Afrikaners – mag hulle hulself wees in Afrika?
Is daar in Suid-Afrika plek vir en verdraagsaamheid teenoor almal – ook teenoor Afrikaners?
Twee standpunte is sedert 1994 uit ANC geledere hieroor gehoor.
Die Thabo Mbeki-standpunt is dat Europeërs gekom het om Afrika te kolonialiseer. Toe hulle weerstand begin kry van die plaaslike bevolking, gaan die Franse, Belge, Portugese en Britte terug na Europa. Die “dom” Afrikaners besef nie die krisis nie, mis die trein en is nou vasgevang in Suid-Afrika. Daarom moet hulle verduur word as “Settlers of a special kind”. Malema voeg by: Hulle moet net nie golwe maak of enige eise stel nie.
Hierdie standpunt is vir my totaal onaanvaarbaar. Dit is histories verkeerd en skep meer probleme as wat dit oplos.
Die ander ANC standpunt is deur Mathews Phosa en Jacob Zuma teenoor my bewoord. Zuma het Afrikaanssprekendes beskryf as ware Suid-Afrikaners wie se taal nêrens anders gepraat word nie, wat geen ander paspoort het nie en wat hier ten volle tot hulle reg moet kom. (Beeld 3/4/2009).
Dit mag slegs Zuma verkiesingspraatjies gewees het, maar dit is realisties en korrek.
Tydens die onderhandelinge en in die wittebroodtyd na 1994 was daar beloftes van ’n Suid-Afrika met ’n plek in die son vir almal. Dit is nie wat ek tans ervaar nie.
Hierdie week is president Steyn se standbeeld van die Vrystaatkampus verwyder terwyl president Kruger se standbeeld weer beskadig is.
Pieter Labuschagne het ’n goeie artikel oor die onderhandelinge en ook oor standbeelde geskryf. Daarin sê hy: “As hulle my simbole eenkant toe stoot, stoot hulle my ook eenkant toe.” Natuurlik is hy reg.
Ek wil myself in Afrika wees. Is dit te veel gevra? As jy jouself moet opoffer om aanvaar te word en om te mag oorleef in Afrika, dan is die prys te hoog. Om na ’n skeepsramp aan ’n stomp in die see te hang, is ook ’n baie primitiewe vorm van oorlewing.
Steyn en Kruger, was van die eerste vryheidsvegters in Afrika. As vryheidsvegters teen Britse kolonialisme is hulle van my grootste helde. Natuurlik weet ek uit ANC toesprake in die parlement dat almal dit nie so sien nie. Maar baie van die ANC helde spreek my weer glad nie aan nie.
In ’n samelewing waar daar plek in die son vir almal is, moet daar juis plek wees vir diegene waarmee jy nie saamstem nie. Om albei te akkommodeer is juis die geheim.
In Durban het ons geslaag om Louis Botha se standbeeld te behou deur ’n standbeeld van die Zoeloekoning Dinizulu oorkant hom op te rig. Ek sou Bram Fischer as Afrikaner kommunis oorkant president Steyn op die Vrystaatkampus aanvaar, al verskil ek ernstig van Fischer se sienings.
Die huidige probleme van die Voortrekkermonument bevestig dat die Afrikaner sy eie toekoms sal moet skep en nie sy hoop op die regering kan plaas nie.
Vir fondsinsameling kan jy tans gedeeltes van die monument koop. Piet Retief en Andries Pretorius is twee hoekfigure by die monument.
Ek is geseënd met vyf kinders. As gesin het ons hierdie week saamgepoel en Retief se hoekfiguurstandbeeld gekoop. Retief het gewys dat hy ’n geweer kan hanteer. Tog staan hy met sy hand oor die loop en bek van die geweer. Vir my simboliseer dit sy benadering om nie eerste te skiet nie. Toe praat misluk, volg Bloedrivier en daarom ook die hoekfiguur van Pretorius.
Orals word standbeelde tans afgebreek. Die oorweldigende sukses van die monument-verkoop-projek stuur die teenoorgestelde boodskap. Ons vier en vestig eie standbeelde maar ons sê ook: “Ons laat ons nie eenkant toe uitskuif nie.”