PIETER MULDER, VOORSITTER VRYHEIDSFRONT

In die wˆreldwye debat oor minderheidsregte en selfbeskikking

is dit net in Suid-Afrika waar hierdie begrippe so ‘n swaar

regse en verkrampte beeld dra. Dit is jammer. Dit vertroebel

die huidige debat in Suid-Afrika en verwar alle deelnemers. In

ander lande word hierdie debat uit linkse en selfs

sosialistiese hoeke gevoer. Daarom kon die Arbeidersparty in

Brittanje aan Skotland ‘n eie parlement gee terwyl die

Konserwatiewe Tories dit nie kon doen nie. Daarom veg die

Koerde in Turkye vir selfbeskikking met ‘n politieke beweging

wat polities links en sosialisties is.

Die heftige debatte tussen Afrikaners in die tagtiger- en

negentigerjare is waarskynlik die belangrikste rede waarom

minderheidsregte en selfbeskikking in Suid-Afrika ‘n regse

beeld het. Dit was woedende gevegte tussen verlig en verkramp,

regs en links, NP en KP. As deel van daardie debatte het die

deelnemers en die media allerlei smeer-etikette aan mekaar

gehang. ‘n Hele geslag smeerskrywers en -politici het ontstaan

wat die Afrikanergeveg aan albei kante aan die gang gehou het.

Behalwe waar iemand nog oor en weer verwyte wil uitdeel oor

die verlede, is daardie Afrikanerdebat na 1994 nie meer ter

sake nie. Uit ‘n Afrikaner-oogpunt gesien, is alles nuut of

ten minste anders na 1994. Dit geld ook die indelings en

etikette wat ons voor 1994 aan mekaar gehang het. Ek en Max du

Preez moes onlangs in ‘n radio-debat met mekaar “veg” vir die

luisteraars se vermaak! Die dilemma was dat ons gesukkel het

om genoeg verskilpunte vir ‘n lekker debat te kry. Ek dink nie

ek of Max het ingrypend van standpunte verander nie, maar die

Afrikaner se probleme en die situasie het ingrypend verander.

Skielik ontdek ons dat ons op van die nuwe probleme, dieselfde

reageer. Gaan kyk watter Afrikaanssprekendes almal

entoesiasties saamwerk vir ‘n nuwe Afrikaanse Universiteit of

ontleed Breyten Breytenbach se onlangse standpunte oor

Afrikaans.

Die onlangse FAK-gesprek oor Afrikaans se toekoms was nog ‘n

voorbeeld hiervan. Verwarrende mediaberigte hieroor bevestig

hierdie punt. Joernaliste wat in Februarie 2000 na die gesprek

deur ‘n voor-1994 bril gekyk het, het moeilik verstaan wat

daar aangaan. Ou verligtes het skielik verkramp geklink en

verkramptes verlig. Daar was ook geen duidelike patroon

waarvolgens aan deelnemers politieke etikette volgens die ou

re‰ls toegeken kon word nie.

Die verwarring in die huidige Afrikanerdebat word veroorsaak

deur politieke kommentators, politici en akademici wat in

hulle denke, as gevolg van die ou Afrikanergevegte, “etiket-

gestrem” is. Hulle sien die huidige debat oor Afrikaans en die

Afrikaner deur die voor 1994 bril en wil alles steeds so

beoordeel. Die effek is dat jy vandag media-kommentators kry,

wat as baie verlig deurgegaan het voor 1994, maar wat tans

geen werklike bydrae tot die debat kan maak nie. Hulle

redeneer nog op grond van voor 1994 uitgangspunte en etikette.

Hierdie akademici en politici kry jy in alle huidige politieke

partye. Die jeug het nie hierdie probleem nie. Hulle ken nie

en verstaan nie die ou etikette nie. Hou ouer jy is, en in hoe

meer Afrikaner gevegte jy voor 1994 betrokke was, hoe

moeiliker skud jy die probleem van “etiket-gestremde” denke

af.

Vir ‘n sinvolle en realistiese debat moet ons ‘n nuwe indeling

maak. Dit is onafwendbaar dat mense weer etikette om ander sal

hang. My indeling sal wees tussen mense wat realisties is oor

die Afrikaner se posisie na 1994 en mense wat onwetend voor

1994 in hulle denke vasgehaak het.

Die wat vasgehaak het, sal nog ‘n tyd met ons wees, verwyte

slinger en boeke skryf sonder om enige werklike bydrae te

maak. Die ergste is dat sommige van hulle glo dat hulle op

grond van hulle 1994 verligtheid, tans nog kan leiding gee en

op die voorpunt van Afrikanerdenke is. Die nuwe werklikhede

haal hulle vinnig in en baie van hulle politiek korrekte

opmerkings maak nie meer sin nie.

Die mense wat werklik realisties is oor Afrikaans en die

Afrikaner se posisie na 1994, sal vorentoe die werklike debat

voer. In hierdie debat kom hulle onafwendbaar steeds meer by

minderheidsregte en moderne selfbeskikking in al sy vorme uit.

Hierdie begrippe word reeds as deel van alle gesofistikeerde

demokrasie‰ aanvaar.

Kom ons praat teen hierdie agtergrond onbevange oor

minderheidsregte en selfbeskikking. Nie oor selfsugtige

minderheidsregte en selfbeskikking wat die Afrikaner bo ander

wil verhef en glo dit is ‘n oplossing nie – dit is voor 1994

denke; Nie oor isolasie benaderings wat ‘n laer wil trek en

glo die Afrikaner kan so die werklikhede van Afrika waarvan hy

nie hou nie, ontvlug nie. Dit is oneerlik en eintlik net ‘n

dekmantel vir verskuilde apartheid. Moderne minderheidsregte

en selfbeskikking het niks met rassisme te doen nie maar is

nie bang om die werklikhede van etniese verskeidenheid aan te

spreek as deel van enige moderne demokratiese oplossing nie.

Daar is sulke haalbare oplossings vir Suid-Afrika.

Teen hierdie agtergrond is Pik Botha se ANC-aansluit-denke

outyds en is minderheidsregte verlig. Teen hierdie agtergrond

is Tony Leon verkramp met sy “veg-terug”-strategie, wat op die

kort termyn stemme werf, maar oor die langer termyn geen

oplossing vir die Afrikaner bied nie terwyl die FAK-gesprek

modern en toekomsgerig is.

Kom ons vergeet die ou etikette en voer hierdie toekomsdebat.