie van standpunt verander; niemand vertrou hom meer nie – daarom is hy soos ’n vlermuis in die dierewêreld. Die voëls vertrou nie die vlermuise nie, want hulle lyk soos muise — en die muise vertrou nie die vlermuise nie want hulle kan vlieg soos die voëls,” het die lid verduidelik.

Mabuza het by die ANC leierskapkonferensie in 2017 aangekom as ’n groot ondersteuner van mev. Zuma. Tydens die konferensie het hy skielik sy steun na Ramaphosa verander. Die stemme uit Mabuza se provinsie het verseker dat Ramaphosa net-net met 179 stemme gewen het. In ruil vir sy steun wou Mabuza adjunk-president word.

Die Zuma-faksie is kwaad vir Mabuza en vertrou hom nie omdat hy hulle op ’n kritieke oomblik in die steek gelaat het.

Die Ramaphosa-faksie vertrou hom nie want hulle twyfel oor sy skielike ondersteuning en lojaliteit teenoor Ramaphosa.

In 2008 het Mabuza R400 000 geskenk vir Zuma se troue met sy vierde vrou. Kort daarna het hy premier van Mpumalanga geword.

In ’n voorbladberig in die New York Times Augustus 2018 het die koerant ’n striemende aanval op Mabuza gedoen as een van die beste voorbeelde van SA se korrupsieprobleme.

Van die klagtes teen hom gaan oor die toekenning van tenders en die feit dat ongemagtigde uitgawes in Mpumalanga tydens sy termyn as premier volgens die ouditeur generaal meer as R35 miljard beloop het. Tydens sy premierskap het 90% van alle munisipaliteite in die provinsie nooit ’n skoon oudit kon kry nie.

Die vorige premier van Mpumalanga, Mathews Phosa, het na 17 politieke moorde in Mpumalanga verwys terwyl Mabuza premier was. Mabuza argumenteer dat hy nog nooit aangekla of daaroor deur die Polisie ondersoek is nie.

‘n Sakeman, Fred Daniel, wil nog voor die Zondo-kommissie oor Mabuza gaan getuig. Hy het ‘n eis van R1,2 miljard teen Mabuza ingestel vir skade wat hy beweer hy gelei het as gevolg korrupte grondeise.

Hoekom nou daaroor bekommer?

“Mabuza sal nooit president word nie”, verseker ’n Ramaphosa ondersteuner my.

In 1997 was Winnie Mandela, Mathews Phosa, Cyril Ramaphosa en Tokyo Sexwale moontlike adjunk-president kandidate. Mbeki het nie kans gesien om tussen hulle te kies nie. Sy oplossing? Kom ons gebruik “onskadelike” Zuma. Hy kan nooit president word nie maar kan solank die stoel warm sit. Aan die einde van Mbeki se termyn kan die ANC-kongreslede dan tussen die vier regte aanspraakmakers kies wie Mbeki se opvolger moet wees.

Gewone ANC-lede het nie van hierdie plan geweet nie. Hulle het aanvaar die ANC-tradisie is dat die Adjunk-president altyd die president word. Toe Mbeki Zuma afdank, en so probeer keer dat hy president word, het hy Zuma net ’n martelaar gemaak en ons ken die res van die storie.

Die ANC integriteitskommissie se taak is om kandidate wat die party se naam in oneer bring, uit te skakel. Die arme veterane van die kommissie het nie soos die Zondo-kommissie advokate wat die vrae vra na forensiese ondersoeke nie. Met ’n paar koerantknipsels het hulle Mabuza probeer uitskakel.

Mabuza, die kat het toe die integriteitskommissie gebruik om sy naam skoon te maak. Nêrens ondersoek die polisie ’n saak teen hom nie en die Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane het hom reeds twee keer onskuldig bevind na klagtes van wanadministrasie.

Nou is hy adjunk-president.

Suid-Afrika kan nie bekostig dat die Zuma-geskiedenis herhaal word nie. Wat is Mabuza? ’n Kat, ’n vlermuis of dalk ’n wolf in skaapsklere!