Dr Pieter Mulder voormalige Parlementslid

en Adjunk-Minister.

April 2019

Bruin- Indiër- en Wit ANC kandidate vir die 2019 verkiesing is die slagoffers van die stryd tussen die Ramaphosa en Zuma-faksies in die ANC. Meeste van hierdie kandidate, insluitende ministers en voorsitters van portefeuljekomitees, is so laag op die ANC kandidaatlyste geplaas dat dit die einde van hulle parlementêre loopbane is. Hulle sal nie tot die parlement herkies word nie.

Wantroue teenoor Bruin-, Indiër en Wit lede is niks nuuts in die ANC nie. Dit is ’n stryd wat oor jare kom tussen swart nasionaliste in die ANC en meer gematigde ANC-lede. Selfs Nelson Mandela was as jong ANC-jeuglid daarteen gekant dat Indiër, Bruin en Wit lede van die ANC saam aan betogings deelneem. Later jare het hy sy siening dat die ANC net suiwer swart moet bly, verander.

Met die stigting van die ANC-jeugliga in 1944 het jeugleiers soos Anton Lembede en AP Mda skaamteloos hulle wantroue teenoor Bruin, Asiër en Wit individue wat deel van die ANC stryd was, uitgespreek.” It is only African Nationalism or Africanism that can save the African people”, was Lembede se standpunt.

Die aanvaarding van die ANC se Vryheidsmanifes in 1955 was ’n ernstige terugslag vir hierdie swart nasionaliste.  In die Vryheidsmanifes se inleiding word gestel dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier bly, swart en wit. Die swart nasionaliste se beswaar teen hierdie sin is met ’n groot meerderheid deur die afgevaardigdes by die Kliptown-kongres verwerp.

Midde in die huidige 2019 magstryd tussen die Zuma- en Ramaphosa faksies in die ANC, lyk dit of hierdie veelrassige ideale vir eers op die agtergrond geskuif is.

Pravin Gorhan is een van die mees senior ANC ministers met ’n lang kabinetrekord. Die 34 huidige ministers is almal in gunstige posisies op die ANC kandidatelys geplaas. As jy na Pravin Gordhan op die ANC se kandidatelys soek, moet jy aflees tot by nommer 73. Dit moet vir hom ’n belediging wees om so laag op die lys te wees na alles wat hy reeds in sy loopbaan vir die ANC opgeoffer het.

Om die belediging te kan beoordeel moet Pravin Gordhan se posisie op die lys met van die ander ministers se posisies vergelyk word. Vergelyk byvoorbeeld die goeie posisies op die ANC kandidatelys van die omstrede Gupta-ministers:

Nomvula Mokonyane: Sy word betrek by verskeie skandale waaronder die toekenning van kontrakte vir die Lesotho Hoogland Waterprojek. Angelo Agrizzi beweer dat Mokonyane maandeliks R50 000 deur Bosasa betaal is om te help keer dat Bosasa deur die regsinstansies ondersoek word asook dat op haar versoek vier kaste whisky, 12 kaste hoender en ander kruideniersware elke Kersfees by haar huis afgelaai is. Sy is nommer 10 op die ANC kandidatelys vir die parlement.

Bathabile Dlamini: Die grondwethof bevind dat haar dom besluite verantwoordelik was daarvoor dat die staat se betaling van 17 miljoen welsynstoelae byna tot stilstand gekom het. Die hof het ook bevind dat sy onder eed gejok het en onbevoeg is vir haar werk. Vroeër in haar loopbaan is sy skuldig bevind aan bedrog ter waarde van R245 000 in die Travelgate-skandaal; Sy is nommer 14.

Malusi Gigaba: Die portefeulje komitee oor binnelandse sake het bevind dat Gigaba onwettig opgetree het toe hy gehelp het om Suid-Afrikaanse burgerskap aan lede van die Gupta-familie toe te ken. Behalwe vir sy berugte seksvideo het die Openbare Beskermer ook bevind dat Gigaba die grondwet oortree het asook die uitvoerende gesag se etiese kode deur onder eed te jok oor die Fireblade Aviation saak. Hy is nommer 23.

