Dr. Pieter Mulder

6 Julie 2019

As jy ’n pynlike abses toeplak, word dit net erger. Die beste oplossing is om die abses oop te steek sodat al die gemors kan uitkom. Dan word dit gouer gesond. So het my ouma altyd advies gegee.

Die ANC glo duidelik nie in hierdie advies nie. Hulle plak hulle faksie-abses toe en beskerm dit.

Die afgelope week het die Parlement se Portefeuljekomitees met hulle nuwe voorsitters begin vergader.

Van hierdie nuwe voorsitters is onder andere Mosebenzi Zwane, Faith Muthambi, Bongani Bongo en Supra Mahumapelo. Baie ernstige korrupsie bewerings is reeds in die media en by die Zondo-kommissie oor hulle gemaak. Verder is dit bekend dat hulle as lojale Zuma-ondersteuners trots is op hulle bande met die Gupta-broers.

Hoe het hulle voorsitters geword?

Ace Magashule het hulle met gewetenlose brutaliteit op die ANC afgeforseer.

Die geveg rondom Magashule en sy faksie is nie ’n vriendelike politieke meningsverskil nie. Dit is ’n geveg tot die spreekwoordelike politieke dood waar die verloorders in die tronk kan eindig. Daarom durf Ace Magashule en sy faksie nie onderskat word nie.

Magashule se sondes is geleidelik besig om hom in te haal. Die boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s web of capture spel dit uit. Die Zondo-kommissie beweeg ook nader aan die Estina melk-skandaal.

Vir oorlewing gebruik Magashule dieselfde strategie as wat Zuma gebruik het. Hy kry persone lojaal aan hom in sleutelposisies. Dit sluit die voorsitterskap van parlementêre portefeuljekomitees in. Wanneer die aanklagte teen hom en sy faksie op die spits gedryf word, het hy lojale persone in sleutelposisies om hom te beskerm. Hulle moet seker maak die “regte” besluite word oor hom geneem.

Terwyl Ramaphosa die vorige week by die kabinet Lekgotla was, vlieg Magashule Kaap toe om hierdie Zuma-faksiename as nuwe portefeuljekomiteevoorsitters by die ANC koukus aan te kondig. Toe Ramaphosa daarvan hoor, het hy die aankondiging gestop. Volgens binne-inligting volg hierna ’n heftige argument tussen die ANC se top ses. As kompromie is hierdie name wel behou maar na ander portefeuljes verskuif. Teleurstellend dat niemand van die ANC se top ses die moed of insig het om die gevolge van hierdie kompromieë vir die ANC, maar ook vir Suid-Afrika, uit te spel nie.

Die Zondo-kommissie se finale verslag moet na die parlement gaan. So ’n verslag word dan na ’n Parlementêre portefeuljekomitee verwys. Hierdie komitee moet die verslag se aanbevelings aanvaar of verwerp.

Alles dui daarop dat baie negatiewe bevindings oor hierdie nuwe portefeuljevoorsitters gemaak gaan word. Wat ’n refleksie op die ANC leiers se swak oordeel dat hulle hierdie persone as voorsitters benoem het. Hierdie voorsitters kan ook nie self die aanbevelings oor hulle hanteer nie.

Die alternatief kan wees om ’n Parlementêre Ad Hoc-komitee aan te wys vir die Zondo-verslag se aanbevelings. As hierdie komitee sy werk reg doen, behoort die aanbevelings reguit na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys te word vir kriminele vervolging. Gaan die ANC bereid wees om dit te doen?

Dan volg uitgerekte hofsake waar een na die ander van die ANC se prominente portefeuljekomiteevoorsitters aangekla word. Dit kan jare duur. Met die plaaslike verkiesings op pad verseker dit ’n deurlopende verleentheid vir Ramaphosa en die ANC. So ’n deurlopend stinkende abses gaan alle aandag van Ramaphosa se drome en sy nuwe daeraad aftrek.

Politieke waarnemers het begrip getoon toe Ramaphosa van die Zuma-faksieleiers aanvanklik in die kabinet en in die ANC behou het. Dit was nodig vir ANC-eenheid met die oog op die verkiesing.

Daar is egter aanvaar dat hy na die verkiesing sal skoon maak, die abses sal oopsteek en van die korruptes ontslae gaan raak. Daarna sal hy sy volle aandag aan die ernstige landsprobleme gee. Met die aanwys van die nuwe portefeuljekomiteevoorsitters is presies die teenoorgestelde boodskap gestuur.

“Steek die abses oop en raak ontslae van die kwaad,” was ouma se advies. As Ramaphosa hierdie advies volg, is daar nog hoop. Anders gaan ons maar op die ou korrupte trant voortstrompel.