Artikel in Beeld 13 Februarie 2021

Is dit die begin van die eindspel tussen Ramaphosa en Zuma?


Pieter Mulder
13 Februarie 2021

Draaiboek

Wat is die resep vir ’n goeie rolprent of boek? In ’n goeie rolprent of boek is daar altyd ’n protagonis en ’n antagonis. Die protagonis is die hoofrolspeler. Die antagonis staan in konfrontasie teenoor hom. Hulle botsing skep spanning en verseker dat jy aanhou lees of kyk om te sien wie gaan wen.
Die hoogtepunt van die rolprent is dan ’n konfrontasie tussen die hoofrolspeler en die antagonis. So konfronteer die baasspeurder die reeksmoordenaar in die voorlaaste tonele. Die konfrontasie kan ook wees tussen Luke Skywalker en Darth Vader; tussen Harry Potter en Lord Voldemort of in ’n lekker “Cowboy”-fliek, tussen die Sheriff en die “Crook” wat in die hoofstraat met hulle rewolwers teenoor mekaar staan. In hierdie konfrontasies is daar plek vir net een wenner.

ANC Faksiegevegte


Net so kyk ons tans as buitestaanders na die ANC faksiegevegte. Ramaphosa aan die een kant met Ace Magashule en Zuma aan die ander kant. Ongelukkig is hierdie nie ’n onskuldige Rooi Kappie versus die Wolf storie nie. Ons ervaar elke dag hoe Suid-Afrika verder vernietig word terwyl die ANC op hulle faksiegevegte fokus.
Betree ons nou die finale konfrontasietoneel?


In die volgende weke gebeur daar heelwat waarmee die ANC faksiegevegte op ’n spits gedryf kan word. Magashule het met sy opmerkings dat Zuma niks verkeerd gedoen het nie, openlik vir Ramaphosa en Zondo uitgedaag. Volgende Vrydag 19 Februarie moet beskuldigde nommer 13 in die Asbes-saak, dit is Magashule, weer in die hof verskyn om op 21 klagtes van korrupsie te antwoord.

NUK-vergadering

Hierdie naweek (13-14 Feb 2021) vind ’n ANC-NUK (Nasionale Uitvoerende Komitee) -vergadering plaas. Die ANC “staan opsy”-klousule is op die agenda. Hierdie klousule dwing partylede om hul poste te ontruim as hulle van korrupsie aangekla word. Gaan hulle die naweek die “staan-opsy”-klousule op Ace van toepassing maak?


Tony Yengeni en Mzwandile Masina, prominente ANC-leiers, tart Ramaphosa en die NUK deur die teepartytjie by Zuma saam met die EFF by te woon. Gaan dit by die NUK bespreek word as ’n openlike uitdaging van die ANC gesag en van Ramaphosa?


Zuma se opsies op ’n aantal fronte raak min. Hy het misluk om die vervolgingsgesag te keer om hom te vervolg oor die wapentransaksies. Sy hofsaak gaan nou begin. Zuma het ook by die konstitusionele hof misluk toe hy die Zondo kommissie se grondwetlikheid om hom te dwing om voor hulle te getuig, betwis het. As hy steeds weier, gaan hy vervolg word.

Skaak


Skaak het in Indië ontstaan tydens die Gupta Ryk in die derde eeu! Praat van toevallig! In skaak praat hulle van die eindspel. Dit is wanneer die een koning die ander koning finaal probeer vaspen om so te wen. Masina beskryf die teepartytjie rassisties as “die vereniging van swart leierskap” terwyl Ramaphosa volgens hulle ’n strooipop in die hande van wit kapitalisme is. Wie is nou die wit- en wie die swart koning? Gaan ons die eindspel in die volgende paar weke sien waar die een koning die ander in skaakmat kry?

More (14 Feb) is dit presies drie jaar sedert Ramaphosa sy rug styf gemaak het, Zuma gekonfronteer het en hom as president uitgeforseer het. Is Ramaphosa nog in staat om dit te doen?

Eindspel-opsies


Voor ons opgewonde raak oor die eindspel. Skaak kan ook gelykop eindig. As die een koning 50 skuiwe maak sonder om vasgekeer te word, is dit gelykop. Gaan ons die naweek Zuma se 49ste skuif sien en hoe Ramaphosa weer ontduik om die faksieprobleme op die spits te dryf? Ek berei my voor dat niks gaan gebeur nie — maar hoop tog om die eindspel te sien.


Dr Pieter Mulder is ’n voormalige parlementslid en professor.