David Mahlobo: ’n Kommissie van ondersoek het bevind dat hy die grondwet, wetgewing en ander beleidsvoorskrifte oor staatsveiligheid geïgnoreer het en die land se intelligensiediens misbruik het om die belange van sekere individue en faksies in die ANC te dien. Hy is nommer 28.

Bongani Bonga: As ’n vurige ondersteuner van Zuma word hy as ’n onbekende agterbanker na drie jaar in die parlement minister van staatsveiligheid. Na net vier maande verlaat hy die pos terwyl die parlement bewerings teen hom ondersoek. Die bewerings is dat hy met omkoop probeer het om die Parlement se ondersoek na Eskom te kelder. Hy is nommer 41.

Collen Maine: As ANC jeugleier en vurige Zuma ondersteuner erken hy sy verbintenis met die Guptas. Na bewering het die Guptas R140 000 ’n maand betaal aan Maine se huis. Hy is nommer 47.

Supra Mahumapelo: Die omstrede premier van Noordwes is uit sy pos onthef na die chaos in Noordwes waardeur meeste dienste in die provinsie in duie gestort het. Hy is nommer 58.

In vergelyking met hierdie kandidate is Pravin Gordhan 73ste op die lys geplaas.

Dalk is dit Gordhan se ernstige uitsprake ten gunste van finansiële dissipline en teen korrupsie wat hom minder gewild by die algemene ANC lede maak, kan geredeneer word.

As dit waar is, behoort Tito Mboweni, minister van Finansies baie verder af as Gordhan op die lys te wees. Tito Mboweni se uitsprake oor finansiële dissipline is baie ernstiger en selfs wilder as Gordhan s’n. Tog is Mboweni nommer 22 op die lys.

Wat van die ander ministers van minderheidsgroepe soos die wit en bruin ministers in die kabinet? Tans is daar naas Pravin Gordhan net drie: Derek Hanekom, Minister van Toerisme; Rob Davis, Minister van Handel en Nywerheid en Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling.

Derek Hanekom het ook rede om gegrief te wees. Hy is ’n senior minister wat reeds in 1994 in Mandela se tyd Minister van landbou was. Hy is nou nommer 95 op die lys.

In die 2014 verkiesing het die ANC 62% steun gekry. Dit het beteken dat van die 200 kandidate op die ANC se nasionale lys tot by kandidaat nommer 127 op die lys tot die parlement verkies is. As nommer 95 op die lys mag Hanekom gegrief wees maar hy behoort verkies te word as die ANC tussen 55% en 60% steun kry soos die meningspeilings tans aandui.

Ebrahim Patel is nommer 137 op die lys wat hom onverkiesbaar maak terwyl Rob Davis glad nie die lys gehaal het nie.

Wat Adjunk-Ministers betref is Andries Nel, adjunk-minister van samewerkende regering nommer 117. As die ANC nie naby aan 60% steun in hierdie verkiesing kry nie, sal hy dit nie maak nie.

Enver Surty, adjunk-minister van basiese onderwys; Fatima Chohan, adjunk-minister van binnelandse sake; Gert Oosthuizen, adjunk-minister van sport en Luwellyn Landers, adjunk-minister van internasionale betrekkinge en samewerking het nie een die ANC se kandidatelyste gehaal nie.  Hulle is almal lede van minderheidsgroepe binne die ANC en gaan nie een terug parlement toe nie.

Dieselfde geld vir ANC voorsitters van portefeuljekomitees wat as lede van minderheidsgroepe beskryf kan word.

Yunus Carrim is ’n voormalige adjunk-minister en voorsitter van die Parlement se staande komitee oor finansies. Hy is nommer 148 wat beteken dat hy nie teruggaan parlement toe nie.

Dieselfde geld vir Francois Beukman. Hy is tans die ANC voorsitter van die Polisie Portefeuljekomitee en word as hardwerkend gesien. Van die 200 kandidate op die ANC se nasionale lys is hy nommer 198. Dit is ’n onverkiesbare posisie. 

Beteken dit die reënboog veelrassige droom van die ANC was net ’n oppervlakkige siening van die ANC wat onder druk verdwyn? Gaan Ramaphosa dit na die verkiesing probeer herstel of is die Malema tipe swart nasionalistiese benadering ons voorland?