Gaan iemand teen Ramaphosa staan by die ANC leiersverkiesing einde vanjaar 2022
Gaan Ramaphosa aan die einde van die jaar eenparig as ANC leier by hulle vyfjaarlikse leierskonferensie herkies word?
Gaan daar ’n kandidaat wees vir die faksie in die party wat teen Cyril Ramaphosa is?
Ramaphosa se vorige opponent, minister Dlamini-Zuma, het in 2017 misluk. Dit lyk nie of sy weer belangstel nie.
Ace Magashule is deur die ANC in die yskas geplaas en so geneutraliseer na die aanklagte teen hom. Tegnies sal hy nie die leierskapkonferensie mag bywoon nie.
Hierdie week verskyn daar skielik oënskynlik onskuldige artikels van minister Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, in die media oor die Grondwet en die regbank. In die artikels vaar sy uit teen die grondwet, die oppergesag van die reg, die regbank, en die gebrek aan ekonomiese transformasie en grondhervorming wat sedert 1994 ’n see van armoede agtergelaat het.
Sisulu is ’n vriendelike persoon maar sy was nog nooit bekend vir filosofiese denke, fyn formulerings en sterk standpunte nie. Toe Jakob in die Bybel sy blinde pa Isak wou mislei deur voor te gee dat hy eintlik Esau is, het hy Esau se klere aangetrek sodat hy soos Esau kan ruik en sy hande harig gemaak soos Esau s’n. Isak het hierop gereageer: “Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande”
Sisulu se meningsartikels laat my hieraan dink? Dit lyk of ’n spookskrywer uit die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie binne die ANC agter die artikels is.
Dit is Sisulu se hande maar ’n RET-skrywer se stem. Die RET-faksie beskryf Ramaphosa gereeld as ’n gevaarlike pion van wit kapitaal. In die artikel skryf Sisulu dat die “gevaarlikste Afrikaan vandag die geestelik gekoloniseerde Afrikaan is. Wanneer hy in ’n leierposisie kom, is hy erger as jou onderdrukker!”
Wie is volgens hulle geestelik gekoloniseer deur die Wittes? Dis duidelik ’n RET-aanval op Ramaphosa.
Sisulu het as minister toegang tot die kabinet en die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Dit is die regte plekke om hierdie probleme aan te pak as jy ANC beleid wil beïnvloed. As jy dit egter op hierdie wyse in die media doen, is die hoofdoel nie meer om beleid te beïnvloed nie, maar om jou hand op te steek as kandidaat teen Ramaphosa. Sy klim duidelik in die kryt.
In ’n 800 meter-atletiekwedloop is dit belangrik om nie te gou met jou eindpoging te begin nie. Bly in die bondel, hou die ander atlete dop en wag vir die regte oomblik. Ek het al te veel atlete gesien wat te gou begin en dan in die pylvak met lam bene terugsak terwyl die ander verbykom.
My voorspelling is dat presies dit met Sisulu gaan gebeur. Sy het nie genoeg ondersteuning om Ramaphosa te verslaan nie.
Dit beteken nie dat daar nie verskeie ander name in die bondel hardloop en dat Ramaphosa nog kan struikel nie.
Gewone kiesers sê: “Omdat dit my nie raak nie, stel ek nie in hierdie ANC leierskapspeletjies belang nie.”
Ongelukkig is dit nie waar nie.
Ons is ’n gevange gehoor wat vir die volgende jaar gedwing gaan word om hierdie ANC sirkus dop te hou.
Ramaphosa moet vanjaar dringend aan die Zondo-bevindings aandag gee, die ekonomie aan die groei kry; die werkloosheidsprobleem aanpak en die verswakkende infrastruktuur begin verbeter. Dit is maar enkele van ons probleme.
In hoeverre gaan sy herverkiesing aan die einde van die jaar maak dat hy wegskram van die ongewilde maar regte besluit oor hierdie sake?
As ek Sisulu se artikels lees en die ANC en ander se reaksie daarop sien, besef ek dat die ANC leierskapverkiesing ’n groter prioriteit hierdie jaar gaan word as die land se dringende probleme. Dit is kortsigtig en sleg vir Suid-Afrika. Maak gordels vas – dit kan ’n rowwe jaar word.